Minnares, twee ander skuldig aan moord op Stoop
Minnares, twee ander skuldig aan moord op Stoop

Minnares, twee ander skuldig aan moord op Stoop

Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer - Sowat agt jaar nadat die minnares van mnr. Koos Stoop (78) twee mans oorreed het om haar kammakastig saam met hom in sy woonstel vas te bind en te beroof, is sy gister saam met hulle aan sy moord skuldig bevind.

Regter Alfred Siboleka het Nelsine Utiapatie Kauaria gister saam met die broers Erwin en George Katjingisua in die hoërhof in Windhoek aan moord, roof met verswarende omstandighede en poging tot roof met verswarende omstandighede skuldig bevind.

Dié misdrywe is op 28 Augustus 2009 in Stoop se woonstel in Cimbebasia in Windhoek gepleeg nadat die broers die motor waarin Stoop en Kauaria gery het, in ’n taxi agtervolg het.

Kauaria het hulle oorreed om ’n skynroof uit te voer en het hulle meegedeel dat hy haar die betrokke middag by Shoprite in Katutura sou oplaai en na sy woonstel sou neem.

Hulle het verwag dat hy ’n sak met geld by hom sou hê en afgespreek dat sy dit sou uitwys, waarna hulle haar dan langs hom sou vasbind sodat dit soos ’n rooftog lyk.

Die plan het egter skeefgeloop toe Stoop, anders as wat verwag is, net N$50 by hom gehad het.

Die hof het gehoor Erwin het ’n mes diep onder Stoop se linkerarm ingedruk en hom beveel om die geld te oorhandig. Toe Stroop skree en sê hy het nie geld nie, het Erwin die mes uitgetrek en 'n skroewedraaier in dieselfde wond gedruk.

Terwyl hy dit gedoen het, het Kauaria Stoop se kamer omgekeer en deursoek.

Erwin het vir George gevra om hom te help om Stoop se hande vas te hou sodat hy hom kon vasbind. Hy (Erwin) het die oorledene se T-hemp uitgetrek, dit geskeur en ’n deel daarvan in sy mond gedruk terwyl hy die ander deel gebruik het om hom vas te bind.

Terwyl hy besig was, is Stoop dood. Hy het versmoor. Die twee broers het sy liggaam badkamer toe gesleep en op die vloer neergelê, die bloed van hul hande afgewas en die deur gesluit.

Daarna is hulle met sy televisie, selfoon, motorradio en haarknipper vort.

Die hof het ook gehoor Kauaria het vir Erwin N$3 100 geskuld en dat sy die geroofte goedere vir hom gegee het om haar skuld te vereffen.

Siboleka het in sy uitspraak gesê hoewel Kauaria nie deelgeneem het aan die aanranding op Stoop nie, sy gesien het wat haar medebeskuldigdes doen.

“Sy het haarself met die aanval en die gevolge daarvan vereenselwig,” het hy gesê.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!