Mielies sal daar wees, maar teen 'n prys
Mielies sal daar wees, maar teen 'n prys

Mielies sal daar wees, maar teen 'n prys

Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer - Plaaslike meulenaars se gevestigde verhouding met Suid-Afrikaanse mielieverskaffers en die lojale bande wat bestaan, plaas Namibië in 'n gunstige invoerposisie teenoor ander lande in die streek wat ook weens die droogte mielies sal moet invoer.
Mnr. Christoff Brock, hoof uitvoerende beampte van die Akkerbouraad, sê die situasie in Suid-Afrika en die impak van die droogte op mielieproduksie, is baie erg.
In 'n mediaverklaring na afloop van 'n Namibiese afvaardiging se besoek aan Bothaville in die Vrystaat vir Graan SA se onlangse graankonferensie, sê hy Suid-Afrika sal 1,1 miljoen ton mielies invoer om in sy behoeftes te voorsien, sowel as aan dié van lande soos Namibië waarheen gereeld uitgevoer word.
Die buurland produseer onder normale produksietoestande genoeg vir eie gebruik sowel as om uit te voer. Namibiese meulenaars koop jaarliks 'n redelike hoeveelheid witmielies by Suid-Afrika, terwyl lande soos Zambië en Malawi normaalweg nie nodig het om dit te doen nie. Vanjaar het hulle geen keuse nie.
Brock sê in die huidige omstandighede sal hulle selfs veel groter volumes as Namibiese meulenaars moet invoer. " Suid-Afrikaanse verskaffers sit nou met die situasie waar hulle moet prioritiseer en Namibië sal begunstig, al is die hoeveelheid wat uitgevoer gaan word, kleiner."
Hy sê die handel tussen Namibië en Suid-Afrika is só goed gevestig dat die proses uiters vaartbelyn is, wat nie met ander lande die geval is nie en gevolglik sekere uitdagings vir uitvoerders inhou.


135 000 ton ingevoer
Namibië verbou normaalweg ongeveer die helfte van die hoeveelheid witmielies wat vir binnelandse verbruik benodig word, naamlik 65 000 ton. Die verwagte opbrengs vanjaar sal 45 000 ton wees. Dit beteken pleks van die 85 000 ton witmielies wat tydens normale reënjare ingevoer word, moet Namibië vanjaar 135 000 ton invoer.
Brock gee egter die versekering dat die plaaslike meulenaarsbedryf vol vertroue is dat genoeg witmielies van Suid-Afrika af ingevoer sal kan word wanneer die 2016-opbrengs bemark is.
Hy sê daar is ook 'n wesentlike kans dat van die groter meulenaars witmielies direk van die wêreldmarkte via Walvisbaai sal invoer.
Volgens hom sal Namibië sonder twyfel altyd mieliemeel vir die eindverbruiker op winkelrakke beskikbaar hê. " Daar is nie baie lande in Afrika waar die voortdurende beskikbaarheid van mieliemeel gewaarborg kan word nie."
Waarvan verbruikers egter moet kennis neem, is dat die ekonomiese impak van die heersende mielie-scenario in Suider-Afrika op hul beursies deur 'n smorgasbord van invoer- en uitvoerprysformules beïnvloed word. Mielies verhandel op die wêreldmarkte in Amerikaanse dollar, en die wisselkoers is tans uiters ongunstig.
Normaalweg is Suid-Afrika se prys vir witmielies gegrond op uitvoerpariteit. Aangesien Suid-Afrika nou self moet invoer, moet hy sy uitvoerprys vir witmielies volgens 'n invoerpariteitsformule bereken, en dié prysverskil is aansienlik, sê Brock.
Hy was na die konferensie op Bothaville vergesel van me. Antoinette Venter, administratiewe hoof en bestuurder van witmielies en koring by die Akkerbouraad, asook dié raad se ondervoorsitter en voorsitter van die advieskomitee vir witmielies en koring, mnr. André Compion.

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer