'Ministerie moet vir mens-dier-konflik begroot'
'Ministerie moet vir mens-dier-konflik begroot'

'Ministerie moet vir mens-dier-konflik begroot'

'Daar is baie oplossings, maar nie genoeg geld nie.'
Francoise Steynberg
Francoise Steynberg - Ons vergader en praat, maar ons het kontant op die tafel nodig om die probleem van mens-dier-konflik te takel.

Dít is die mening van dr. Chris Brown, uitvoerende hoof van die Namibiese Kamer van die Omgewing (NCE), verlede week tydens 'n tweedaagse konferensie oor mens-dier-konflik.

“Ons het baie oplossings vir mens-dier-konflik wat deeglik getoets is, maar ons het nie genoeg geld om die probleem op te los nie,” het Brown gesê.

“Die ministerie van die omgewing en toerisme moet elke jaar in die nasionale begroting vir mens-dier-konflik begroot. Daar kan nie net op die Wildtrustfonds gesteun word nie.”

Brown sê die kwessie moet genasionaliseer word. Volgens data van die gebeureboek van kommunale bewaringsgebiede is dié analise op grond van die tipe voorvalle soos skade aan gewasse, infrastruktuur, veeverliese en aanvalle op mense gedoen.

Dit sluit in die aantal voorvalle en koste per bewaringsgebied, die voorvalle en koste per 1 000 vierkante kilometer per bewaringsgebied en die voorvalle en koste per 1 000 mense per bewaringsgebied.

Volgens dié data ly die bewaringsgebiede van Sanitatas en Marienfluss die meeste onder mens-dier-konflik met die hoogste koste van N$1 000 per persoon per jaar waar voordele veronderstel is om twee keer meer as die koste te wees.

“Daar moet seker gemaak word dat bewaringsgebiede voordele kry en koste verminder word,” het Brown gesê.

Volgens sy bevindinge is die impak van mens-dier-konflik hoogs veranderlik met sommige bewaringsgebiede wat groot verliese ly en ander minimaal.

Die impak op boere is ook jaar tot jaar hoogs veranderlik wat die tipe en mate betref.

Nie alle boere deel die koste van mens-dier-konflik ewe veel nie.

Sy voorstel in verband hiermee is dat hulpbronne volgens prioriteitsbehoeftes toegeken word – nie op 'n gelyke basis nie, maar op 'n billikheidsbasis. “Dit sal toelaat dat bewaringsgebiede met die grootste behoefte die grootste steun kry,” het Brown gesê.



voorstelle

Hy sê voorts verskillende projekingrypings word vir verskillende tipes mens-dier-konflik benodig en die impak van ingryping moet teen langtermyn- mens-dier-konfliktendense gemonitor word.

Brown se voorstelle is eerstens om 'n inligtingstelsel oor mens-dier-konflik vir alle bewaringsgebiede op te stel wat jaarliks uit die geouditeerde gebeureboeke op datum gebring word en wat verliese van gewasse, vee en infrastruktuur behels en in Namibiese dollar bereken word. Dit sal voortdurend alle bewaringsgebiede prioritiseer.

Die inligtingstelsel moet ook uitgebrei word om verliese in prioriteitsbewaringsgebiede per plek en per spesie in Namibiese dollar te monitor.

“Die inligtingstelsel moet voorvalle per jaar teen langtermynmiddele analiseer. Dit sal bepaal of die situasie beter of slegter word,” sê Brown.

Hy meen die ministerie van die omgewing en toerisme moet belê in mens-dier-konflik op 'n sistematiese, ingeligte en geprioritiseerde basis.

“Daar is geen punt in die monitering en dataversameling as daar nie hulpbronne is om tot aksie oor te gaan nie. Die ministerie moet jaarliks vir mens-dier-konflik begroot,” sê Brown.



KONFLIK NEEM AF

Tydens die konferensie het die minister, mnr. Pohamba Shifeta, statistieke oor mens-dier-konflik verskaf. Sewe mense het reeds vanjaar hul lewens verloor, asook 46 beeste en nege bokke. Altesaam 21 gevalle van die beskadiging van gewasse oor sowat 57 hektaar is aangemeld.

Vier mense is beseer en nege mense het verlede jaar hul lewens in diere-aanvalle verloor, asook 545 beeste, 291 bokke, 79 skape en 15 donkies, met 71 voorvalle op sowat 94 hektaar gewasse wat beskadig is.

In 2015 is 12 mense se dood deur diere veroorsaak en vier is beseer. Veeverliese behels 491 beeste, 359 bokke, 84 skape, 17 donkies en twee perde, terwyl 230 voorvalle van die beskadiging van gewasse op sowat 490 hektaar aangemeld is.

In 2014 is 18 mense dood, 231 beeste, 215 bokke, 26 skape en agt donkies, met 358 voorvalle van die beskadiging van gewasse op sowat 596 hektaar.

In 2013 is 13 mense se dood deur diere veroorsaak en drie is beseer. Veeverliese is 384 beeste, 208 bokke, 56 skape, 11 donkies en ses perde. Altesaam 146 voorvalle van die beskadiging van gewasse is op sowat 287 hektaar aangemeld.

Die hersiene beleid oor mens-dier-konflik is bespreek.

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer