Migrasiekrisis

Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer - Op 7 September verlede jaar het die wêreld met skok en afgryse gereageer op beeldmateriaal wat gewys het hoe die lewelose liggaam van die driejarige Siriese seuntjie, Aylan Kurdi, deur ’n polisiebeampte weggedra word nadat dit op ‘n strand in Turkye uitgespoel het.
Hy en sy boetie, Galip (5), het saam met hulle 35-jarige ma, Rehan, verdrink toe die gesin die Egeïese see tussen Turkye en Griekeland probeer oorsteek het. Abdoellah al-Koerdi moes sy vrou en twee kinders aan die donker water afstaan toe hy met hulle na ’n beter, veiliger lewe wou vlug.
Nou, sowat agt maande later, lyk dit nie of hierdie tragiese voorval die lot van die miljoene ontheemdes verander het nie. Inteendeel, talle ander migrante en vlugtelinge het ná dit ook hul lewe op see verloor.
Die wêreld beleef die grootste humanitêre krisis sedert die Tweede Wêreld­oorlog. Sowat 125 miljoen mense oral in die wêreld benodig bystand om te kan oorleef. Die getal ontheemde mense, naamlik 60 miljoen, is byna dubbel soveel as ’n dekade gelede.
Dié getalle vertel die verhaal van die menslike lyding wat veroorsaak word deur die toename in gewelddadige konflikte soos dié in Sirië, en die wêreld se oënskynlike onvermoë om die situasie te hanteer.
Sowat 80% van mense wat in nood verkeer, is die slagoffers van konflik in hul lande van herkoms.

Doel van beraad
Die beraad word deur die VN se sekretaris-generaal, mnr. Ban Ki-moon, in samewerking met die Turkse regering aangebied. Wêreldleiers sal saam met die geraakte gemeenskappe, nie-regeringsorganisasies, die private sektor en ander belanghebbendes na oplossings soek – enersyds om die onmiddellike uitdagings te hanteer, maar ook om langtermynplanne te beraam.
Die Turkse ambassade in Windhoek sê in ’n verklaring dié land is bekend daarvoor dat dit bystand verleen aan diegene in nood en daarom is dit gepas dat die beraad daar aangebied word.
“Turkye huisves meer as drie miljoen vlugtelinge uit naburige lande wat in wanhoop verkeer. Deur hulle lyding dus van naby te beleef, kon ons intiem vasstel waardeur hulle gaan.
“Aangesien geen land immuun is teen humanitêre krisisse nie, is die wyse waarop opgetree word nie net ’n internasionale verantwoordelikheid nie, maar ook die wêreld se morele plig,” lui die verklaring.

