Misdaad op plase: Cyril swyg steeds
Ondanks pleidooie dat pres. Cyril Ramaphosa hom uitspreek teen misdaad op plase, gaan hy steeds niks daaroor sê nie.
Christiaan Du Plessis, Philda Essop en Meghan Lawrence
Ondanks pleidooie vanuit die georganiseerde landbou dat pres. Cyril Ramaphosa hom uitspreek teen misdaad op plase, gaan hy steeds niks daaroor sê nie.
Khusela Diko, presidensiële woordvoerder, sê hoewel die presidensie bewus is van die pleidooie, het Ramaphosa besluit hy gaan hom nie oor spesifieke soorte misdade uitlaat nie. Hy meen die polisie moet dit eerder hanteer.
Dan Kriek, president van Agri SA, sê hulle het reeds met Ramaphosa geskakel en onmiddellik optrede geëis oor die toenemende plaasmoorde en -aanvalle. Kriek se verklaring Dinsdag volg op die moord Sondagaand op Stefan Smit (62), ’n wynboer van die plaas Louiesenhof buite Stellenbosch.
Kriek sê die regering het lank nie die nodige aandag aan plaasmisdade gegee nie.
RAMAPHOSA SE BELOFTES
“Pres. Ramaphosa het in April voor die nasionale verkiesing beloftes gemaak dat boere beveilig sal word en ons sal nou optrede eis. Ons kan nie behoorlik aan ander beleidspunte aandag gee as die veiligheid van ons boere geensins gewaarborg kan word nie,” sê Kriek.
Hy sê ’n nasionale plan, gerugsteun deur aansienlike hulpbronne en polisiëring, asook die doeltreffende werking van die regstelsel, wat met dringendheid toegepas word, is nou nodig.
Henry Geldenhuys, adjunkpresident van TLU SA, het Maandagaand in ’n verklaring gesê sy organisasie is baie bekommerd oor die aansienlike toename in plaasaanvalle en plaasmoorde en dat Ramaphosa, “sowel as die hele kabinet, veral die minister van polisie”, daaroor swyg.
Geldenhuys sê daar word daagliks uitsprake van politieke verhoë af gemaak dat boere die grond gesteel het waarop hulle kos vir alle inwoners van Suid-Afrika produseer.
KABINET SE STILSWYE
Die vraag is of die kabinet se stilswye ’n aanduiding is dat hulle dié onaanvaarbare situasie oor die hoof sien.
Geldenhuys doen ’n beroep op die regering, die polisie en die nasionale vervolgingsgesag om binne die volgende maand ’n doeltreffende en werkbare oplossing in te stel, en hy raai landbouers aan om hul veiligheidsmaatreëls te verskerp.
Diko het gister by navraag gereageer nadat AfriForum vroeër die dag op ’n mediakonferensie in Centurion sy statistieke vir plaasaanvalle en plaasmoorde van 1 Januarie tot 31 Mei bekend gemaak het.
Die burgerregteorganisasie het uitgevaar teen Ramaphosa en sy regering omdat AfriForum meen die kwessie word onder die mat ingevee.
Tommy Esterhuyse, Agri SA se hoof van landelike veiligheid, meen Ramaphosa bly stil weens politiekery en versuim daardeur sy plig.
BLOEDIGE MAAND OP PLASE
Ian Cameron, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid, het gesê Mei was ’n besonder bloedige maand op plase in Suid-Afrika met 51 plaasaanvalle wat aangemeld is – ’n groot toename teenoor vorige maande.
Dit is veral kommerwekkend dat die getal plaasaanvalle in die Wes-Kaap sedert die begin van die jaar verdubbel het in vergelyking met die ooreenstemmende tydperk verlede jaar.
Cameron het bewerings dat plaasaanvalle net om sosioëkonomiese redes gebeur as ’n mite afgemaak en sê politiek, rassisme en arbeidsgeskille is ook deel van die oorsaak.
Volgens hom moet plaasaanvalle, net soos transitorooftogte, as ’n afsonderlike misdaad met ’n ander aanslag hanteer word.
Kol. Brenda Muridili, polisiewoordvoerder, het gister gesê die polisie het nie ’n kategorie vir plaasaanvalle nie. Dis dus moeilik om te bepaal of daar ’n toename in plaasaanvalle oor ’n bepaalde tydperk was.
Sy het verwys na genl. Khehla Sitole, nasionale polisiehoof, se vergadering met die TLU in April waarna Sitole planne aangekondig het om die getal reserviste in landelike gebiede te vermeerder. Die werwing van dié reserviste is geskeduleer vir die huidige boekjaar.
“Dit sal geadverteer word . . . Dit sal landswyd plaasvind en is daarop gemik om die landelike veiligheidstrategie ten volle toe te pas.” - Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie