Misdaadsyfers in Khomas daal
Misdaadsyfers in Khomas daal

Misdaadsyfers in Khomas daal

Byna 100 mense is sedert die landswye inperkings ingestel is vir die onwettige verkoop van alkohol beboet.
Augetto Graig
Augetto Graig - Kommissaris Christof Nakanyala, die hoof van misdaadvoorkoming, het eergister tydens die daaglikse Covid-19-­inligtingsessie gesê misdaad in die Khomasstreek het gedaal nadat die landswye inperking ingestel is.

Vanaf 21 tot 27 Maart, voor die inperking ingestel is, was daar 22 huisinbrake in vergelyking met 12 wat gedurende 28 Maart tot 3 April aangemeld is.

Voorvalle van huishoudelike geweld het ook gedaal. Verlede week is 39 gevalle aangemeld in vergelyking met 44 die week tevore.

Daar is tans 4 914 gevangenes landswyd in polisie-aanhouding, sê Nakanyala.

Sedert die instelling van die hok­reëls is 98 mense vir die verkoop van alkohol beboet en 14 vir die deelname in openbare vergaderings van meer as 10 mense.

Nog 19 mense is vir reisoor­tredings beboet, sê hy.

Nakanyala sê die polisie gee eerder 'n boete as om mense in hegtenis te neem, aangesien dit die situasie in die tronke gaan vererger.

Kommissaris Sam Shalulange van die gevangenisdiens het gesê besoeke aan gevangenes is afgestel.

Hy sê hulle fokus is tans om die verspreiding van Covid-19 in tronke, veral in Windhoek en op Oluno, Hardap en Walvisbaai, te bekamp. Beamptes word daagliks gemonitor en ontvang maskers en handskoene, sê hy.

Lugmaarskalk Martin Kambulu Pinehas van die Namibiese weermag sê sy lede is landswyd ontplooi en alle verlof is gekanselleer.

Die weermag fokus op die sluiting van grense en om hulp aan interne operasies te verleen.

“Moet jouself nie doelbewus aan gevaar blootstel nie. Doen jou deel en ons sal ons deel doen,” sê hy.

Pinehas het 'n beroep, veral op jonger landgenote, gedoen om te wys waarvan Namibiërs gemaak is, deur die maatreëls nougeset na te kom.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer