Mieme: uit, of in die mou?
Mieme: uit, of in die mou?

Mieme: uit, of in die mou?

Dani Booysen
Dapperrerige Daniëltjie hou nou al ‘n klompie jaar die aandaggrypers dop wat toenemend deel van mens se sosialemedialewe geword het.

Van daai wêreld mag veral joernaliste nie heeltemal ontsnap nie. Dalk is jy gelukkiger?

Ook moet mens met die gees van die tye bybly.

Waaroor ons dit hier het, is die verskynsel van mieme. Met ‘n “s” klink dit te veel soos iemand se ouma? Enkelvoud miem.

Op Ingils sê hulle “meme” en “memes”. Vir afleibare redes dink Daantjie daai spelling sal verwarrend en selfs disrespekvol hier in die land van die dapper dromers wees, al gebruik hulle dit in die koerant-Afrikaans suid van die Gariep.

In die Rooitaal klink die uitspraak soos “cream”, daarom giet ons hom in die patroon van “skiem”. (Die puriste met die stywetaalbolippe moet maar laat weet wat hulle dink.)

Mieme is die prentjies en/of video met spitsvondige teks en/of klankbane wat mense deesdae die hele planeet vol rondstuur. Of dit jou lewe versier, versuur of ontsier hang waarskynlik van jou persoonlikheid, voor- en afkeure af.

Oor die Bokke en rugby was daar byvoorbeeld baie. Ook oor Faf . . . En sedert Saterdag oor die Queen-goed se Rose.

“Meme” is ‘n stokou woord. In 1976 het Richard Dawkins dit geskep as term vir ‘n oordraagbare stukkie kultuurinligting, byvoorbeeld deur deuntjies, sêgoed, gelowe, modes, tradisie en dies meer. Die mieme plant hulself voort soos lewende wesens deur middel van gene doen en kan ook in groepe en netwerke funksioneer. Dawkins het kulturele evolusie bestudeer.

Die internetmiem word beskou as so ‘n geen wat sy eie, selfstandige lewe gekry het.

Die verband is onduidelik, maar mieme eggo tog ook ietsie van die Griekse mimiek as ‘n spel van of met gebare?

Dis nie heeltemal dieselfde as fopnuus nie, maar die grense kan vervaag. Gister sien die uwe byvoorbeeld ‘n snertseltjie dat Oom Harambee-goed gratis Wi-Fi vir almal gaan gee en die bierprys met 40% gaan verlaag as hy die verkiesings wen.

Mens moet versigtig wees, soos Pepe die padda jou sal leer. Agter die humor kan daar spot, sarkasme en absurditeit in sulke kunswerke se baie betekenislae skuil – en selfs rou vooroordele en gevare.

Mieme word daagliks uitgedink om soveel moontlik verkeer en geld te genereer.

Grumpy Cat (Kwaaikat?) was ‘n miemster wat in die hof US$1,7 miljoen teen ‘n vervaardiger van yskoffies gewen het. Kwaaikat se negende lewe het ongelukkig in Mei vanjaar uitgeloop.

Lekker kyk en geniet. Maar weet ook elke miem voer iets in die mou. So besluit watter jy uit die mou gaan laat, of liefs daarbinne hou.

Dapper is van plan om nog voor die einde van 2019 sy eerste, eie miem te maak. Dusver was die nodige tegnologie nog my baas.

Miem jou hier. Miem jou daar. En siedaar . . .

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!