Minister sê binnekort oor fosfaatmynbou

Die minister van die omgewing en toerisme minister moet 'n besluit maak oor die voordele en nagevolge van 'n ondersese mynbouprojek.
Augetto Graig
Augetto Graig - Die minister van die omgewing en toerisme, mnr. Pohamba Shifeta, sal Donderdag die aankondiging oor die toekoms van ondersese fosfaatmynbou in Namibiese waters maak.

Die minister moet 'n besluit maak oor 'n 20 jaar lange mynbouprojek van N$4,2 miljard 'n jaar, en die moontlike impak daarvan op die omgewing asook Namibiese visbronne.

Namibia Marine Phosphates (NMP) se beplande mariene fosfaatmyn se toekoms hang derhalwe in die weegskaal, al is die maatskappy se omgewingsklaringsertifikaat onlangs weer deur die hoërhof geldig verklaar. Shifeta sê na dié hofbesluit en op aanbeveling van die hof, het hy ingestem om te luister na die beswaar ingedien deur die aktivis vir verbruikersregte, mnr. Michael Gaweseb, wat ook gelei het tot die hofsaak.

Die minister sal die aankondiging enige tyd vanaf 07:30 Donderdag by die ministerie se hoofkwartiere in Windhoek maak.

Volgens die menseregteprokureur me. Uno Katjipuka, wat Gaweseb verteenwoordig, is niks minder op die spel nie as die voortbestaan van die kwesbare Beguela-ekosisteem wat Namibië se seewaters so vrugbaar maak.

Katjipuka het Maandag voorleggings aan die minister gemaak waarna hy aan advokaat Deon Obbes die geleentheid gegee het om namens NMP by die openbare verhoor te praat. Die perseel was volgepak, met selfs mnr. Knowledge Katti teenwoordig wie se Havana Investments met UCL Resources van Australië en Mawarid Mining van Oman in die fosfaatprojek vennote is.

Katjipuka het verwys na NMP se kontroleverslag oor die impakassessering bevat in die meer as 2 000 blaaie met inligting wat die maatskappy vir die hofsaak voorberei het. Daarin word dit onbetwis gestel dat visvangbedrywighede binne die beplande 2 233 km²-baggergebied vir die 20 jaar-leeftyd van die myn sal moet stop, het sy gesê. Nog 'n impak is dat visspesies wat daar broei, soos Namibiese stokvis, verplaas en ontwrig sal word.

Visgetalle sal ook vir 20 jaar in die gebied geraak word en die verskeidenheid vissoorte in die gebied sal verminder, het sy gesê. Die navorsing vir die verslag het ook geen verligtende optrede om hierdie langdurige impak op die omgewing te verminder nie, het sy beklemtoon.

“Daar is geen geskil oor die ernstige en direkte impak wat die verwydering van tonne seebodem om fosfaat te verwyder, op die mariene omgewing sal hê nie. Wetenskaplikes en die maatskappy se eie studies bevestig permanente, langdurige impak op die omgewing, verwoesting van die ekostelsel en 'n impak op visserye wat grootliks bydra tot die Namibiese ekonomie.

Wetenskaplikes sê die Benguela-ekostelsel is broos en het oor miljoen jare onstaan. Die seebodem bevat voedingstowwe waarvan die hele ekostelsel afhanklik is. Die verwydering daarvan kan 'n kettingreaksie veroorsaak wat alles in die betrokke voedselketting sal tref.”

Volgens haar weet niemand wat die volle impak van die myn sal wees nie, en sal dit heel moontlik jare duur voordat dit duidelik sal wees, “maar teen dan is dit te laat. Daar is geen omkeer van die proses nie, en die seebodem kan nooit weer terug in die see gesit word nie,”

Katjipuka het benadruk die regering is verantwoordelik om die omgewing vir toekomstige geslagte te bewaar en die bestaande voorsorgprinsiep toe te pas.

“As mens nie weet hoe groot die skade sal wees nie, en geen versagtende aksie kan toepas, uitwys of selfs identifiseer nie, moet 'n mens die ‘oeps, ons moes dit nie gedoen het’-situasie vermy.”

Obbes het egter gesê die voorsorgprinsiep was nie uitgelig in die redes vir die beswaar nie, terwyl ander bewysstukke soos koerantartikels en ministersverklarings wat Katjipuka voorgelê het, nie as sulks voldoende is nie. Die visvangbedryf is nie die beswaarmaker nie en “daar is niks in vandag se verhoor voorgelê wat as gronde vir die verwerping van die omgewingskommissaris se besluit sou dien nie,” het hy gesê.

“Ons kan nie toelaat dat die voorsorgprinsiep lei tot arbitrêre en onvoorspelbare besluite nie. Waar is die wetenskaplike ondersteuning vir die applikant se argument?” Boonop moet die grootte van die projek en sy moontlike merkwaardige bydrae tot die ekonomie ook in ag geneem word, het hy gesê.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!