Minister sê oor skoolsubsidies
In ‘n onderhoud Vrydag het die minister van onderwys, kuns en kultuur die drastiese vermindering van hulp aan staatskole versag.
Dani Booysen en Henriette Lamprecht - Waar moontlik sal die ministerie van onderwys, kuns en kultuur steeds subsidies hoër as die nuwe voorgestelde bedrae aan staatskole probeer betaal.
Dit was Vrydag die boodskap van minister Katrina Hanse-Himarwa aan Republikein oor ‘n kwessie wat al vir meer as ‘n week groot opslae veroorsaak.
Volgens haar is die aangekondigde verlagings in subsidies net ‘n voorlopige besluit; ‘n “scenario” waarvan afgewyk sal word waar moontlik. “Die dinamika in elke streek verskil,” het die minister verduidelik. “Ons hou die situasie elke dag fyn dop.”
“Ons kan nie die invloed van algemene verlagings in die begroting weens ekonomiese verlangsaming wegredeneer nie,” het die minister gesê. “Ons kan dit nie verander nie en moet dit aanvaar.
“Ons is nie al ministerie wat noodsaaklike dienste verskaf wat huil nie. Dit is ‘n nasionale en wêreldwye uitdaging,” het Hanse-Himarwa aangevoer.
Subsidies sal volgens haar weer verhoog word sodra die ekonomie dit toelaat. Vir nou is ‘n halwe brood volgens haar beter as niks.
DIE FEITE
In antwoord op Republikein se vrae het die permanente sekretaris (PS) van onderwys, kuns en kultuur, me. Sanet Steenkamp, bevestig dat subsidies vir staatslaerskole vanaf ‘n maksimum van N$459 per leerling per jaar tot N$250 verminder is. Subsidies aan laerskole is nie oral in die land dieselfde nie.
Staatshoërskole se subsidie is van N$500 per leerling per jaar tot ‘n gelykstaande N$250 verlaag.
Subsidies word “verkieslik” aan die begin van elke termyn betaal.
Die besnoeiings van onderskeidelik 45,5% (laerskole) en 50% (hoërskole) sal teen ‘n gemiddelde betaling van N$229,5 minder vir die 707 878 leerlinge wat in Februarie vanjaar getel is, ‘n totale besparing van N$162,5 miljoen per jaar verteenwoordig. Hierdie bedrag kan minder wees omdat daar meer laerskool- as hoërskoolleerlinge is.
Elders is berig dat die ministerie met die vervroegde sluiting van skole verlede week N$9 miljoen sou bespaar.
LUUKSES
Hoofde van laerskole is soos hul eweknieë by hoërskole ingelig dat geen skoonmaakmiddels meer verskaf sal word nie.
Nadat die minister eers aangevoer het dat luukses nie toelaatbaar is nie, het sy erken: “Nee, skoonmaakmiddels is beslis nie ‘n luukse nie. Ons sal steeds probeer om die minimum, noodsaaklike produkte te verskaf. Ons sal altyd iets gee.”
Benewens beperkings waaroor Republikein reeds verslag gedoen het, is daar ook ‘n verbod geplaas op staatsbydraes tot opleiding, verversings, reise, nuwe aanstellings en die betaling van plaasvervangers vir personeel wat met siek- of kraamverlof is. Skole is ook die opdrag gegee om hul eie buslisensies te betaal.
SKOOLFONDS
Beide die minister en PS het benadruk dat vrywillige bydraes deur ouers nooit verbied is nie.
“Ouers moet regtigwaar ook verantwoordelikheid neem eerder as om net te kritiseer,” sê Hanse-Himarwa. Volgens haar was onderwys oor al die jare nog altyd eintlike “verniet” en moes die regering alles voorsien. “Baie van ons het skoolgegaan sonder dat ons ouers ooit iets noemenswaardig bygedra het,” argumenteer die minister.
“Ek weet nie waaroor al die bohaai gaan nie. Ons betaal steeds salarisse, vir skryfbehoeftes, handboeke, die skoolvoedingsprogram en dies meer.”
Steenkamp het gesê skenkings deur besighede kan help asook goedgekeurde geldinsamelings. Skole moet volgens haar “nie-noodsaaklike wil-hê’s” uit hul begrotings verwyder.
PRIVAATSKOLE
Hanse-Himarwa sê vir haar was privaatskole nog altyd ewe belangrik as staatskole omdat elke Namibiese kind gelyk is en op ondersteuning geregtig is.
Volgens die minister is die PS se kantoor besig om met privaatskole oor subsidies in gesprek te tree. Die minister het aangedui dat privaatskole wat werklik selfstandig is, nie noodwendig meer subsidies sal ontvang nie.
HANDBOEKE
Volgens Steenkamp word miljoene dollar steeds op nuwe handboeke bestee.
Sodoende is daar reeds baie skole wat ‘n handboek vir elke leerling het teenoor vroeëre verhoudings van een handboek vir elke drie leerlinge.
Die PS sê skole moet self seker maak dat hul bestellings betyds ingedien is en ook nie elke jaar ander boeke bestel terwyl hulle nog genoeg goedgekeurde boeke het nie. Leerlinge se vandalisering van handboeke is volgens Steenkamp ‘n bykomende probleem.
Die minister bestempel die leerplan as die belangrikste hulpmiddel. “Ou” handboeke is volgens haar steeds bruikbaar, onderwysers moet “buite die boks” dink en in die moderne rekenaareeu is daar baie ander bronne. “Een plus een is steeds twee,” het Hanse-Himarwa benadruk.
Volgens haar moet almal die moeisame proses van die opstel en druk van handboeke verstaan.
“Ons ontken nie dat daar gevalle is waarin lewering van handboeke laat plaasvind nie, maar in baie gevalle geskied dit betyds. Hierdie funksie is gedesentraliseer en dit is ongelukkig so dat sekere streekdirektorate verantwoordelikheid vir vertragings moet aanvaar.”

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie