Ministerie vra leerlingdokters vir samewerking

Gesondheid
Yandi Du Plessis
Tuyeimo Haidula op Oshakati

Die uitvoerende direkteur in die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste, mnr. Ben Nangombe, sê die regering is bewus van leerlingdokters se lang werksure, maar die hoë vraag na gesondheidsorgdienste vereis dat hulle die werk insit.

Nangombe het gereageer op ons susterkoerant Namibian Sun se navraag oor leerlingdokters se aantygings dat die ministerie hulle aan onbillike arbeidspraktyke onderwerp.

Die 75 leerlingdokters in diens van die ministerie landswyd het in Julie vanjaar hul misnoeë uitgespreek oor ’n gebrek aan oortydbetaling en omdat hulle geen mediesefondsvoordele ontvang nie. Hulle voer aan hulle werk in té moeilike omstandighede om nie hierdie voordele te kry nie.

Hulle het hul griewe aan Nangombe gerig en daarna die eerste minister, me. Saara Kuugongelwa-Amadhila, oor dieselfde kwessie genader, maar sover tevergeefs. Beide kantore het ontvangs van die eisbriewe erken en gesê terugvoer sal gegee word sodra ’n besluit geneem is.

Om die proses te bespoedig, het die leerlingdokters ook ’n klag by die kantoor van die arbeidskommissaris ingedien oor wat hulle as onbillike arbeidspraktyke bestempel het. Verder het hulle mnr. Sikunawa Ndoroma gemagtig om die dispuut namens hulle aan te teken en almal het die vereiste vorm onderteken. Hulle het ook ’n prokureur, mnr. Henry Shimutwikeni, gevra om eise namens hulle te stel.

Die leerlingdokters is vir ’n tydperk van 24 maande in diens van die ministerie en moet hul internskap binne ’n minimum van twee jaar en ’n maksimum van drie jaar voltooi.

OORTYD

Die applikante het gekla oor hulle ’n vaste salaris betaal word, maar dikwels meer ure werk as wat die wet voorskryf.

In hul brief het die applikante gesê daar word soms van hulle vereis om 12 uur-skofte te werk en met tye selfs 24 uur-skofte sonder oortydbetaling.

“Die applikante werk ongeveer 60 uur per week en meer as hul gewone ure sonder oortydvoordele vir die buitensporige en veeleisende ure waaraan hulle onderwerp word. Die applikante voer take uit wat mediese beamptes verrig, maar dit word ‘onder toesig’ gedoen en sluit in, maar is nie beperk nie tot, mediese ondersoeke en die diagnosering en behandeling van gesondheidstoestande en siektes,” lui die brief gedeeltelik.

Die applikante sê hulle aanvaar wanneer hulle kies om gesondheidswerkers te word, sal hulle inherent aan die risiko van siektes blootgestel word. Die sentiment onder hulle is egter dat hulle soos enige ander werknemers van die staat behandel moet word wat oortydbetaling ontvang en toegang tot die staat se mediese fonds (Psemas) het.

Die leerlingdokters het opnuut hul besware aan Kuugongelwa-Amadhila as die eerste respondent gerig. Die minister van gesondheid, dr. Kalumbi Shangula, is as die tweede respondent gelys en Nangombe as die derde respondent. Ombudsman Basilius Dyakugha is as die vierde respondent aangedui.

Nangombe het gesê hy is bewus van die eise wat gestel word, maar het die leerlingdokters aangemoedig om realisties te wees en die regering tegemoet te kom.

Hy het gesê die diensvoorwaardes of enige voordele verbonde aan die pos word nie deur die ministerie van gesondheid bepaal nie, maar deur die bestuursafdeling van die Staatsdienskommissie.

Nangombe sê hulle moet ook in ag neem dat die regering ’n produktiewe stap geneem het om ’n spesifieke beleid met betrekking tot die bestuur van internskappe in die regering in te stel.

Om dié rede moet hulle die ure insit sodat hulle bekwame dokters kan word en die beste moontlike gesondheidsorg kan bied, het hy bygevoeg.

“Hulle moet leer om die regering tegemoet te kom. Dis uitdagende lang ure. Ons neem daarvan kennis, maar terwyl ons hulle tegemoetkom, moet ons pogings weerspieël word,” het hy beklemtoon.

Nangombe het die dokters bedank vir hul pogings om die regering te help in die stryd teen die Covid-19-pandemie en gesê terwyl die land nou die vierde golf in die gesig staar, is hulp nou meer nodig as ooit tevore.

“As ons verdeeld is, sal dit meer moeilikheid vir ons en die hele gesondheidsektor beteken. Gesondheid is ’n roeping en die regering het baie moeite gedoen om die leerproses vir die leerlingdokters te vergemaklik,” het hy gesê.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!