Miljoene rol vir vraestelle, toesig
Miljoene rol vir vraestelle, toesig

Miljoene rol vir vraestelle, toesig

‘Gratis onderwys onthef nie ouers’
Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht

Vanjaar se graad 10- en 12-eksamens gaan die regering meer as N$34 miljoen uit die sak jaag.

Dit sluit N$9,5 miljoen vir die druk van vanjaar se vraestelle, sowel as N$24,6 miljoen vir deeltydse nasieners en toesighouers in. Vanjaar het 115 304 kandidate geregistreer vir die eksamens en wat 50 012 graad 10- en 65 863 graad 12-leerlinge insluit.

Dit, sê die minister van onderwys, kuns en kultuur, me. Hanse-Himarwa, spreek boekdele van die regering se toewyding tot die onderrig van die Namibiese kind.

“As ons sê ons gee om, bedoel ons dit.”

Sy het tydens ’n bespreking in die Nasionale Vergadering gesê die grootste struikelblok in die opname van weerlose kinders in skole kan toegeskryf word aan die hoë direkte koste om ’n kind skool toe te stuur.

“Baie ouers vind dit oordadig en duur.”

Volgens haar het gratis primêre en sekondêre onderrig egter gehelp om dit uit die weg te ruim, terwyl die ver­skaffing van gratis hand- en skryfboeke aan leerlinge in staatskole ’n doeltreffende manier is om die koste van skoolopleiding in Namibië te verlaag.

“Die instelling van universele primêre en sekondêre onderwys is ’n groot stap in die verwesenliking van doelwit vier van die volhoubare ontwikkelingsdoelwitte van die Verenigde Nasies.”

Sy het egter gemaan dat gratis onderwys geensins ouers daarvan kwytskeld om skole geldelik of op ander maniere by te staan nie.

Die minister het die ministerie se beleid vir inklusiewe onderwys benadruk en gesê dit het op kinders van die San- en Himba-gemeen­skappe asook dié van plaaswerkers, kinders in afgeleë landelike gebiede en plakkerskampe, straatkinders, sowel as kinders met fisieke of geestelike gebreke betrekking.

“Dié beleid verseker dat alle kinders, ongeag hul vaardighede, toegang tot onderrig moet hê. Dit is ook waarom die regering die bou van skoolgeboue voorskryf wat vir gestremdes toegank­lik is.”

Volgens Hanse-Himarwa is daar steeds skole wat lewensvaardighede as ’n vak nie ernstig opneem nie.

“Dit is nie genoeg vir ons kinders om net die inhoud van vakke, sonder werklike lewensvaardighede, te leer nie.”

Sy het verwys na tieners wat op skool swanger raak wat na afloop van hul swangerskap met hul onderwysloopbaan kan voortgaan. Volgens haar verseker dit voortgesette en ingeslote verskaffing van onderrig. Die minister het voorts verwys na die ministerie se benadering wat op die leerling fokus en wat onderwysers in staat stel om leerlinge se behoeftes, belangstellings en vaardighede in hul onderrig in ag te neem.

Die verbod op lyfstraf skep ook ’n “positiewe houding” tot onderrig. Hanse-Hirma het die leerling se rol in besluitneming beklemtoon en gesê dit word deur die verkiesing van klasverteenwoordigers sowel as leerlingrade ondersteun.

“Die regering laat leerlinge toe om ’n bydrae tot die bestuur van die land te maak en wel deur middel van die vestiging van ’n kinderparlement en junior stadsrade waar hulle aangeleenthede kan bespreek wat leerlinge­ op akademiese sowel as maatskaplike vlak raak.”

Met verwysing na voedselprogramme by skole het Hanse-Himarwa erken dit is moontlik nie ten alle tye “doeltreffend” by alle skole en streke nie, maar is “pogings met goeie bedoelings”.

Sy het gemaan leerplanne moet “huidige en toekomstige waarde” vir die leerling inhou. Onderwysers moet op hul beurt die vaardigheid hê om kennis doeltreffend oor te dra en hul leerlinge se sosiale en probleemoplossingsvaardighede ontwikkel.

Die minister het na artikel 20 (1) en (2) van die Grondwet verwys waarin die regering verantwoordbaar gehou word om sy grondwetlike verpligting tot die reg tot onderrig na te kom.

“As die meerderheid kinders in Namibië in hierdie reg wil deel, moet die regering en in veral die ministerie van onderwys, kuns en kultuur, ’n konkrete plan hê wat uit ’n regsperspektief gemonitor word.1396986481

Kommentaar

Republikein 2025-04-18

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer