Ministerie hou slypskool oor bewaringsboerdery
Ministerie hou slypskool oor bewaringsboerdery

Ministerie hou slypskool oor bewaringsboerdery

Elvira Hattingh
Elvira Hattingh – Die ministerie van landbou, water en bosbou het, tesame met ander vennote, vanaf 21 tot 23 Oktober ‘n nasionale slypskool oor bewaringsboerdery vir belangegroepe in Windhoek aangebied. Die tema was “Die ontsluiting van die potensiaal van bewaringsboerdery vir inklusiewe en gelyke ontwikkeling”.
Die slypskool kom ná die vyfjaarprogram vir omvattende bewaringsboerdery in Maart vanjaar bekend gestel is en vorm deel van die ministerie se mandaat om die Nasionale Ontwikkelingsplan IV se teiken van bewaringsboerdery te behaal. Deur middel van die slypskool wou die ministerie belangegroepe by die praktiese uitvoering van die program betrokke kry.
Boonop moes tydens die slypskool besluit word hoe die vereiste N$94 miljoen gegenereer gaan word om die program in werking te kan stel.
Volgens die permanente sekretaris, mnr. Abraham Nehemia, was van die slypskool se doelwitte onder meer om belangegroepe byeen te bring om ‘n gemeenskaplike begrip van bewaringsboerdery te skep. Terselfdertyd was dit ‘n platform waar ervaringe en kennis gedeel kon word en ‘n gekoördineerde strategie en standaarde vir die implementering daarvan opgestel kan word.
Die program het behels dat die kommunale boer, mnr. Lemphy Katuuo, asook mnr. Christof Brock, hoof uitvoerende beampte van die Akkerbouraad, oor hul ervaring van bewaringsboerdery in die land praat. Verder is ook onder meer oor die verkryging van hulpbronne gepraat.
Minister John Mutorwa het gesê bewaringsboerderye moet met reeds bestaande regeringsinisiatiewe soos die droëland-gewasproduksie-program, die Groenskema asook die nasionale strategiese graanreserwes, die nasionale versamelpunte vir vars produkte en die tegniese ontwikkelingsentrums, sterk sinergieë vorm.
Mutorwa het gesê bewaringsboerdery sluit aan by president Geingob se “oorlogverklaring teen armoede”.
“Ons kan landbou as ‘n middel tot volhoubare ekonomiese groei en ontwikkeling gebruik,” het Mutorwa gesê.
Mnr. Babagana Ahmadu, die plaaslike verteenwoordiger van die VN se Voedsel- en Landbou-organisasie (FAO) het saamgestem en gesê bewaringsboerdery kan as ‘n pad uit armoede dien. Dan moet die openbare en private sektore egter saamwerk om dit te laat gebeur.
Ahmadu het ook gesê die FAO beywer hom wêreldwyd vir die verbetering van volhoubare landboustelsels en het Namibië in die ontwikkeling van sy nasionale bewaringsboerderyprogram gesteun.
Mnr. Albert Engel van GIZ (Deutsche Gesellschaft für Internationale Zusammenarbeit) het gesê dat die tegnologie, metodes en ingesteldheid in landboubedrywe moet verander. Hy het ook gesê met die implementering van die program moet onthou word dat ‘n mens nie een oplossing het wat in alle omstandighede gaan werk nie en ook nie sukses ná net een oesseisoen moet verwag nie.
Nehemia het gesê bewaringsboerdery is as ‘n belangrike faktor vir nasionale voedselsekerheid geïdentifiseer asook as ‘n wyse om ‘n 4% jaarlikse groei in die landbousektor te behaal.
Bewaringsboerdery berus op drie beginsels, naamlik om grond so min as moontlik meganies te versteur, ‘n permanente organiese grondbedekking te bied en ‘n diversifisering van gewasse, wat opeenvolgend of in groepe gekweek word.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!