Miller vind weer geen speelmaat in Afrika

Bergfietsry
Andrew Poolman
Andrew Poolman - Alex Miller se goue medalje gister by die Afrika Jeugspele in Algiers het Namibië se status as 'n kontinentale krag in fietsry bevestig.

Miller het aan die einde van 2016 op die plaaslike toneel verskyn as 'n belowende plaasseun van Aus in die verre suide. Veral sy uithouvermoë in lang, tegniese roetes het bygedra dat hy vroeër vanjaar reeds die Afrika-kampioenskap se goud in Egipte gaan verower het, ná 'n brons die vorige jaar.

Ook in vanjaar se SA Bekerreeksbyeenkomste in die buurland kon niemand hom keer om met die algehele titel weg te stap nie.

Gister se prestasie in Algerië bevestig dat Miller 'n krag is om mee rekening te hou op internasionale vlak.

Miller was aan die spits van 'n sterk span Namibiese seuns. Schalk van der Merwe het in die vierde plek net-net 'n medalje misgeloop, terwyl Dieter Koen se kans vroeg deur 'n ongelukkige tegniese probleem met sy ratte verongeluk is. Hy het dapper teruggeveg, maar kon nie weer die voorste manne vang nie.

“Alex en die jaer van Marokko het redelik vroeg weggebreek en toe heelpad alleen voor gery. Alex was aan die voorpunt terwyl die Marokkaan aan sy agterwiel vasgeklou het. Hy kon hom eers in die laaste van die sewe baanrondtes afskud,” vertel die Namibiese afrigter, Hans du Toit.

“Schalk was ongelukkig om net-net in die laaste versnelling eindstreep toe geklop te word. Ons wil nie onsportiewe wenners wees nie, maar twee amp­telike klagte is ingedien dat Algerië se ryers ontoelaatbare hulp gekry het.

“Die roete (32.2 km) was baie plat en maklik op 'n geskraapte grondpad. Daar was geen tegniese uitdaging waarin ons ryers met vaardigheid hul teenstanders kon agterlaat nie – net hitte in die middel-dertigs.

“Ek is baie bly dat ons so 'n goeie, harde resies kon hê. Kompetisie is waarvoor ons gesoek het – Alex moes werk om te wen.

“In die vorige dag se padfietsresies was Tunisië die enigste afwesige land. Dit was die sterkste groep ryers wat ek nóg by 'n kontinentale jeugkampioenskap gesien het – en Schalk was tot in die finale jaagtog 'n aanspraakmaker vir die brons.

“Dieter Koen (17) was ook sterk op die padfiets en wys belofte in die individuele tydtoets.

“Charl du Plooy was dié week nie 100 persent gesond nie, maar het vasberadenheid gewys om saam met die voorste bondel in die padresies klaar te maak. Uit die agt nasies was ons die enigste met vier ryers in die voorste bondel.”

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer