Minder renosters, olifante gestroop

Die minister van die omgewing en toerisme het statistieke oor wildmisdaad verskaf.
Francoise Steynberg
Francoise Steynberg - Wat die stropery van ons eie ikoniese wildspesies betref, is Namibiërs die grootste sondaars.

Volgens die minister van die omgewing en toerisme, mnr. Pohamba Shifeta, is 201 vermeende wildmisdadigers in 2019 in Namibië in hegtenis geneem.

Van dié 201 is 182 Namibiërs, nege Zambiërs, sewe Angolese, twee Franse en een ’n Mosambieker.

“Die jaar 2019 is deur ’n hoë aantal wildmisdaadsake, inhegtenisnemings, renoster- en ietermagôstropery en -smokkelary gekenmerk. Die aantal inhegtenisnemings is aansienlik hoër as vorige jare, maar het ook ’n laer persentasie inhegtenisnemings verwant aan renoster-, olifant- en ietermagôstropery getoon,” het Shifeta gister (Woensdag) tydens sy Nuwejaarsboodskap aan sy personeel gesê.



“Inhegtenisnemings en beslagleggings verwant aan renosters het relatief stabiel gebly, hoewel ’n groot aantal verdagtes in hegtenis geneem is voor hulle die renosters gestroop het. Inhegtenisnemings en beslagleggings verwant aan olifant- en ietermagôstropery het gestyg en veral ietermagôsake laat rooi ligte flikker.”

Verlede jaar is altesaam 45 renosters gestroop, in vergelyking met 74 in 2018, 55 in 2017, 61 in 2016 en 97 in 2015.



“Twee renosters is tot dusver vanjaar gestroop, maar die verdagtes is op heterdaad betrap en in hegtenis geneem,” het Shifeta gesê.

Wat olifante betref, is 12 in 2019 gestroop, 27 in 2018, 50 in 2017, 101 in 2016 en 49 in 2015.

Geen olifant is tot dusver vanjaar vir sy ivoor afgemaai nie.

Volgens die minister is altesaam 87 wildmisdaadsake in 2019 aangemeld waarin 201 verdagtes in hegtenis geneem is. In 2018 is 115 sake aanhangig gemaak en 138 verdagtes in hegtenis geneem, 76 sake is in 2017 aangemeld en 123 mense is vasgetrek.

In 2016 is 135 sake geregistreer met 82 mense in hegtenis geneem teenoor 2015 se 91 sake en 96 verdagtes vas.

Verlede jaar is beslag op 26 vuurwapens en 27 voertuie gelê.

ETOSHA-HEINING

Die minister sê vanjaar se fokus rakende die ontwikkeling van parkinfrastruktuur en toerisme val op die kusparke van die Skedelkus, Kaap Kruis, Dorob en die Namib-Naukluftpark.

“Ek het Etosha verlede week besoek en dit is nou baie skoner met geen onwettige sjebeens en dobbelhuise nie.

“Ernstige aandag sal aan die opgradering van die omheining van die Etosha Nasionale Park gegee word en ons sal ons eie personeel en vrywillige werkers gebruik,” het Shifeta gesê.

“Ons stel nie meer belang in die toekenning van tenders aan mense wat nie die werk ordentlik kan doen nie. By sekere dele is die heining stukkend en ons het miljoene verloor.”

Die minister sê dié projek sal op 22 Februarie van stapel gestuur word.

Shifeta het die natuurbewaarders, polisiebeamptes, soldate en gemeenskappe in bewaringsgebiede vir die bewaring van wildspesies bedank.

“Wees patrioties genoeg om nee te sê vir versoekings en gierigheid. Die nasie kyk na julle as die bewaarders van hierdie ikoniese spesies,” het die minister gesê.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!