Mikiros neem die voortou

Met haar jongste kortfliek weerspieël Mikiros Garoës die humor in Namibiese verhoudings.
Augetto Graig
Sy is tenger en kort, met 'n glimlag blink en breed genoeg om met die son mee te ding.

Mikiros Garoës se passie, hart en vele talente is net so groot. Dié Namibiese sanger, aktrise en rolprentmaker is soms groter as die lewe self, maar in gesprek in die sitkamer van haar ma se huis, is sy so plat op die aarde soos kan kom.

Die teenstrydighede eindig nie daar nie, en word weerspieël in haar persoonlikheid en vreeslose benadering tot die lewe.

“Die lewe van ? kunstenaar is oor die algemeen baie uitdagend. Jy volg ? ander pad - met minder stabiliteit en dikwels minder geld - en dit is moeilik om daarby te hou. Jy benodig senuwees van staal,” sê sy.

Mikiros se jongste onafhanklike en selfgemaakte kortfliek, The Date, is aan die begin van Junie by die Kunstekollege (Cota) in die hoofstad vertoon. 'n Tweede vertoning word Vrydag 21 Junie by die Warehouse-teater in Windhoek gehou. Dié humoristiese fliek beeld die “gekheid in verhoudings” in hedendaagse Namibië uit.

Nog 'n talentvolle Namibiese aktrise, Hazel Hinda, vertolk die hoofrol in die fliek. Daarin is sy een van drie plaaslike vroue wat in die gemors van Windhoek se liefdesrommel elk hul eie diamant soek.

The Date volg op laas jaar se kortflieks Chommies, wat by die Durban-rolprentfees vertoon is, en Taxi in Windhoek.

Chommies is deur die Namibiese rolprentkommissie en die Suid-Afrikaanse Nasionale Film en Video-stigting gefinansier. Vir The Date het als uit haar eie sak gekom.

Mikiros is geen vreemdeling wat betref die voortou neem nie. Sy was altyd maar “ietwat van 'n uitsondering”.

“Ek is 'n DDR-kind, gebore in 1984” vertel sy oor haar jeug.

“Ons was in die jonger groepe, weggeneem na die eerste ouer kinders in 1979, 1980, weens Cassinga. My ma sê ek was amper vier toe ek Duitsland toe gegaan het. Ek het as 'n mini-Duitser grootgeword.

“Toe ons terugkom, was dit na 'n vreemde land en ons moes leer aanpas. Ek kon byvoorbeeld net Duits praat en my hele familie moes bontstaan. Dit was so snaaks om te sien hoe hulle met my probeer kommunikeer.”

Haar skoolloopbaan by Emma Hoogenhout en Delta, het haar lewendige verbeelding en liefde vir skryf­­­­ verder ontwikkel.

“Op hoërskool, eers by die Deutsche Höhere Privatschule en toe by die Windhoek Internasionale Skool, het ek ekstra hulp nodig gehad. Ek het baie by die famlie Huebschle se huis gaan kuier vir hulp met my huiswerk,” vertel sy.

Terloops, die jonge Tim Huebschle met wie sy daar bevriend geraak het, is vandag een van Namibië se vooraanstaande rolprentregisseurs.

“Hoërskool was skreeusnaaks en wonderlik. Ek het uitgeblink in die kunste en kreatiewe skryfwerk, veral die vertel van verhale. In 'n stadium het ek die eerste prys in die Engelsmondeling-kompetisie gewen. Ek was maar 'n gemiddelde student, maar ek het dit als geniet,” sê Mikiros.

“Ek het begin Engels leer deur films en televisie te kyk, en dit is hoe dit als begin het,” sê Mikiros. “Teen die tyd wat ek tien jaar oud was, het ek al die woorde in Coming to America uit my kop geken, selfs die vloekwoorde,” sê sy.

Van herinneringe oor Duitsland is daar maar min oor.

“Ek kry terugflitse; soms ruik ek iets bekend wat ek weet ek nooit tevore in my volwasse lewe teëgekom het nie. Van die vlug terug kan ek onthou dit was propvol. Daar was 'n vrou, Monica, wat ons vergesel het. Ek was so verward, ek het gedink sy is my ma.

“Ek onthou hulle het met ons na my huis toe gery en daar het ek weer vir die eerste keer my ma en pa gesien. Ons het onmiddellik uitstekend oor die weg gekom,” vertel sy.

Van haar bekende pa, mnr. Moses Garoeb, het Mikiros baie liefdevolle herinneringe.

“Hy was die manlike weergawe van my - baie snaaks, baie omstrede. Hy was vrygewig en 'n familieman wat vir ure sou verdwyn in die strate van Katutura waar hy met 'n ieder en elk 'n gesprek sou ­aanknoop,” onthou sy. “Hy was werklik 'n mense-mens. Hy het ook baie gereis, en by die huis was hy die grootste poetsbakker.

