Min groei in varkbedryf

Die uitbreking van listeriose in die buurland, die swak ekonomie en hoë voerkoste laat sy merk op plaaslike varkproduksie.
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh – Plaaslike slagsyfers vir varke het vanjaar met 49,3% gedaal, terwyl invoere van varkvleis óók met 35,1% gedaal het.

Alhoewel kenners van mening is dat die plaaslike varkbedryf steeds stabiel is, groei dit nie in terme van getalle of produksie nie en kom geen nuwelinge aanboord nie. Terselfdertyd het hoë voerkoste, die huidige ekonomiese insinking in Namibië en die uitbreking van listeriose in Suid-Afrika dit negatief geraak.

Dit is die mening van mnr. Goliath Tujendapi, handelsbestuurder by die Vleisraad van Namibië. Hy het tydens die Varkprodusentevereniging van Namibië se ledevergadering en inligtingsdag op 16 Augustus verslag gedoen oor dié bedryf se vordering oor die afgelope twee jaar.

Tujendapi sê hoë voerkoste asook ‘n gebrek aan enige uitvoerabattoirs vir varke in die land, is die grootste uitdagings wat die bedryf die hoof moet bied.

STATISTIEKE

Volgens statistieke wat deur die Vleisraad bygehou word, is sowat 1 882 ton varkvleis tussen Januarie en Julie vanjaar plaaslik bekom, terwyl die getal oor dieselfde tydperk verlede jaar op 3 715 ton gestaan het.

Terselfdertyd is daar verlede jaar 2 569 ton varkvleis ingevoer, terwyl dié syfer vanjaar op 1 667 ton te staan gekom het.

“As ‘n mens die eerste sewe maande van 2017 en 2018 vergelyk, kan jy sien dat die varkbedryf vanjaar swakker gevaar het, buiten vir Januarie 2018. Plaaslike varkproduksie bly nietemin relatief stabiel,” het Tujendapi gesê.

“Oor die algemeen het plaaslike produksie met 14,8% tydens die eerste sewe maande van 2018 gedaal, in vergelyking met 2017.

“’n Vergelyking van invoere tydens die eerste sewe maande van 2017 en 2018 dui aan dat meer varkvleis ingevoer is vir alle maande, buiten vir Julie 2018. Dit sluit geprossesseerde varkvleis uit. Die algemene tendens neig egter afwaarts.

“Oor die algemeen het varkinvoere jaar-op-jaar met bykans 17% tydens die eerste sewe maande vanjaar gegroei.”

Hy het die plafonprys van 2017 en 2018 vergelyk om te wys dat dit oor die algemeen vanjaar laer was.

“Oor die algemeen was die plafonprys vir vark N$33,70/kg van Januarie tot Julie vanjaar, vergeleke met N$36,35 oor dieselfde tydperk in 2017. Dit verteenwoordig ‘n daling van sowat 7,29%.”

Hy het ook getoon dat plaaslike verslagtings tussen Januarie en Julie vanjaar ‘n markaandeel van 53% gehandhaaf het, terwyl 47% deur invoere opgemaak is. Hy het gesê die bedryf behoort genoegsame steun te kry om te kan groei.

VOORUITSIGTE

Na verwagting sal varkvleispyse in die volgende jaar wêreldwyd onder druk wees, wat die deur vir uitvoere na beide Suid-Afrika en Namibië oopmaak.

Die Varkprodusentevereniging se voorsitter, mnr. Gideon Goosen, sê in die komende jaar sal insetkoste na verwagting nog meer styg terwyl die produsenteprys na verwagting sal daal omdat die prys van beide soja en mielies opwaarts neig. Dit is ongeag die feit dat Suid-Afrika na verwagting 2,5 miljoen ton mielies in hul graansuiers oor het en die oesvooruitskatting 13,5 miljoen ton beloop.

“Suid-Afrika het sowat 12 miljoen ton nodig om in sy eie behoeftes te voorsien en het dus ‘n reserwe van sowat 4 miljoen ton.

“Dit sou gehelp het om die prys van mielies te verlaag, maar terselfdertyd word ‘n kleiner oes vir Amerika in die komende seisoen voorspel en is die rand-dollar-wisselkoers swak. Gevolglik is die prys van mielies oor die afgelope ses maande aan die styg en sal dié neiging na verwagting voortduur.”

Goosen sê produsente moet nietemin nie moed verloor nie omdat daar altyd ‘n mark vir goeie gehalte, vars varkvleis in Namibië sal wees. “My boodskap is dus: Produseer ‘n goeie gehalte produk teen die laagste moontlike insetkoste en jy sal vooruit boer, soos in die verlede die geval was.”

BEMARKINGSKEMA RED BEDRYF

Goosen het gesê varkprodusente in Namibië is baie afhanklik van die Suid-Afrikaanse mark omdat die Vleisraad van die Suid-Afrikaanse RVAV-prys gebruik maak om die plaaslike plafonprys uit te werk.

