Ministerie vra raad oor termyne
Ministerie vra raad oor termyne

Ministerie vra raad oor termyne

Een van die opsies vir aanstaande jaar se skoolkalender sluit 'n midtermyn-vakansie in.
Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht – Die ministerie van onderwys, kuns en kultuur het ’n voorlopige skoolkalender, wat steeds drie termyne het, vir kommentaar en bespreking aan skole uitgestuur. Dit blyk, in teenstelling met ’n vroeë bevestiging deur die permanente sekretaris, me. Sanet Steenkamp, dat die terugkeer na vier kwartale wel oorweeg word.

Steenkamp het in Junie gesê ’n finale besluit in dié verband word teen einde September verwag.

Volgens haar is reeds oor ’n breë spektrum met rolspelers gekonsulteer, met besprekings wat ook die voor- en nadele van die kwartaal- en termynstelsel ingesluit het.

Die kwartaalstelsel is vir baie ouers, onderwysers en leerlinge ’n oplossing om ’n koue, donker winter op die skoolbanke vry te spring, deur eerder die wintervakansie in dié tydperk te hê.

Die ministerie bied nou aan rolspelers twee opsies vir volgende jaar se termynstelsel. Beide se aanvangs- en sluitingsdatums van skole is dieselfde, met die enigste verskil dat die eerste opsie ’n week lange midtermyn-vakansie in die eerste termyn het. Die vakansie val in dieselfde week waarin 21 Maart ’n openbare vakansiedag is. Met dié opsie is die totale aantal skooldae vir die drie termyne 199 dae, terwyl dit met die tweede opsie sonder die midtermyn-vakansie 195 dae is.

In reaksie op die twee opsies was die oorwegende kommentaar op die ministerie se Facebook-blad ’n voorkeur vir die kwartaalstelsel.

“As onderwysers sien ons 7-, 8- en 9-jariges sukkel wat die lang termyne nie kan hanteer nie. Dit is hulle wat ly, en doen ons dit (onderrig) nie vir die kinders nie?” het iemand gevra.

Nog kommentaar het gevra wat van die ministerie se voorstel vir vier kwartale geword het.

“Die wat skole later begin, maak ons dood. Geen leerling kan teen 15:00 konsentreer nie, omdat ons laaste les 14:20 begin en tot 15:00 duur. Dit maak ’n mens moeg! Die laat begin werk nie en veral nie in landelike gebiede nie. Leerlinge en onderwysers is teen daardie tyd honger,” was nog kommentaar.

“Probeer om klas te gee in koue toestande soos vandag. Dit is asof leerlinge afskakel, dit is nie bevorderlik vir onderrig nie,” het nog iemand gesê.

Baie was dit eens dat die kwartaalstelsel leerlinge van die winter se koue en donkerte sal red.

“Dit sal die probleem oplos van kinders wat in die koudste en donkerste tyd (Junie/Julie) skool toe moet gaan. Dit is meer prakties en gee leerlinge en onderwysers voldoende tyd om te rus en met sukses vordering te maak.”

’n Voorstel was dat ’n dag voor en ná die midtermyn-vakansie by opsie 1 gevoeg word, dat die Mei-vakansie na middel-Junie (die koudste tyd) geskuif word en dat die Augustus-vakansie na die einde van September geskuif word om die termyne ewe lank te maak.

Rolspelers wat insette wil lewer en voorstelle wil maak oor 2019 se voorlopige skoolkalender kan dit voor 10 Augustus aan [email protected] of [email protected] e-pos.

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!