Minder Namibië in NamBrew-vat

Die wêreld se tweede grootste brouer het miljarde dollar aangebied om die meerderheidsaandeelhouer in Namibia Breweries te word.
Jo-Mare Duddy Booysen
Jo-Maré Duddy – Ná meer as ‘n eeu as ‘n ikoniese maatskappy waarin Namibiërs die grootste sê gehad het, is die meerderheid van Namibia Breweries (NBL) se aandele vir vreemde hande bestem.

As regulatoriese owerhede en belanghebbers die jawoord gee, gaan 50,01% van Ohlthaver & List (O&L) se aandele in NBL Investment Holdings (NBLIH) in ‘n multimiljard-transaksie deur Heineken N.V. gekoop word. Dié Nederlandse bierreus besit reeds 49,99% van NBLIH.

‘n Goedgekeurde transaksie sal Heineken die alleeneienaar van NBLIH maak, wat 59,4% van die aandele in NamBrew op die Namibiese aandelebeurs (NSX) besit. NamBrew se huidige markwaardasie is ongeveer 400 miljoen euro of sowat N$7 miljard.

Die nuus het NamBrew se aandeelprys gisteroggend van N$34,62 stuks tot N$42 laat styg.

“Vandag is ‘n bittersoet dag,” het mnr. Sven Thieme, voorsitter van NBL en uitvoerende voorsitter van O&L, in ‘n videoboodskap aan NamBrew se 784 werknemers gesê.

Ondanks ‘n reusestryd om groei in NamBrew-uitvoere te verseker, het die groep besef dit het eenvoudig nie die slaankrag om Windhoek en ander handelsmerke in die wêreldarena te plaas waar dit behoort nie, het Thieme gesê.

“NBL moet die nes verlaat en sy vlerke sprei sodat dié groep sy onbeperkte potensiaal kan bereik. Dit was ‘n moeilike, maar weldeurdagte besluit,” het hy bygevoeg.

Thieme het beklemtoon die voorgestelde transaksie sal ‘n geruime tyd duur om voltrek te word. Vir tyd en wyl bly NamBrew deel van O&L.
Geen werkverliese weens die transaksie word voorsien nie, het me. Patricia Hoeksema, woordvoerder van NamBrew, aan Republikein gesê.

TRANSAKSIE

Die implementeringsooreenkoms tussen die partye sluit ook ‘n aanbod in om NamBrew se 25%-aandeelhouding in Heineken SA (HSA) te bekom. Heineken N.V. sal dan ook die alleeneienaar van dié maatskappy wees, waarvan die markwaardasie sowat 1,5 miljard euro is.

Heineken N.V. het voorts ‘n aanbod van 2,2 miljard euro gemaak om die Suid-Afrikaanse groep, Distell, te koop.

Indien ál die transaksies beklink word, gaan Heineken ‘n nuwe ongenoteerde groep, Newco, stig wat nagenoeg vier miljard euro werd is.

NamBrew verlaat nie Namibië nie, het Thieme gister gesê. Die groep sal steeds op die plaaslike indeks van die NSX genoteer wees en aandeelhouers sal al die voordele geniet wat aan ‘n internasionale biergroep gekoppel is.

Naas FirstRand Namibia is NamBrew die tweede grootste groep op die plaaslike indeks.

Sowat 40,6% van NamBrew word tans deur 1 442 publieke aandeelhouers besit. Volgens NBL se 2021-jaarverslag bestaan dié groep uit 1 274 individue, 106 genomineerde maatskappye, 33 korporatiewe instellings en 30 trusts.

AANDEELHOUERS

Cirrus Capital het gister op die voorgenome transaksie kommentaar gelewer en verwag dat Heineken N.V. meer as N$34,62 per aandeel vir O&L se 50,01%-belang in NBLIH sal betaal.

Vir sy 25%-aandeelhouding in HSA sal NamBrew sowat N$5,4 miljard of N$26,35 per aandeel ontvang. Sodra die transaksie beklink is, sal dit onmiddellik as ‘n spesiale dividend aan aandeelhouers uitbetaal word.

In die kort termyn sal huidige NBL-aandeelhouers dus aansienlik by die transaksie baat, sê Cirrus. Daarna gaan sake egter minder belowend wees, aangesien die groeivooruitsigte vir NamBrew sonder HSA beduidend minder sal wees, meen die ontleders.

Aangesien NamBrew ‘n “groot deel van sy groeistorie” gaan verloor, kan die aandeelprys moontlik daal ná die transaksie van krag word, sê Cirrus.
[email protected]

FOTO’s
Heineken N.V. het sy oog op O&L se belang in Namibia Breweries én NamBrew se aandele in Heineken SA. Foto Nampa/Reuters
Die uitvoerende voorsitter van die O&L-groep en voorsitter van Namibia Breweries, mnr. Sven Thieme. Foto Verskaf

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!