Miljardêr vir bykans N$1,3 miljard gedagvaar
Benewens ’n moordsaak in Namibië, moet die Britse miljardêr van Kamanjab hom ook in Engeland teen ’n groot siviele eis verweer.
Ronelle Rademeyer - Terwyl die Britse miljardêr, mnr. Harvey Eric Boulter (51), op ’n beslissing van die Namibiese aanklaer-generaal wag oor sy vervolging op moord- en ander klagte, staar hy nou ook in sy geboorteland ’n hofgeding in die gesig.
Dit volg nadat daar op 29 Julie vanjaar in die hooggeregshof in Engeland ’n reuse-eissaak teen hom aanhangig gemaak is.
Die likwidateur van ’n bankrot mediese maatskappy in Brittanje wat aan Boulter behoort, eis bykans £64 miljoen (N$1,3 miljard) van hom.
Die likwidateur van Enigma Diagnostic Limited, wat diagnostiese mediese tegnologie teen biologiese oorlogvoering ontwikkel het, beskuldig die internasionale regsfirma, DLA Piper, dat hy strydig met die reëls van die prokureursreguleringsowerheid in Engeland, beleggers se geld direk aan Boulter pleks van die maatskappy oorbetaal het.
Boulter het sedert 2000 as voorsitter en uitvoerende hoof van die waagkapitaalgroep, Porton Group, verskeie vennootskappe met regeringslaboratoriums soos Brittanje se Defense Science and Technology Laboratory aangegaan.
Waagkapitaal is bekom om tegnologie wat vir militêre doeleindes ontwikkel is, terselfdertyd ook kommersieel aan te wend. Enigma Diagnostics was een van dié kommersiële maatskappye, blyk dit uit die 2007-’08-jaarverslag van die Defense Science and Technology Laboratory.
Volgens www.law360.com, ’n Britse webblad oor regskwessies en litigasie, word in die hofstukke aangevoer beleggers was onder die indruk dat geld wat in DLA Piper se trustrekening betaal word, gebruik sou word om navorsing wat deur Enigma Diagnostics gedoen is, te finansier. Die grootste deel van die geld is egter aan Boulter en sy medewerkers oorbetaal, lui die stukke.
Die saaknommer van die eissaak van Enigma Diagnostic teen Boulter en ander, is BL-2021-001208.
Die kern van dié geding is ’n beleggingskema wat ingestel is om Enigma Diagnostics finansieel veilig te hou, berig law360.org.
In die hofstukke word aangevoer die maatskappy was vir die grootste deel van sy bestaan by navorsing en ontwikkeling betrokke, eerder as by produkverkope. Dit blyk verder Enigma Diagnostics, wat in 2017 gelikwideer is, het voortdurende verliese gely – soms meer as £10 miljoen (sowat N$202 miljoen).
“Enigma was afhanklik van ’n konstante stroom finansiering van beleggers om homself aan die gang te hou,” lui die stukke.
Enigma Diagnostics en die Porton-groep het potensiële beleggers geteiken vir kapitaal om Enigma aan die gang te hou. ’n Aansoekvorm is aan potensiële beleggers gestuur met DLA Piper se kenteken daarop. Dié regsfirma was beide maatskappye se regsverteenwoordiger.
Beleggers is genooi om aandele in Enigma Diagnostics te koop, op grond daarvan dat sodra die aandele aan Enigma betaal is, dit deur Porton as die genomineerde belegger gehou sou word. Volgens die stukke is beleggers versoek om die geld na ’n DLA Piper-kliënterekening by die NatWest-bank oor te betaal.
Tussen 2006 en 2015 het beleggers nagenoeg £106 miljoen (N$2,14 miljard) se aandele in Enigma Diagnostics bekom, maar slegs £42 miljoen (N$846 miljoen) daarvan het wel die maatskappy bereik. Die res het volgens die hofstukke na Boulter en sy medewerkers gevloei.
MOORDSAAK
Intussen het Boulter weer Vrydag in die landdroshof op Outjo verskyn vir die vermeende moord op sy plaasbestuur, mnr. Gerhard van Wyk. Hy ontken skuld op al vier die aanklagte teen hom.
Laasgenoemde is dood ná ’n skietvoorval op 27 Februarie vanjaar om ’n braaivleisvuur op Boulter se wildplaas, Kaross. Dit is naby Kamanjab.
Sy verhoor is tot 11 Januarie aanstaande jaar uitgestel in afwagting van ’n beslissing deur die aanklaer-generaal oor sy vervolging.
Hy word in dié strafsaak deur mnr. Kadhila Amoomo verteenwoordig. Die is nie bekend wie hom in die eissaak in Engeland verteenwoordig nie. –[email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie