Ministerie steek stokkie voor uraansoektog
Ministerie steek stokkie voor uraansoektog

Ministerie steek stokkie voor uraansoektog

’n Ter plaatse ondersoek by boorterreine waar Russiese uraaneksplorasie aan die gang is, het growwe skendings van permitvoorwaardes aan die lig gebring.
Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer – Die ministerie van landbou, water en grondhervorming het Headspring Investments wat by Leonardville met uraaneksplorasie besig is, se permitte vir die boor van 37 boorgate Dinsdag met onmiddellike effek gekanselleer.

Geen verdere boorwerk mag daar gedoen word nie.

Dié filiaal van die Russiese kernkragkorporasie, Rosatom, voldoen nie aan die voorwaardes ingevolge waarvan permitte 11561 en 11562 uitgereik is nie, sê die ministerie in ’n brief wat Dinsdag aan die maatskappy se senior administrateur, mnr. Aldo Hengari, gestuur is.

Groot kommer heers reeds weke lank onder boere en inwoners van dorpe in die Kalahari nadat dit bekend geword hoe Headspring te werk sal gaan om uraan uit ertsneerslae in die Stampriet artesiese kom met sy ineengevlegde akwiferstelsel te ontgin. Dié drinkwaterbron strek tot in Botswana en Suid-Afrika.

Volgens dr. Roy Miller, ’n geoloog, sal die hoeveelheid uraan wat in dié drinkwater beland, die veiligheidsperk van die Wêreldgesondheidsorganisasie (WHO) ver oorskry. Dit kan ernstige gevolge inhou vir die gesondheid van die mense en diere wat van dié akwifers vir hul oorlewing afhanklik is, het hy vroeër in voorleggings aan belanghebbendes gesê.

Dit blyk uit die brief die ministerie het in Oktober die terreine besoek waar daar tans geboor word. Mnr. Percy Misika, uitvoerende direkteur, sê in die brief die ministerie “is uiters bekommerd” omdat Headspring nie voldoen aan die voorwaardes wat gestel word nie.

Die twee permitte is op 30 Maart vanjaar vir onderskeidelik uraaneksplorasie en geohidrologiese doeleindes aan Headspring uitgereik.

Dit blyk ook minstens 70 boorgate is sonder ’n geldige permit vir eksplorasiedoeleindes geboor. Permit 11561 het net vir 19 boorgate voorsiening gemaak.

Net so is sewe méér as die toegelate 18 boorgate vir doeleindes van die geohidrologiese studie geboor.

Verder is die gate wat vir die geohidrologiese opname geboor is, in ’n spesifieke formasie van mekaar geleë en dit stem ooreen met die in situ-logingstegniek wat in die omgewingsimpakstudie voorgestel word.

Dit is juis hierdie logingstegniek wat sal meebring dat uraan en verskeie ander swaarmetale en radioaktiewe afvalstowwe as deel van die ontginningsproses in die akwifers beland, het Miller vroeër verduidelik.

Die eksplorasiegate is óók nie volgens die voorwaardes van die permit geboor nie. Dit behels ‘n boorgat moet eers afgeseël word voordat daar op ’n ander plek in dié waterryke artesiese kom geboor word.

Dit bekommer die ministerie ook dat van die boorgate vir lang tye oopgelos word, wat meebring dat syfering tussen boorgate plaasvind wat die besoedeling van die waterbron aanhelp.

Misika wys ook in die brief daarop dat Headspring nié die boorkontrateurs oor die permitvoorwaardes ingelig het nie. Baie van hulle boor vir die eerste keer in die gebied en omdat hulle nie by die ministerie geregistreer is nie, weet hulle nie van die spesiale boorspesifikasiewat vir die Stampriet- artesiese akwiferstelsel geld nie, sê hy.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!