Miltsiekte: 115 mense dalk geraak
Miltsiekte: 115 mense dalk geraak

Miltsiekte: 115 mense dalk geraak

Owerhede vra vreemde vrektes onder diere moet by staatsveeartse aangemeld word en dat dié diere nie geëet word nie.
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh - Vrese heers dat miltsiekte (antraks) in die Kunene- en Zambezistreek uitgebreek het en buiten vee en seekoeie reeds meer as 100 mense aangetas het.

Tot dusver is niemand hieraan dood nie en net vier mense is in hospitale behandel.

Die ministeries van landbou, water en bosbou asook van gesondheid en maatskaplike dienste het gister in ’n gesamentlike nuusverklaring gesê verlede Woensdag is sowat 104 gevalle van vermoedelik miltsiekte onder mense in die Otjitanga-nedersetting in die Epupa-kiesafdeling aangemeld.

Dít nadat lede van die gemeenskap in nabye kontak was met of die vleis van bokke of beeste geëet het wat vermoedelik aan die siekte dood is.

“Tot dusver is drie mense in die hospitaal opgeneem, maar geen sterftes het voorgekom nie,” lui die verklaring.

Terselfdertyd is nog 11 gevalle van vermoedelik miltsiekte onder mense in die Zambezistreek aangemeld ná hulle die vleis van dooie seekoeie geeët het. Een van dié mense is ook in die hospitaal opgeneem en weer ontslaan. Ook hier is geen sterftes aangemeld nie.

Owerhede vermoed vee vrek reeds sedert 25 September aan miltsiekte by die Otjitanga-nedersetting.

Sowat 68 uit 1 670 stuks kleinvee het sedertdien al gevrek.

Dooie seekoeie is op 29 Augustus by die Liambezimeer ontdek. Tot dusver het meer as 39 van die bevolking van 110 seekoeie gevrek.

Tot dusver is geen vermoedelike antraksgevalle onder vee in dié gebied aangemeld nie.

Veeartsenybeamptes het reeds monsters van die diere geneem om getoets te word.

Miltsiekte wat opgedoen word wanneer spore daarvan ingeasem word, is dikwels dodelik vir mense as hulle nie mediese behandeling ontvang nie.

Daarteenoor is dit gewoonlik minder ernstig wanneer die siekte deur die eet van besmette vleis of deur ‘n stukkende plek in die vel opgedoen word.

Die bakterie wat miltsiekte veroorsaak, kom in die grond voor.

Vee, veral herbivore en wild oraloor die wêreld, word dikwels daarmee besmet.

Die betrokke ministeries sal intussen bewusmakingsveldtogte in die gebiede van stapel stuur.

Noodgesondheidskomitees is in die onderskeie streke op die been gebring en epidemioloë sal ook na die gebiede gestuur word.

Die beweging van diere in die geraakte gebiede word beperk, terwyl veeartse tans vee in ’n radius van 30 km van die geraakte krale af ondersoek.

Kwesbare vee in die geraakte gebiede kry inentings en regeringsamptenare is besig om die reikwydte van die uitbreking te probeer bepaal.

Die ministeries sal ook saam met boere en ander belangegroepe werk om seker te maak die karkasse van diere wat met die siekte besmet is, asook die vleis word vernietig en dat gebiede skoongemaak word waar die karkasse gevind is.

Intussen is gewaarsku dat enige diere wat skynbaar sonder rede vrek, nie sonder beskermde klere aangeraak, oopgesny of geëet moet word nie en by die naaste staatsveearts of staatsveeartskantoor aangemeld moet word.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!