• Tuisblad
  • Sport
  • ‘Mini-Superrugby’ hervat in Junie in Kiwiland
u2018Mini-Superrugbyu2019 hervat in Junie in Kiwiland
u2018Mini-Superrugbyu2019 hervat in Junie in Kiwiland

‘Mini-Superrugby’ hervat in Junie in Kiwiland

Rugby
’n Nieu-Seelandse kompetisie wat tussen dié land se Superrugby-spanne beslis sal word, sal op 13 Junie begin.

Met inperkingsmaatreëls in die land wat van Donderdag af verder verslap word, sal die nuwe reeks, wat as Aotearoa bekend staan, tussen die Blues, Chiefs, Hurricanes, Crusaders en die Highlanders beslis word.

Die eerste wedstryd sal op 13 Junie beslis word, lui ’n verklaring van die Nieu-Seelandse Rugbyunie (NZR). Dit sal spelers vier weke gee om in kontaksessies op die oefenveld behoorlik voor te berei.

Die aankondiging oor die reeks volg nadat die Nieu-Seelandse regering gesê het dat beroepsrugby en -netbal mag vanaf vlak 2 – wat van Donderdag af sal geld – beoefen word.

Elkeen van die vyf spanne in die Aotearoa-reeks sal ’n tuis- en wegwedstryd teen elk van die ander spanne speel, met twee kragmetings wat elke naweek beslis sal word. Kragmetings sal voorlopig agter geslote deure plaasvind totdat die regering ’n benadering gekry het om massabyeenkomste doeltreffend te bestuur sodat die Covid-19-virus nie versprei nie.

Die Highlanders en die Chiefs kom op Saterdag 13 Junie teen mekaar in Dunedin te staan, met die Blues en die Hurricanes wat die volgende dag in Auckland slaags is.

Mark Robinson, uitvoerende hoof van die NZR, sê in die verklaring hy is bly vir kykers se onthalwe dat daar oor net meer as ’n maand weer rugby gaan wees.

“Die gedagte dat vyf wêreldklas-Kiwi-spanne sake in 20 wedstryde oor tien weke gaan uitspook, sal ’n glimlag op ondersteuners se gesig plaas. Ek weet ons spelers is opgewonde en ek is seker ondersteuners sal ook wees.”

Robinson sê dit is kritiek dat die sport alles in sy vermoë doen om die verdere verspreiding van die virus te keer.

“Mediese en operasionele personeel van die NZR, die spelersvereniging en die klubs het gewerk om gedetailleerde planne in plek te stel om die veiligheid van alle betrokkenes te verseker.”

Volgens Karen Rasmussen, die NZR se mediese bestuurder, is daar verskeie protokolle wat gevolg moet word om rugby op vlak 2 te laat voortgaan. Dit sluit die daaglikse koorsmeting van spelers, beamptes en lede van die onderskeie spanne se bestuur in, asook streng maatreëls wat met higiëne verband hou.

Die NZR het ook in die verklaring bekend gemaak dat die land se plaaslike reeks, die Mitre 10-bekerkompetisie, op 11 September sal begin.

• Luidens die Wêreldgesondheidsorganisasie se webblad was daar teen Sondag 1 144 bevestigde gevalle van Covid-19 en 21 sterfgevalle in Nieu-Seeland. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!