Minstens vyf die naweek verkrag
Minstens vyf die naweek verkrag

Minstens vyf die naweek verkrag

Augetto Graig
‘n Vier-jarige seuntjie was Vrydag volgens die polisie se naweekmisdaadverslag die slagoffer van verkragting in die Okapundja-nedersetting naby Omakenge.
Die kleuter was na bewering omstreeks 12:30 op pad huis toe vanaf die skool toe ‘n man hom na sy kamer gelok en hom daar verkrag het.
Die verdagte is bekend aan die polisie, maar het op die vlug geslaan en is nog nie in hegtenis geneem nie.
Op Rehoboth is ‘n 20-jarige vrou omstreeks 21:00 op dieselfde dag deur ‘n 18-jarige verdagte verkrag. Die voorval het volgens die polisie op ‘n oop stuk grond agter Blok E plaasgevind.
Die verdagte het die vrou met ‘n mes gedreig. Hy is in hegtenis geneem en die polisieondersoek duur voort.
In Windhoek se Otjomuise-buurt is ‘n 19-jarige vrou na bewering Saterdag omstreeks 03:00 by ‘n woning in Casambastraat verkrag.
‘n Agt-en-twintig jarige man wat in dieselfde huis woon, het glo stilletjies na die jong vrou se kamer gesluip voordat hy haar verkrag het.
Sy het wakker geskrik en geskree, en familielede het tot haar redding gekom. Die verdagte is in hegtenis geneem en moet Maandag in die hof verskyn.
Op Lüderitz is ‘n 16-jarige meisie Vrydag omstreeks 23:30 deur ‘n 19-jarige man verkrag in Jakkalsdraai.
Op Keetmanshoop is ‘n jong man deur ‘n groep mense verkrag.
Die slagoffer (24) was glo Saterdagoggend tussen 2:00 en 3:00 op pad huis toe vanaf ‘n nagklub toe hy voor die Zidan-sjebeen in Lemoendraai, Tseiblaagte deur onbekende mense vir ‘n drankie genooi is en toe seksueel aangerand is.
Die polisie ondersoek die saak.

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer