Min woestyn-olifantkalwers oorleef

Konflik met menslike bevolkings het sover vanjaar reeds drie olifantkoeie in hul fleur geëis.
Tanja Bause
Tanja Bause

Tien uit die 17 woestynaangepaste olifantekalwers wat sedert 2015 in die Huab- en Ugabriviere in die Kunenestreek gebore is, het nie oorleef nie.

Volgens me. Christin Winter, programbestuurder van Elephant-Human Relations Aid (EHRA), is agt uit die 17 olifante in die Ugabrivier gebore en het daar gesterf. Twee uit die sewe wat in die Huab gebore is, het ook nie oorleef nie. Met die ander sewe gaan dit goed, met Hope die jongste een wat in Desember 2019 gebore is.

“Die Huabrivier se olifantbevolking is baie stabiel en het ’n gesonde verhouding van ouderdomme en geslagte. Daar is drie troppe met 35 olifante en ses bulle, waarvan twee in die perfekte teelouderdom is.

“Dit is egter nie die geval met die twee troppe wat in die Ugabrivier tuis is nie. In dié twee troppe is 23 olifante. Dertien van hulle is tussen die ouderdomme van ses en 15 jaar. Daar is vyf bulle waarvan een 40 jaar oud en in sy fleur is. Twee is tussen 25 en 30 jaar oud en twee jong bulle het vanaf die Huabrivier na die Ugab getrek. Hulle is beide sowat 20 jaar oud.”

Tans is daar net vyf koeie en drie bulle van teelouderdom in die Ugabrivier. In die laaste vyf jaar het elf volwasse olifante aan natuurlike of menslike oorsake gevrek.

“Van die elf olifante het ons vroeg vanjaar drie koeie wat sowat 20 jaar oud was weens konflik met mense verloor. Dit is baie kommerwekkend, omdat die oorblywende koeie meestal al veertig jaar of ouer is. In die woestynomgewing word die olifante nie so oud nie.”

Volgens Winter is dit interessant om waar te neem dat hoewel die omgewingstoestande van die Huab- en die Ugabrivier baie soortgelyk is, daar ’n duidelike verskil in die stabiliteit van die twee groepe is.

“Net ’n paar gevalle van mens-olifantkonflik is in die Huab aangemeld. Die rivier het droër vlaktes en dus minder mense wat daar woon. Die mense wat in die rivier saam met die olifante woon, trek voordeel uit toerisme, ’n bedryf wat in die laaste dekade goed ontwikkel het en wat die belangrikheid beklemtoon om die spesiale woestynaangepaste olifante te beskerm.

STRESFAKTORE

“In vergelyking hiermee het die toerismebedryf in die Ugabrivier eers oor die laaste sowat vyf jaar begin. Dit en die beduidende menslike bevolking wat in die olifante se kerngebied woon, beteken groter potensiaal vir konflik.

“Wat die oorsaak vir die hoë kalfsterftes in die Ugabrivier is, weet ons nie. Ons neem aan dit kan ’n kombinasie van hoë stresfaktore wees, soos verhoogde konflikte met mense, langdurige droogtes, menslike en vee-indringing asook minder beskikbaarheid van voedsel en water. Fonteine het meestal langs die rivier opgedroog en baie anabome het in die afgelope twee tot drie jaar gevrek, moontlik as gevolg van ’n laer watertafel in die riviergebied.

“Een dooie kalf is getoets en daar is bevind dat dit met of aan ’n Salmonella-infeksie gevrek het.”

Volgens Winter het studies in ander lande getoon hoe rampspoedig die gebrek aan volwasse olifante kan wees. Die uitgegroeide olifante leer die kleintjies watter kos om te vreet; hoe om mekaar, ander diere en die mensdom te respekteer; wat is gevaarlik en selfs hoe om hul hormone te beheer. Veral jong bulle kan uiterse hormonale veranderinge ervaar wanneer hulle olifante se “puberteit”-stadium bereik.

“Die bulle ervaar ’n oorvloed hormone wat kan lei tot uiterse aggressie teenoor enige ander lewende wese. Volwasse olifante help om dié reaksies te beheer. Volwasse koeie jaag gewoonlik die bulle uit die trop en die volwasse bulle neem oor. Hulle bewys hul oorheersing oor die jongelinge, wat die jong bul se vlak van testosteroon onmiddellik verlaag. Oor die volgende tien jaar leer die jonges van die volwasse bulle om hul hormone te beheer en om hul plek in die olifante se hiërargie in te neem en daarvolgens op te tree.”

Volwasse koeie speel ’n ewe belangrike rol in die leierskap van die trop. Haar wysheid en ondervinding van dekades van droogte, reën, konfliksituasies met mense en ander gevare, of veilige hervestiging lei tot die sukses van die trop. Volwasse koeie leer ook ander koeie om na hul kalwers om te sien.

“Die kennis van die uitgegroeide olifante is van sentrale belang vir die oorlewing van die hele bevolking. As die laaste volwassenes weens natuurlike of menslike oorsake verlore gaan, kan die voortbestaan van hierdie spesiale bevolking op die lang termyn gedoem wees.

“Sulke verliese kan konflik met mense dramaties laat toeneem en die oorlewingskanse van pasgebore kalwers kan baie benadeel word,” het Winter gesê.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!