Minderheidsaandeelhouers teen sluiting van die SME Bank
Minderheidsaandeelhouers teen sluiting van die SME Bank

Minderheidsaandeelhouers teen sluiting van die SME Bank

Betoë is gister deur regsverteenwoordigers gelewer in 'n aansoek om die finale likwidasie van die SME Bank.
Jacqueline Louw
Jacqueline Louw



Senior advokaat Andrew Corbett het gister namens die Bank of Namibia (BoN) die motiewe van die twee Zimbabwiese minderheidsaandeelhouers wat die likwidasie van die SME Bank hardnekkig teenstaan, in die hoërhof in Windhoek be­vraagteken.

Die aansoek is deur die BoN teen die SME Bank, die regering van Namibië, die Namibia Financing Trust, die Metropolitan Bank of Zimbabwe, World Eagle Properties, die minister van nywerheidsontwikkeling, handel en SME-ontwikkeling en die minister van finansies gebring.

Die sentrale bank het aan die begin van Maart beheer oor die SME Bank geneem nadat vermoed is dat 'n belegging van N$174 miljoen in Suid-Afrika verloor is.

Volgens Corbett het die Metro­politan Bank of Zimbabwe en World Eagle Properties nog nie met 'n enkele dollar te voorskyn gekom om die SME Bank, wat op 11 Julie voorlopig gelikwideer is, te herkapitaliseer nie. Hy het ook genoem dat daar nêrens in die hofrekord getuienis is dat die SME Bank van sy bankrot posisie kan herstel nie. Geen koper het volgens Corbett nog vorendag gekom nie en finale likwidasie is dus volgens hom onvermydelik.

Corbett het benadruk die meester van die hoërhof mag by finale likwidasie ondersoeke instel. “Mense kan gedagvaar, ondervra en toegesluit word,” het hy gesê.

Hy het dit aan regter Hannelie Prinsloo gestel die enigste mense wat sal baat indien die bank nie gelikwideer word nie, is diegene wat geld vir kriminele of persoonlike doeleindes misbruik het en steeds daaraan vasklou. “Hulle sal gedwing word om verantwoording oor hierdie geld te doen,” het hy gesê.

Volgens Corbett bestaan geen vooruitsig om die N$174 miljoen wat belê is by 'n Suid-­Afrikaanse bank, BVS Mutual Bank, en 'n Johannesburg-gebaseerde maatskappy, Mamepe Capital, te verhaal nie. Die belegging by Mamepe was volgens hom vals.

Die voorlopige likwidateurs, mnre. Ian McLaren and David Bruni, het die BoN meegedeel dat hulle die Finansiële Diensteraad in Pretoria besoek het en dat Mamepe se lisensie opgeskort is hangende verdere ondersoeke.

Corbett het die implikasies van die SME Bank se mislukking opnuut uitgestippel. Volgens hom is N$900 miljoen se belasting- en beleggingsgeld gebruik om die bank te vestig. Die mislukking van dié bank stel die integriteit van die bankstelsel in Namibië volgens Corbett in 'n slegte lig en beïnvloed handel met internasionale vennote negatief.

Advokaat Anthony Bishop, bygestaan deur mnr. Sisa Namandje,­ het gister sy betoog namens die Metropolitan Bank of Zimbabwe en World Eagle Properties begin. Hulle vra die hof moet die finale likwidasiebevel van die hand wys.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!