Mielies: Te veel reën kan plantery rem

Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer – Sonder reën kan mielieboere nie plant nie, maar té veel reën hou hulle ook uit die lande.

Dit is tans die situasie in die mieliedriehoek tussen Otavi, Grootfontein en Tsumeb waar die grootste hoeveelheid droëlandverbouing gedoen word.

Mnr. Gernot Eggert, voorsitter van die Akkerbouprodusentevereniging (APV), sê voor die groot reën van die afgelope week het produsente “net hier en daar” al begin plant. “Die grootste gedeelte moet nog geplant word, maar dit hang af van wanneer ons in die lande kan kom.”

Hy sê die sanderige grond droog vinniger uit, maar landerye waar die klei-inhoud van die grond hoog is, bly lank nat. “As die lande te nat is, kan ons nie met die trekkers inkom om te begin plant nie.”

Hy sê ‘n paar boere het in goeie geloof “droog” geplant voor die eerste reën geval het, maar die oorgrote meerderheid moet nou eers plant.

“Ons kan tot einde Januarie plant ... As die seisoen laat is, dalk tot so die eerste week in Februarie. Maar daarna is dit te laat.”

In goeie reënseisoene word tot soveel as 12 000 hektaar mielies in dié gebied onder droëlandtoestande verbou, sê Eggert.

Hy sê dit is kritiek belangrik dat boere so vinnig as moontlik kans kry om klaar te plant. Té veel reën, sê hy, kan plantery in die wiele ry.

MAHANGU

In die noordelike kommunale gebiede (NCA) is kleinboere ook fluks besig om mahangu te plant.

Dr. Fidelis Mwazi, hoof uitvoerende beampte van die Akkerbouraad van Namibië (NAB), sê dit het genoeg gereën om vir ten minste die volgende vier weke ontkieming en groei moontlik te maak.

Hy sê as die reënverspreiding tot einde Maart goed is, kan Namibië baie goeie mahangu- en mielieoeste hê.

“Dit is nie goed as ’n klomp reën val en daarna is dit lank droog nie. Dit moet goed deur die seisoen versprei word,” sê Mwazi.

Hy sê Namibië se gemiddelde witmielie-verbruik die afgelope tien jaar, was 154 308 ton per jaar. Daarvan word net sowat 35% plaaslik verbou. Die res moet ingevoer word.

Die jaarlikse mahangu-verbruik in die formele mark beloop 4 558 ton per jaar, waarvan net 23% plaaslik verbou word, sê Mwazi.

Die NAB doen in Februarie en Maart oesvooruitskattings vir dié somergraangewasse, sê hy.

Intussen het hy produsente versoek om hul landerye goed dop te hou vir sprinkane en ander peste soos die herfskommandowurm en dadelik die ministerie van landbou, water en grondhervorming in kennis gestel indien hulle dit gewaar.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!