Miljoene kinders se toekoms duister

Sowat 24% van Namibiese kinders onder die ouderdom van vyf jaar is ondervoed.
Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht - Sowat 34% van die land se kinders leef in armoede.

Dít volgens die Kinderarmoedeverslag van 2012.

Armoede is veral duidelik sigbaar uit die hoë vlakke van vertraagde groei en wanvoeding. Sowat 24% van Namibiese kinders onder die ouderdom van vyf word hierdeur geraak.

Namibië het gister saam met die res van die wêreld Kinderregtedag gevier en, hoewel die land vooruitgang gemaak het op dié gebied, is daar steeds reusestruikelblokke wat die jonger geslag se vooruitgang kortwiek.

Volgens me. Rachel Odede, verteenwoordiger van die Verenigde Nasies se Kinderfonds (Unicef) in Namibië, maak dié struikelblokke kinders “onsigbaar” en lei dit daartoe dat hulle nie as gelyke burgers in hul geboorteland erken word nie.

Dit is veral van toepassing op kinders uit weerlose huishoudings.

Volgens ’n ontleding van Unicef leef een uit 12 kinders wêreldwyd, ten spyte van wêreldwye vooruitgang, in lande waar hul toekoms vandag donkerder is as dié van hul ouers dekades gelede.

Sowat 180 miljoen kinders in 37 lande leef meestal in uiterste armoede, gaan nie skool nie en die kans is goed dat hulle ’n gewelddadige dood sal sterf.

“Terwyl die laaste geslag groot, ongekende vooruitgang in lewenstandaarde vir die meeste van die wêreld se kinders gesien het, word ’n vergete minderheid kinders hiervan uitgesluit. Die feit dat dit nie hulle of hul families se skuld is nie, is ’n skande,” het Unicef se direkteur van data, navorsing en beleid in New York gesê.

Volgens Unicef het die aantal mense wat op minder as US$1,90 per dag oorleef in 14 lande gestyg. Dié lande sluit Benin, Kameroen, Madagaskar, Zambië en Zimbabwe in. Dié styging is grootliks aan onrus, konflik of swak bestuur te wyte.

Inskrywings by laerskole het in 21 lande, ingesluit Sirië en Tanzanië, weens faktore soos finansiële krisisse, versnelde bevolkingsgroei en die impak van konflik afgeneem.

Gewelddadige sterftes onder kinders onder die ouderdom van 19 jaar het in sewe lande toegeneem. Dit sluit die Sentraal-Afrikaanse Republiek, Irak, Libië, Suid-Soedan, Sirië, Oekraïne en Jemen in - almal lande wat grootskaalse konflik ervaar.

Nog ’n opname in 14 lande, wat fokus op kinders tussen nege en 18 jaar, wys kinders is baie bekommerd oor wêreldwye kwessies wat hul portuurgroep en hulself raak.

Dit sluit geweld, terrorisme, konflik, klimaatsverandering, die onregverdige behandeling van vlugtelinge en migrante, asook armoede in.

Volgens dié verslag beskryf die helfte van kinders in 14 lande hulself as magteloos wanneer dit by besluite kom wat kinders dwarsoor die wêreld raak.

Kinders in Suid-Afrika (73%) en Brittanje (71%) ervaar dié gevoel die meeste en sê hul stemme word glad nie gehoor nie, terwyl hul menings in elk geval geen verandering bring nie.

In Indië voel 52% van kinders egter hulle word gehoor, hulle kan ’n verskil in hul land maak en hul menings kan die toekoms van hul geboorteland beïnvloed.

In al 14 lande het kinders terrorisme, swak onderwys en armoede as die grootste kwessies uitgesonder wat hulle wil hê wêreldleiers moet takel.

Geweld teen kinders was hul grootste bekommernis. Sowat 67% van kinders bekommer hulle die meeste hieroor.

In Brasilië, Nigerië en Mexiko was kinders se grootste bekommernis geweld wat kinders raak. Japan se kinders was dié wat die minste rede tot kommer gehad het.

Veral kinders in Turkye en Egipte het terrorisme en swak onderwys uitgesonder as kwessies waaroor hulle die meeste bekommerd was.

In teenstelling hiermee is terrorisme onder kinders in Nederland dié kwessie waaroor hulle die minste bekommerd was.

Vir kinders in Brasilië en Nigerië was swak onderwys of ’n gebrek aan toegang tot onderrig hul grootste kopseer.

Byna die helfte van kinders (45%) in lande wat aan die opname deelgeneem het, vertrou nie volwassenes en wêreldleiers om goeie besluite namens hulle te neem nie.

Dit is veral in Brasilië (81%) en Suid-Afrika (69%) die geval. In Indië voel kinders egter die teendeel.

Barack Obama, Cristiano Ronaldo, Justin Bieber en Taylor Swift is die gewildste name op kinders se uitnodigingslys vir ’n verjaardagpartytjie. Obama is onder die topvyf in nege uit die 14 lande. Om televisie te kyk is die gunstelingtydverdryf in sewe uit die 14 lande.

Namibië het Kinderregtedag vanjaar op Swakopmund saam met sowat 30 meisies en seuns tussen 12 en 18 jaar uit verskeie plaaslike skole gevier.

Die kinders het onder meer aan en radio- en televisieprogramme deelgeneem en ook artikels vir koerante geskryf.

Volgens me. Paulina Ndahafa Nashilundo, die kusdorp se burgemeester, is dié kinders ’n geslag wat onder die beskerming van die Konvensie vir die Regte van Kinders gebore is.

“Dit is daarom ons plig om dié konvensie te implementeer deur hulle in te sluit en te luister na wat hulle sê,” het Nashilundo beklemtoon.

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!