Minister na Geingob se tapyt ontbied
Minister na Geingob se tapyt ontbied

Minister na Geingob se tapyt ontbied

'n Menigte aantygings, insluitend dat die NSFAF basies gedwing is om studielenings vir ongeakkrediteerde kursusse toe te ken, het die staatshoof ontstel.
Yandi Du Plessis
Namibian Sun-redaksie – President Hage Geingob het aan die minister van hoër onderwys, tegnologie en vernuwing, dr. Itah Kandjii-Murangi, geskryf en gevra vir 'n gedetailleerde verduideliking oor wydverspreide bewerings oor haar aandadigheid aan die beweerde voorkeurbehandeling van die Maleisiese Limkokwing-universiteit met hul oprigting van 'n kampus in Namibië.

Van die beweerde voortrekkery, soos onder meer om lenings aan studente van dié universiteit toe te ken terwyl sy programme ongeakkrediteer bly, grens glo aan onwettig.

Ons susterkoerant Namibian Sun het verneem Geingob het dié brief geskryf toe hy in Amerika vir die Verenigde Nasies (VN) se Algemene Vergadering was.

Swapo-ingeligtes sê die president is ontsteld oor die stortvloed van aantygings teen die minister, hoewel sy alles ontken het in 'n verklaring wat twee weke gelede in die parlement voorgelê is.

“In die brief het Hage die minister gevra om redes aan te voer waarom sy nie te midde van dié herrie van haar pligte onthef moet word nie.”

Vrae oor die kwessie wat verlede Donderdag aan die presidensie gestuur is, het onbeantwoord gebly.

Toe sy Sondag gevra is of sy besonderhede oor haar rol in die omstrede oprigting van die Asiatiese instelling aan die staatshoof verstrek het, het Kandjii-Murangi gesê sy het “geen kommentaar nie”.



BAASSPELERY

Kandjii-Murangi word onder meer daarvan beskuldig dat sy die Finansiële Hulpfonds vir Namibiese Studente (NSFAF) “geboelie” het om studielenings aan die Limkokwing-universiteit toe te ken, terwyl die universiteit steeds ongeakkrediteer was.

Volgens sy beleid staan NSFAF nie lenings aan studente toe om nie-geakkrediteerde kursusse te neem of aan nie-geakkrediteerde universiteite te studeer nie.

Die ministerie van hoër onderwys se opdrag word dus as onreëlmatig in NSFAF-gange beskou en het amp­tenare ontstel, wat voel hulle word geboelie om hul eie reëls te oortree.

Die universiteit is nie akademies operasioneel in Namibië nie – wat 'n belangrike vereiste van die Namibiese Kwalifikasieowerheid (NQA) is. Dokumente wat onlangs deur die leier van die Affirmative Repositioning (AR), dr. Job Amupanda, uitgelek is, wys egter dat die NSFAF studielenings toegeken het aan Limkokwing-studente – wat weens 'n gebrek aan akkreditasie nog nie met klasse begin het nie.

“Die status quo (nie-akkreditasie) bly in plek en hulle (Limkokwing) kan nie 'n enkele student volgens prosedure (sonder akkreditasie) inskryf nie,” het NQA-bronne aan Namibian Sun gesê.



TEENSTRYDIGHEDE

In 'n ministeriële verklaring wat op 28 September in die Nasionale Vergadering (NV) voorgelê is, het Kandjii-Murangi ontken dat die NSFAF opdrag gegee is om plaaslike Limkokwing-studente te finansier, en gesê dit was die mandaat van die fonds se direkteursraad.

Dit weerspreek NSFAF-amptenare se weergawe, wat sê hulle is onder druk geplaas om lenings toe te ken aan studente van dié universiteit wat nog nie met klasse begin het nie.

“Geen fondse is opsygesit vir enige instelling of studente nie, en dít bly die domein van die NSFAF se raad,” het die minister gesê.

“As minister het ek geen rol in die toekennings nie. Alle geregistreerde private universiteite by die Namibië Raad vir Hoër Onderwys – wat die NQA se goedkeuring het om operasioneel te wees – se plaaslike studente kom vir NSFAF-finansiering in aanmerking. Hulle ding onder mekaar mee en diegene wat aan die vasgestelde vereistes voldoen, word vir finansiering oorweeg,” het sy gesê.

In haar verklaring het Kandjii-Murangi ook bewerings ontken dat sy persoonlike belange in die universiteit het, en gesê dit word uitsluitlik deur Maleisiërs besit.

Kritici van die beweerde wangedrag sê die minister se beywering van die belange van Limkokwing – vermoedelik op grond van sy programme in kreatiewe tegnologie en tegniese en beroepsonderwys en opleiding (TVET) – benadeel die plaaslike staatsbeheerde opleidingsinstellings wat dié soort opleiding aanbied, soos onder meer die Kollege van die Kunste (Cota) en die Nasionale Opleidingsowerheid (NTA).

Intussen het Kandjii-Murangi in haar verklaring gesê dit is haar ministerie se doel om die NTA te konsolideer en “te versterk deur weg te doen met oorvleuelings”.

[email protected]

FOTO
Die minister van hoër onderwys, dr. Itah Kandjii-Murangi. Foto Nampa

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!