“Ons het bangmaakflieks baie geniet. Ek onthou een aand het ons na 'n Freddy Kruger-fliek gekyk. Ek het daarna gaan slaap. Hy het by die kamer ingekom en my aan die skouers gegryp. Ek het gillend wakker geskrik en hy het gelag: 'Jy het gedink ek is Freddy Kruger, nè? Gaan slaap nou weer'.

“Miskien is dit hoekom ek is hoe ek is - net 'n groot kind,” sê Mikiros.

“Sy liefde vir films het 'n groot invloed op my gehad. Hy was veral lief vir klassieke 1920's- en 1930's-flieks uit Hollywood. Ons het baie saam gekyk. Ook sy liefde vir musiek het ek geërf. Hy het lank in Amerika studeer en met 'n voorliefde vir jazz, blues, Afrika- en Amerikaanse musiek teruggekom,” vertel Mikiros.

Ná skool het sy vir 'n jaar “rigtingloos geswerf”, met net die kennis dat sy iets kreatief met haar lewe wou doen.

Ná die dood van haar pa in 1997 is sy deur nóg 'n tragedie. Haar suster Ipula is deur 'n skoolvriend vermoor en Mikiros moes in die uitgerekte verhoor getuig. “Ons was almal vriende met die persoon wat haar doodgemaak het,” sê sy.

“Ek het Engeland toe getrek. Ek moes net wegkom.”

In Engeland het sy hier en daar opgetree terwyl sy tussendeur kroegwerk gedoen het. “Ek het net in die kroeg gewerk en my lewe gelewe, niks ernstig nie,” sê sy.

Daarna het sy vir 'n ruk in Namibië gebly waarna sy in 2006 Los Angeles toe is.

“Ek het by die Musicians Institute (MI) studeer, reg in die middel van Hollywood Boulevard,” vertel sy met 'n glans in haar oë.

Daar het sy musiekproduksie, musiekingenieurswese, teorie, geskiedenis en stemwerk studeer. Sy het mettertyd by 'n reggae-orkes aangesluit en in Los Angeles begin toer. “Ek het later my eie rock- en R&B-orkes saamgestel: Kids on McCadden,” vertel sy. Kids on McCadden se laaste musiekvideo, Slyfoot, is al meer as 3 000 keer gekyk sedert dit twee jaar gelede op YouTube gelaai is.

“Op 'n dag stap ek by 'n akteurskool in en ná 'n jaar van klasloop besluit ek dit is wat ek wil doen. Dit is waar ek as aktrise en filmmaker begin het.

“Ek het nog klasse by die gesogte Ivana Chubbuck-akteurskool geloop. Ivana het ook vir Charlize Theron opgelei. Dit was harde, kern-rolspel. Die klasse was duur, maar die kroegwerk het voorsien. Tussen klas en werk het ek plekke besoek waar improvisasie en komedie aangebied is,” sê sy.

“L.A. is baie uitdagend. 'n Mens moet werk terwyl jy jou drome probeer bewaarheid. Dit gaan oor oorlewing. Ek was dikwels baie na aan huisloos. Dit is wel 'n uitdaging waaroor ek dankbaar is. Die druk van klasse, in 'n orkes wees en als, kan te veel wees vir een mens se skouers. Die oudisies kan 'n mens sielkundig beskadig, maar vandag voel ek vreesloos in my bedryf en lewe,” sê sy.

“Dit was moeilik om oudisies te kry. Saans was dit werk en oudisies deur die dag. 'n Mens moet 'n dik vel ontwikkel. Jy is nooit presies reg nie. Maar ek glo sterk daarin dat jy jou eie weg moet skep.

“Toe begin ek met Instagram parodieë en internetbrokkies skiet. En kort voor lank maak jy jou sesde kortfliek, al is dit met jou foon gedoen, en jy leer om dit self te redigeer,” sê sy.

“Ek het teruggetrek Namibië toe om flieks te kom maak. Laas jaar was ek Suid-Afrika toe om Chommies saam met die NFC en SA se NFVF te maak. Hulle het ons deur die hele proses gevat van self films vervaardig. Chommies is 'n kort komedie met die Suid-Afrikaanse ster Nandi Nyembe. Ek het self haar nommer uitgevind en haar gebel oor die rol,” vertel Mikiros.

Deelnemers aan die projek kon ook vir Adze Ugah, die regisseur van die Suid-Afrikaanse televisiereeks Isibaya, op die stel volg.

“Televisie is woes. Die dringendheid, die nodige tydsberekening, was wel als baie opvoedkundig,” sê Mikiros.

Chommies was die enigste Namibiese rolprent wat by die Durban-filmfees en in Ster Kinekor- teaters in Johannesburg vertoon is.

Terug in Namibië was sy drie maande by Base FM toe sy vir Hinda leer ken het en dié vir die hoofrol in The Date gekies is.

“Ek het onmiddellik vir die filmprojek begin voorberei. Die draaiboek was reeds geskryf, en dit was toe net 'n kwessie van dóén dit.”

Wat Mikiros doen.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!