Ban Ki-moon
Die VN se sekretaris-generaal het in Februarie vanjaar in ’n verslag getiteld “One Humanity: Shared ­Responsibility” oor die naderende beraad gesê die wêreld staar “diepgaande, dringende en ­groeiende globale uitdagings” in die gesig.
“Wreedaardige en oënskynlik onregeerbare konflikte verwoes die lewens van miljoene mense en destabiliseer streke. Gewelddadige ekstremisme, terrorisme en transnasionale misdaad skep voortdurende onstabiliteit.
“Die groeiende gaping tussen ryk en arm lei tot die marginalisering en vervreemding van die mees kwesbare mense in die samelewing. Verder het klimaatverandering ’n wesentlike impak deurdat storms, vloede en droogtes meer gereeld voorkom.”
Ban het verder gesê die nood neem rekordafmetings aan, maar die politieke oplossings bly dié in nood ontwyk.
“Vandag se komplekse uitdagings steek grense oor en oorskry die vermoëns van individuele land en instellings om dit op te los. Ons moet vertroue in die globale wêreldorde en in die vermoëns van ons nasionale en streekinstellings herstel om hierdie uitdagings die hoof te bied,” sê hy.
“Ons moet aan die miljoene mense wat in chroniese nood en met konstante vrees in konflikgereisterde lande leef, die solidariteit betoon wat hulle verdien.” Verder, sê hy, beteken die dringendheid van die uitdagings en die skaal van die lyding dat die wêreld sy gedeelde verantwoordelikheid moet aanvaar, en beslissend en met deernis moet optree.
“Die Wêreld Humanitêre Beraad is die plek waar ons byeen moet kom en ons verbintenis tot mens­likheid, asook die eenheid en samewerking te hernu wat nodig is om ’n einde aan hierdie krisis te bring.”
Volgens die VN se sekretaris-generaal moet die wêreld seker maak dat niemand in konflik, chroniese armoede en met die risiko van natuurrampe leef nie.
“Dit is waarom ek lande en hul leiers vra om die verbintenis uit te leef. Dit is moreel en strategies noodsaaklik dat ons dit doen,” het hy gesê.
“Mense in nood vra wat ons almal vra: Veiligheid, waardigheid en die geleentheid om vooruitstrewend te wees.”
In sy verslag spel hy die agenda vir menslikheid uit, met vyf verantwoordelikhede wat deur die wêreld aangegryp moet word:
• Leiers moet hul verantwoordelikheid aanvaar om konflik te voorkom en te beëndig. Hulle moet hulle met groter ywer verbind tot politieke oplossings wat bloedvergieting en lyding voorkom;
• lande moet hul verantwoordelikheid om die norme en standaarde wat menslikheid waarborg, herbevestig en menseregte eerbiedig;
• derdens moet niemand hiervan uitgesluit wees of agterweë gelaat word nie;
• vierdens moet mense se lewens verander word deur weg te beweeg van ’n stelsel van hulpverlening, na een waar nood voorkom word; en
• laastens moet die wêreld belê in sy mense deur kapasiteit te verbeter, risiko’s te verminder en doeltreffende en inklusiewe instellings te vestig.
“Kom ons maak dié beraad die keerpunt waar ons ons verbind om die mens, en mens­like optrede, die sleutel van alle besluitneming te maak en waar ons konkrete planne formuleer om ’n einde aan die lyding te bring,” het Ban ten slotte gesê.
In ’n neutedop
Meer as ’n miljoen vlugtelinge en migrante het die Europese Unie (EU) in 2015 binnegestroom en ’n ongekende krisis vir lande veroorsaak.
Buiten dat regerings moes bontstaan om die instroming van mense te hanteer, het dit ook tot groot spanning tussen lidlande gelei oor hoe om dié hervestiging die beste te hanteer.
Die meeste van die migrante het die Middellandse See as toegangsroete gebruik, maar groot getalle mense het ook deur Turkye en Albanië na Europa gevlug.
Toe die winter aanbreek, het die instroming stadigaan afgeneen. Volgens die Verenigde Nasies se Hoë Kommissaris vir Vlugtelinge (UNHCR) het 135 711 mense Europa nietemin teen die begin van 2016 per see bereik.
Die oorlog in Sirië is steeds die grootste oorsaak waarom duisende vlugtelinge elders ’n heenkome gaan soek, terwyl die voortslepende geweld in Afghanistan en Irak, menseregtevergrype in Eritria en armoede in Kosovo ook tot die migrasiekrisis bydra.
Die Internasionale Organisasie vir Migrasie (IOM) beraam dat meer as 1 011 700 migrante in 2015 per seeroete in Europa aangekom het, terwyl 34 900 mense oor land daarheen gestroom het.
In 2014 het die totale getal (oor land en seelangs) 280 000 beloop. Dit sluit nie die aantal migrante in wat die gebied onopgemerk binnegekom het nie.
Die EU se eksterne grensmag, Frontex, monitor die getalle en verskillende roetes wat migrante gebruik en sê weer die getal vir 2015 beloop meer as 1 800 000.
Die meeste het die betreklik kort seeroete van Turkye na die Griekse eilande Kos, Chios, Lesvos en Samos gebruik, dikwels in onveilige rubberbootjies.
Volgens die IOM het meer as 3 770 migrante verlede jaar omgekom terwyl hulle die Middellandse See probeer oorsteek het.
Die meeste het beswyk toe hulle uit Noord-Afrika na Italië probeer vlug het terwyl meer as 800 tussen Turkye en Griekeland op see gesterf het.
Die dodelikste maand verlede jaar was April toe ’n boot met 800 migrante aan boord naby die kus van Libië omgeslaan en hulle verdrink het.

Hoe het Europa gereageer?
Betrekkinge het tussen die lidlande versleg omdat sommige lande veel erger as ander geraak is.
Die meeste migrante het na Griekeland, Italië en Hongarye gestroom.
In September 2015 het die meerderheid EU-ministers gestem dat 160 000 vlugtelinge oral in Europa geakommodeer word, maar vir eers sal die plan net van toepassing wees op vlugtelinge wat hulle in Italië en Griekeland bevind.
’n Verdere 54 000 sal volgens die ooreenkoms uit Hongerye gerepatrieer word, maar dié land se regering het die plan verwerp.
Brittanje het nie tot die kwotaplan ingestem nie, maar nagenoeg 1 000 Siriese vlugtelinge is wel as deel van die Verskuiwingskema vir Kwesbare Mense daar hervestig.
Eerste minister Davind Cameron het gesê Brittanje sal oor die volgende vyf jaar 20 000 Siriese vlugtelinge inneem.

Hoeveel asielaansoeke is goedgekeur?
Hoewel die migrante in groot getalle om asiel aansoek gedoen het, is net sowat ’n kwart van die aansoeke toegestaan.
Die EU het in 2015 asiel verleen aan 292 540 vlugtelinge, terwyl meer as ’n miljoen migrante hiervoor aansoek gedoen het.
Hoewel dit ’n uitgerekte proses is om om asiel aansoek te doen, het baie van die aansoekers aan wie in 2015 asiel verleen is, reeds in vorige jare daarom aansoek gesoek.
Dit beteken ’n groot agterstand in die verwerking van letterlik honderde duisend aansoeke bestaan.
Bron: Eurostat/BBC

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!