Minder slaag, minder kan universiteit toe

Van prestasie-bestuurstelsels tot verpligte naskoolse studiesessies moet ingespan word om vanjaar se uitslae te verbeter.
Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht – Net 61% van die graad 12-kandidate wat vanjaar die hoërvlakeksamen vir die senior sekondêre sertifikaat (NSSC) afgelê het, kan volgende jaar universiteit toe gaan.

Dit is ’n afname van 5,7 persentasiepunte teenoor die 66,7% van kandidate wat verlede jaar met ’n graad 3 en hoër in hul vakke by ’n universiteit kon inskryf. Meer as 8% van al die voltydse kandidate het nie die paal gehaal nie, dit teenoor die 5,8% van verlede jaar.

Volgens die adjunkminister van onderwys, kuns en kultuur, me. Ester Anna Nghipondoka, kan dit wees omdat leerlinge vakke op hoër vlak kies wat bo hul vuurmaakplek is. Nghipondoka het ’n beroep op onderwysers gedoen om leerlinge te lei om ’n “gepaste vlak volgens hul potensiaal en prestasie deur die jare” te kies.

“Om leerlinge toe te laat om vir ’n hoër vlak in te skryf net om ’n graad 4-gradering te kry, is in die meeste gevalle die bydraende faktor tot al hierdie slegte prestasies op hoër vlak,” het sy gesê.

Volgens Nghipondoka impliseer die swak uitslae onderrig is eksamengeoriënteerd en rus leerlinge nie toe met kritieke kennis wat hulle in staat behoort te stel om dit op verskeie vlakke van die lewe te kan ontleed, verstaan en toe te pas nie. Sy het ’n beroep op onderwysers gedoen om onderrig in die hele sillabus te gee en leerlinge voor te berei om vrae vanuit alle oogpunte te kan beantwoord.

“Ons het die leerlinge nie goed voorberei nie en ook nie geregtigheid laat geskied aan die opdrag wat aan ons toevertrou is om tydens twee akademiese jare te voltooi nie,” het sy gesê.

Sy het ook verwys na sekere “neigings” van wangedrag wat onder sekere kandidate tydens die eksamens kop uitgesteek het. Dit sluit in kandidate wat ’n vraestel skryf op ’n ander vlak as waarvoor hulle geregistreer het, ongemagtigde persone of kandidate wat in die plek van die geregistreerde kandidaat probeer skryf het, asook die insmokkel van selfone en notas in die eksamenlokaal.

Met verwysing na deeltydse kandidate lyk die prentjie nog donkerder met net 77,3% van die deeltydse kandidate wat ’n simbool in ’n vak kon behaal. Dít teenoor die 85,5% van verlede jaar.

Met verwysing na die prestasie in vakke soos Engels, wiskunde en biologie is dit net die amptelike taal wat die afgelope drie jaar geen verbetering getoon het nie. Prestasie in wiskunde het sedert 2017 van 21,5% tot 25,2% verbeter en biologie van 10,9% in 2017 tot vanjaar se 12,1%. Engels stagneer op 2,7%.

Vir die deeltydse kandidate vir die graad 10 junior sekondêre sertifikaat (JSC) lyk die prentjie aansienlik beter met 90,4% van die kandidate wat graderings behaal het teenoor verlede jaar se 87,6%. Die aantal kandidate wat dié eksamens afgelê het, het vanjaar met 1 656 gedaal. Die adjunkminister het deeltydse kandidate aangemoedig om hul by geregistreerde sentrums vir die voltooiing van graad 12 NSSC gewonevlak-sertifikaat oor die oorblywende twee jaar voort te sit voordat die ou leerplan uitgefaseer word.

Nghipondoka stel van prestasie-bestuurstelsels tot verpligte naskoolse studiesessies voor in ’n poging om toekomstige uitslae te verbeter. Ook moet streeksdirekteure vanjaar se uitslae deeglik ontleed om te probeer vasstel wat die kern van die swak prestasie is.

“Hulle moet aandring op antwoorde oor waarom die inskrywings styg, terwyl prestasie afneem. Nou meer as ooit moet ons ernstige aksie neem wat onderwysers sal help en ondersteun.”

Die Rukonga Vision School was soos verlede jaar die staatskool wat die beste presteer het, gevolg deur onderskeidelik die Sekondêre Skool Otjiwarongo en Centaurus Hoërskool wat verlede jaar die 26ste plek beklee het. Die grootste verbetering was die Senior Sekondêre skool Angra Pequena wat vanjaar die 7de plek beklee teenoor die 41ste plek van verlede jaar. Vir private skole behoort die eerste plek soos in 2018 aan St. Boniface Kollege, gevolg deur die Walvisbaai Private Hoërskool en die Canisianum Rooms-Katolieke Skool. Hier was dit Berg-op Akademie wat die grootste sprong gemaak het van die 30ste plek om nou die 8ste posisie in te neem.

Vanjaar se toppresteerder is Maurice Hinterholzer van die Walvisbaai Privaatskool, met St. Boniface wat drie kandidate onder die toptien-presteerders spog naamlik Karina Sikongo, Ndeshipanda Mulongeni en Audauche Okore. Otjiwarongo spog met drie toptien-kandidate: Timotheus Borrman, Louis Mouton en Nico Epler. Windhoek Hoërskool spog met Ukarapo Kasaona en Windhoek Gimnasium met Marné Rieckert.

Kommentaar

Republikein 2025-01-18

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 18° | 28° Rundu: 19° | 32° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 19° | 36° Tsumeb: 22° | 34° Otjiwarongo: 19° | 33° Omaruru: 19° | 35° Windhoek: 19° | 33° Gobabis: 21° | 34° Henties Bay: 16° | 21° Swakopmund: 17° | 18° Walvis Bay: 17° | 23° Rehoboth: 19° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 19° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 20° | 37° Oranjemund: 13° | 23° Luanda: 24° | 27° Gaborone: 21° | 33° Lubumbashi: 16° | 22° Mbabane: 17° | 28° Maseru: 17° | 33° Antananarivo: 16° | 31° Lilongwe: 19° | 25° Maputo: 20° | 33° Windhoek: 19° | 33° Cape Town: 17° | 25° Durban: 20° | 29° Johannesburg: 18° | 30° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 17° | 27° Harare: 18° | 24° #REF! #REF!