“As gevolg van ‘n hoë vraag na varkvleis verlede jaar, het die Suid-Afrikaanse prys hoog en stabiel gebly in vergeleke met vorige jare. Die prys het tot in April verlede jaar bo R30/kg gebly.

“Dit is ongewoon omdat die prys meestal baie vinnig vanaf einde Januarie of Maart tot September val. Hierdie is gewoonlik die swaarste maande vir die varkbedryf,” het Goosen gesê.

“Dit wou dus aanvanklik voorkom of dit ‘n uitsonderlike jaar vir varkprodusente in Namibië sou wees, maar in Maart het Enterprise se listeriose-bom in Suid-Afrika ontplof.

“Alhoewel varkvleis nooit geïmpliseer is nie, het dit die bedryf geraak. Die rede is dat Enterprise toe 6 000 tot 8 000 varke per week geslag het. Enterprise se abbatoir het gesluit en hierdie varke moes deur die varkvleismark geabsorbeer word.

“Dienooreenkomstig het die prys van varkvleis in ‘n kwessie van dae van R28 na R17 per kg gedaal. Invoerders en verwerkers van varkvleis kon dit in Windhoek onder N$22 ‘n kg land.

“Daar is geen manier wat enige produsent hiermee kon kompeteer nie. In daardie stadium was my produksiekoste sowat N$27 per kg,” het Goosen gesê.

Volgens hom het dit plaaslike produsente onder enorme druk geplaas en hulle moes hul pryse verlaag ter wille daarvan om steeds verkope te kon hê.

“As dit nie vir ons varkbemarkingskema was nie, sou ons in dieselfde situasie as in 2012 gewees het toe ons varke vir minder as die produksiekoste moes verkoop het,” het Gideon gesê. Hy het bygevoeg dat die bemarkingskema die plaaslike bedryf beskerm.

DIE SKEMA

Die varkbemarkingskema is op 1 Oktober 2012 begin met die doel om plaaslike produksie van varkvleis te bevorder en die beskerming van hierdie ontluikende nywerheid te verseker.

Tujendapi het aan die vergadering verduidelik volgens die skema moet ‘n verhouding van 1:2 tussen Februarie en September gehandhaaf word as dit kom by plaaslike produksie versus die invoer van vars of gevriesde karkassa of vleissnitte. Die skema werk volgens kilogramme vleis.

Tussen Oktober en Januarie, wanneer daar ‘n tekort aan plaaslike varkvleis is, word ‘n 1:3 verhouding tussen plaaslike verkope en varkvleisinvoere gehandhaaf.

Hy het ook verduidelik dat die Vleisraad die plafonprys vir varkvleis maandeliks bereken om voorsiening te maak vir seisoenale produksie.

Die skema werk so: Heffings word op ingevoerde varkvleis ingestel. As die prys vir Suid-Afrikaanse varkvleis tussen R20 tot R25 is, word 20% gehef, as dit tussen R25 tot R30 is, beloop die heffingspersentasie 15% en bó R30 word net 10% gehef.

Hy sê hoewel die skema volgende jaar verstryk, bestaan die moontlikheid om dit te verleng indien verdere beskerming vir die plaaslike bedryf nodig is.

“’n Voorvereiste is egter dat alle belangegroepe binne die plaaslike sektor konsensus hieroor moet bereik. Dit sluit die produsente, invoerders asook die prosesseerders in.”

TEKORT AAN ABATTOIRS

Tydens die produsente se vergadering is gesê buiten dat Namibië geen uitvoerabattoirs vir varke het nie, is daar oor die algemeen ook ‘n tekort aan abattoirs wat varke slag. Tans is daar net twee - een in Mariental en die ander een op Tsumeb.

“Dit is ‘n groot probleem vir kleinboere naby Windhoek. Ek weet byvoorbeeld van een boer wat sy varke vanaf Windhoek moet aanry na die slagplaas op Mariental en dan ‘n tweede keer weer moet ry om die karkasse te gaan haal,” het Goosen gesê.

Daar is glo sprake van ‘n varkabbatoir wat vanjaar nog in die Hochveld-omgewing, 200 km vanaf Windhoek sou oopmaak. Tog meen produsente dat dit nie noodwendig ‘n veel beter opsie vir spesifiek varkprodusente in die Windhoek-omgewing is nie, omdat dit nie veel nader as Mariental se abbatoir is nie.

Produsente wat by die vergadering teenwoordig was, het weer eens benadruk dat die gebruik van groeistimulante in varkvoeding nie oorweeg kan word nie, selfs nie al sou dit beteken varkvleis kan teen meer kompeterende pryse geproduseer word nie.

Die rede hiervoor is dat hulle voel Namibië se EU-uitvoerstatus – veral as dit by bees- en wildvleis kom – mag nie op die spel geplaas word nie.

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!