Misdaad teen toeriste skaad beeld
Misdaad teen toeriste skaad beeld

Misdaad teen toeriste skaad beeld

Die ministerie van die omge­wing en toerisme is besig om dringende maatreëls in te stel om besoekers aan Namibië te beskerm.
Francoise Steynberg
Francoise Steynberg



Die ministerie van die omge­wing en toerisme sê die sukses of mislukking van 'n toeristebestemming hang af van hoe veilig die omgewing is.

Boonop kan misdaad Namibië se beeld onherstelbaar beskadig.

“Die ministerie glo die verandering van die toenemend negatiewe persepsie oor misdaad teenoor toeriste is 'n prioriteit. Ons almal moet saamwerk om misdaad hok te slaan sodat 'n veilige plek met mooi herinneringe vir besoekers aan ons mooi land gevestig kan word,” sê die woordvoerder van die ministerie, mnr. Romeo Muyunda.

“Die koste-implikasies daarvan om nie na ons besoekers om te sien nie, sal tot onherstelbare skade lei aan Namibië as toeristebestemming, en tot verliese aan werksgeleenthede en inkomste lei.”

Hy sê ons land se grootste uitdaging is om die skade te herstel wat enkele individue aan die beeld van Namibië as 'n veilige toeristebestemming aanrig.

Muyunda sê kennis moet geneem word dat onlangse mediaberigte 'n aanduiding van die toename in misdaad teen toeriste kan wees, maar wat nie bekend is uit hierdie berigte nie is of hierdie voorvalle alledaags of ongewoon is.

“Misdaad teen toeriste kom oral in die wêreld voor, selfs in ontwikkelde lande. Statistieke om 'n deeglike vergelyking te tref, is egter nie beskikbaar nie,” sê Muyunda.

“Ons weet toerisme in Namibië het die afgelope 10 jaar ongelooflik gegroei, maar totdat sulke statistieke nie beskikbaar is nie, moet ons versigtig wees om nie onnodige vrees te skep nie.”

Muyunda sê elke voorval van sulke misdaad word betreur en ten sterkste veroordeel.

“Die Namibiese regering waardeer besoekers wat van alle uithoeke van die wêreld af kom om ons mooi land te sien. Hierdie toeriste gaan terug na hul lande en skryf stories en lofsange oor Namibië, wat toerisme help groei. Niemand moet toegelaat word om sulke mooi ervaringe te bederf nie.”

Die ministerie wil besoekers aan Namibië verseker hul veiligheid en sekuriteit is van uiterste belang.

Die ministerie werk saam met die polisie en ander rolspelers om misdaad teen toeriste te bekamp, asook padongelukke.



Maatreëls vir beskerming

Muyunda sê die regering het, saam met die Namibiese polisie, maat­reëls om toeriste te beskerm in werking gestel. Dit sluit in die totstandkoming van die polisie se eenheid vir toeriste.

“Polisieteenwoordigheid op voetsoolvlak mag tans nie voldoende wees nie, maar reëlings is getref om dit by toeriste-aantreklikhede in en om dorpe in alle streke te verhoog.”

Volgens Muyunda het die Windhoekse munisipaliteit kringtelevisiekameras in die stad aangebring en die installering hiervan duur voort. Patrollies op hoofweë is ook verhoog.

Hy sê 'n gesamentlike strategie word tans geformaliseer om toeristeveiligheid te verbeter.

Nuwe inisiatiewe wat oorweeg word, sluit in die verbetering van sekuriteit by lughawens, strenger maat­reëls rakende taxi's en ander openbare vervoer, 'n beloningstelsel vir inligting oor misdaad teen toeriste, 'n noodlyn vir die rapportering van misdaadvoorvalle, kennisgewingborde by toeriste-aantreklikhede en die uitbreiding van patrollies en toesig.

Die ministerie doen 'n beroep op alle Namibiërs om toegewyd te wees daaraan om die land se toeriste, ekonomie en beeld en veral Namibië se vyfde plek op die ranglys van die vyf veiligste lande suid van die Sahara te beskerm.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!