Minder ploeg help grond se gehalte verbeter
Minder ploeg help grond se gehalte verbeter

Minder ploeg help grond se gehalte verbeter

Herlewingslandbou onder die loep
Ronelle Rademeyer
Jeanne-Marié Versluis - ’n Navorser oor bewaringslandbou van Amerika was verstom oor hoe die grond van ’n sonneblomland in die Oos-Vrystaat verryk is omdat dit die afgelope nege jaar al nie bewerk en omgeploeg word nie.

Prof. Buz Kloot, medeprofessor aan die Universiteit van Suid-Carolina, se werk oor kunsmisbesparing en die aanplanting van dekgewasse op landerye word wêreldwyd as baanbrekerswerk beskou.

Kloot het sy kennis die afgelope week gedeel op Landbouweekblad se herlewingslandboukonferensie op Reitz, wat bygewoon is deur boere wat tegnieke toepas om die gehalte van hul grond en weiveld te verbeter.

Die tegnieke sluit in om nié landerye te bewerk voordat kontantgewasse geplant word nie, om dekgewasse aan te plant sodat die landerygrond meer vog opneem en behou, en ultrahoëdrukbeweiding deur vee om die groei van weiding te stimuleer.

Hoewel bewaringsboere in die minderheid is, sien hulle reeds hoe hul grond gesonder is. Hul oeste is groter as toe hulle konvensioneel geboer het en hulle besnoei op brandstof en gifstowwe.

Die konferensiegangers het gaan kyk na ’n sonneblomland van Danie Slabbert buite Reitz wat al nege jaar lank nie bewerk word nie. Baie minder stikstof as voorheen word ook hier toegedien.

Kloot het in ’n gat in die landery van sowat 1 m diep geklim, wat gegrawe is om die grond se tekstuur te toon. Hy het gesê hy is hoogs beïndruk met dié grond se tekstuur. Hy het gesê dit slaan sy asem weg. Omdat die landery al jare lank nie omgeploeg word nie, het dit nie ’n harde ploegtafel van gekompakteerde grond daarin gevorm nie.

Sulke grond is meer deurlug, plante skiet maklik en diep wortel en die grond het meer mikro-organiese lewe.

Kloot het gesê boere begin self die grondgesondheidsrevolusie, want hulle glo die verskil wat hulle in die grond sien.

In ’n sojaboonland langsaan kon die erdwurmgate in ’n soortgelyke gat gesien word.

Bewaringsboere pas ook getrou wisselbou toe. Op Slabbert se grond word sojabone, koring, sonneblom en mielies afgewissel deur vier oeste in drie jaar op te lewer.

Jason Carter, ’n bewaringsboer van Suid-Carolina, het gesê hoendermis is sy primêre bemestingstof. Hy wil aanhou om minder onkruiddoder toe te dien, maar dink nie hy sal dit heeltemal kan los nie.

“Ons sproei nog (onkruiddoders), maar gebruik die helfte of ’n derde van die chemikalieë van voorheen. Met die insekdoders kon ons van drie toedienings na een afkom, juis omdat ons dekgewasse plant.”

Dekgewasverskaffers het aan konferensiegangers gesê baie boere wil dekgewasse plant, maar om verskillende redes. Van hulle wil die grond bedek om te keer dat wind- en watererosie plaasvind. Ander wil dit as wintervoer vir vee gebruik. Ander wil ’n “mat” hiermee op die landery maak waarin hulle die kontantgewasse plant.

’n Dekgewasmengsel bestaan uit tussen drie en tien plantspesies (soos klawer, radyse en rape).

Boere op die konferensie was dit eens: As jy aanhou om met konvensionele metodes te boer gaan daar nie grond en gras vir die nageslagte oor wees om mee te boer nie. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!