Misdaad het SA die WB-toernooi gekos, reken 1995 se Bokke
Ondanks sy status as voorkeurkandidaat het gister se stemming anders verloop.
Hoë misdaadsyfers en politieke onstabiliteit het Suid-Afrika se kans verydel om die Wêreldbeker-toernooi in 2023 aan te bied.
Só het etlike Springbok-helde van 1995 – toe die toernooi laas hier aangebied is – gesê in reaksie op die verrassende nuus gister dat Frankryk as gasheernasie aangewys is.
“Dit is van die belangrikste faktore waarna gekyk word en dié besluit sal hopelik 'n groot wekroep vir die land wees,” het Kobus Wiese, een van die Bokysters in die triomfantelike toernooi in 1995 prontuit gesê.
“Ons is ongelukkig op soveel vlakke in ons samelewing die kluts kwyt.
“Hel, dit is 'n groot teleurstelling. Veral as 'n mens terugdink aan hoe suksesvol die 95-toernooi was.”
Wiese sê Suid-Afrika het goeie nuus juis só nodig gehad.
“Sport het die vermoë om mense bymekaar te bring en te versoen. Maar jy kan nie vingers wys as jou huis nie in orde is nie.”
Hoewel Suid-Afrika Wêreldrugby se voorkeurkandidaat was op grond van sy bod, het Frankryk die meeste stemme op hom verenig.
Toe Wêreldrugby se lidlande gister in Londen kruisies getrek het, het Frankryk aanvanklik 24 stemme gekry, Suid-Afrika 15 en Ierland 8. In die tweede ronde, met Ierland uitgeskakel, het Frankryk 24 teenoor Suid-Afrika se 15 gekry.
Misdaad is egter 'n massiewe probleem in die land en kan baie mense afskrik om Suid-Afrika te besoek.
Hennie le Roux (50), wat op senter vir die seëvierende Bokke in 1995 uitgedraf het, beaam Wiese se sentimente. “Wat aangaan in die land is kommerwekkend. Dit is 'n bittere teleurstelling dat ons nie gasheer gaan wees nie. Misdaad is egter 'n massiewe probleem in die land en kan baie mense afskrik om Suid-Afrika te besoek,” sê Le Roux.
Een van Le Roux se spanmaats in 1995, Chester Williams, wys egter daarop dat Frankryk ook nie meer 'n veilige bestemming is nie.
“Dit gaan my verstand te bowe hoe 'n land soos Frankryk wat so baie terreuraanvalle oor die laaste paar jaar ervaar het, dit gekry het. Ek dink ons land is so bietjie veiliger as hulle,” het hy gesê.
Rudolf Straueli, uitvoerende hoof van die Leeus en ook 'n lid van die '95-Bokspan, sê die WB-toernooi sou baie vir werkskepping en die ekonomie in die geheel beteken het.
“Nou val al daardie moontlikhede plat en gaan die ekonomie in ons gebied, asook die vooruitsig van veel meer toerisme kwaai daaronder ly,” vertel hy.
“In die geheel skep hierdie uitslag 'n baie donker prentjie vir die land en rugby. Dit is iets wat moeilik is om te verwerk,” het Straeuli gesê.
– Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie