Min beweegruimte vir groei in landbou
Min beweegruimte vir groei in landbou

Min beweegruimte vir groei in landbou

BFAP oor die vooruitsigte
Kobus Laubscher
Dr. Kobus Laubscher



Die Buro vir Voedsel- en Landboubeleid (BFAP) is 'n geres­pekteerde ontleder van die prestasie van die Suid-Afrikaanse landbousektor en sake wat verband hou met die wyse waarop veral uit­dagings getakel word.

Dié ontledings van wat moontlik verwag kan word, strek oor periodes van 10 jaar. Die jongste verslag dek die periode 2019 tot 2028. Dit is egter belangrik om daarop te let dat die buro nie voorspellings maak nie, maar eerder moontlikhede evalueer aan die hand van 'n hele stel aannames. Hieruit is baie lesse te leer, want sou die veronderstelling rea­liseer, kan die gevolge bereken word.

Alternatiewelik trek die aannames grense om onnodige bespiegelings te probeer hokslaan, veral as dit baie negatief neig. Wat met ­Suid-Afrika se landbou kan gebeur, is betekenisvol vir die substreek.

Volgens die BFAP het eksterne skokke die ­Suid-Afrikaanse landbou in die jare ná 2015 ernstige skade berokken. Hieronder tel die uitbreek van bek-en klouseer en Asia­tiese voëlgriep. Daarmee saam is daar bykans geen groei in die ekonomie nie en verbruikersbesteding is en bly onder geweldige druk. Verbruikers beskik dus glad nie oor die vermoë om die pas aan te gee deur meer te verbruik nie.

Wêreldwyd was handel 'n belangrike drywer van plaaslike ekonomiese groei, maar Brexit en die handelsoorlog tussen China en die VSA vertroebel vooruitsigte van ­uitvoergeleide herstel.

Europa as afset se potensiaal word moeiliker ontsluit as gevolg van strenger fitosanitêre vereistes, terwyl handel met die res van Afrika ook nie na wense kan vorder nie ondanks die enorme vraag­potensiaal.

Om in Afrika handel te dryf, beteken ver­skeie uitdagings moet oorkom word soos verskerpte binnelandse beskerming, verhoogde transaksiekoste en onvoorspelbare ad-hoc beleidsveranderings.

Volgens die BFAP maak dit behoorlike interaksie en samewerking tussen die openbare en privaat sektore soveel te meer belangrik. Anders bly lande aanhou die geleentheid ontneem om te kan deelneem aan internasionale handel en daaruit voordeel te trek.



VERBRUIKSPATRONE

Waar verwag is dat verbruikspatrone kan verander met meer klem op proteïenverbruik en 'n afname in die verbruik van stapelvoedsel, dwing swak ekonomiese vooruitsigte soos stygende werkloosheid en die gevolglike gebrek aan besteebare inkomste 'n verstadigde verandering af.

Na verwagting sal die vraag na rooivleis stadig groei, met hoendervleis wat die plek van rooivleis kan inneem. Dit sal tot gevolg hê dat die vraag na grane vir voer stewig kan bly, maar die verwagte (aanvanklike) swaai weg van byvoorbeeld witmielies, is nou weer 'n realiteit omdat meer mense moet eet. Die bevolking bly steeds groei en dit is daardie groei wat stapelvoedsel-afhanklikheid in stand sal hou.

Volgens die BFAP is die ­vooruitsigte vir kosinflasie nie rooskleurig nie, veral vanweë die blywende afhanklikheid van witmieliemeel in die dieet van 'n baie groot en groeiende deel van die bevolking. Die buro verwag dat hierdie inflasie in die orde van 6% per jaar kan beloop.

Die afgelope jaar het die mandjie voedsel wat tipies deur 'n gesin van vier wat afhanklik is van toelaes van die staat verbruik word, afgeneem van R479 per maand in 2016, tot R425 per maand in 2018.

Dié verloop van sake het welkome uitkoms gebied vir gemarginaliseerde lae-inkomstehuishoudings. Hierdie groep maak tot 40% uit van die bevolking. Verdere ontledings wys op die noodsaaklikheid van 'n ­fundamentele regruk omdat tot 25% van die ­bevolking (ongeveer 21% van huishoudings) tans deurgaan as mense met beperkte toegang tot kos.

Bykans 45% van die Suid-Afrikaanse bevolking word geklassifiseer as arm (dit is diegene met besteding van minder as R2 500 per maand), aldus BFAP. Die impak hiervan het ver­reikende gevolge wat dieet aanbetref.

Teen bogenoemde agtergrond is daar min beweegruimte vir groei in die klassieke sin van die woord.

Hernude pogings om kos bekostig­baar te hou en om veral binne die ­proteïenmark doeltreffend te produseer, sal nuwe denke verg.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!