Mishandelde perde terug by baas

Die polisie het glo ‘n man teen wie ‘n saak van dieremishandeling gemaak is, gehelp om sy perde terug te kry.
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh – Windhoek se Dierebeskermingsvereniging (DBV) gaan hulle nou tot hoër gesag wend in ‘n saak van dieremishandeling.

Dít nadat gekonfiskeerde perde op Vrydag 10 November glo op aandrang van ‘n polisielid op Otjiwarongo aan hul eienaar teruggegee is.

Drie perde is op 2 November met die intrapslag op Otjiwarongo gekonfiskeer in ‘n spanpoging tussen die Namibiese polisie, perdeliefhebbers, die DBV, asook die dorp se balju, nadat hulle glo in ‘n swak toestand agterop ‘n sleepwaentjie van ‘n plaas naby Rehoboth af vervoer is.

Foto’s van twee van die drie perde wat op die sleepwaentjie lê, en die derde, ’n dragtige merrie, wat regop staan terwyl die beskuldigde in die saak verby Brakwater gery het, is wyd op sosiale media versprei.

Kommer is uitgespreek dat die perde moontlik tot op Outapi vervoer sou word, aangesien die waentjie se registrasienommer aan dié dorp behoort.

‘n Saak van dieremishandeling en die bestuur van ‘n voertuig sonder ‘n lisensie is op Otjiwarongo teen die perde se eienaar aanhangig gemaak.

Ná die perde gekonfiskeer is, is hulle toe in die sorg van ’n veearts, dr. Elvira Kleber van die Northern Veterinary Practice, gelaat. Sy het gesê die perde het duidelik in pyn verkeer en het verskeie wonde. Volgens haar het veral die vul dringende mediese hulp benodig, of hy sou vrek.

Ongeag die hangende saak is die perde is glo met behulp van ‘n hoofinspekteur op Otjiwarongo ‘n week later aan hul eienaar terugbesorg.

Republikein het gister navraag gedoen oor die saak en die hoofinspekteur se betrokkenheid daarby, en sal na verwagting binnekort ‘n antwoord by die polisiewoordvoerder vir die Otjozondjupastreek, ao. Maureen Mbeha, ontvang.

Me. Monique Redecker, uitvoerende hoof van Windhoek se DBV, het gister aan Republikein bevestig die saak sal voorts na die stasiehoof, die streeksbevelvoerder, asook die inspekteur-generaal geëskaleer word.

BESEER

Dr. Kleber het aan Republikein gesê die perde was nie te maer nie, maar is baie swak vervoer en is getraumatiseerd.

“Die vul was byna dood en boonop was dit ‘n koue dag. Sou die perde op dié manier al die pad na Outapi gereis het, sou hulle beslis gevrek het,” het sy gesê. Sy het gesê dit was moeilik om hulle te behandel omdat hulle wild is.

“Die perde het duidelik pyn gehad – hulle het gedurig hul gewig van een been na die ander verplaas, ” het sy gesê.

Kleber sê dit is verbasend dat die merrie, wat ver dragtig is, nie geaborteer het nie.

In ‘n beëidigde verklaring deur Kleber skryf sy ‘n hoofinspekteur van die Otjiwarongo-polisie het haar die dag ná die diere gekonfiskeer is, gevra om die perde terug aan die eienaar te besorg.

Sy het toe gesê die diere is nie medies geskik om vervoer te word nie, maar die inspekteur het haar glo later die dag weer gebel en probeer oortuig om minstens die dragtige perd aan die eienaar terug te besorg.

Volgens dr. Kleber het die eienaar van die perde verlede Vrydag by haar praktyk opgedaag om die rekening te betaal, maar met haar gestry dat die rekening te hoog is. Later het die hoofinspekteur ook telefonies probeer om haar te oortuig die rekening is te hoog.

Sy sê sy is later deur die DBV in Windhoek ingelig dat die perde nie veronderstel was om terug na die eienaar te gaan nie en die polisie moes dit verhoed het en nie die beskuldigde gehelp het nie.

PADBLOKKADE OPGESTEL

Die beskuldigde is aanvanklik deur ‘n bekende persoonlikheid in perdesport- en uithouritkringe, me. Sylvia Janbey, en haar dogter Maya by Brakwater op ‘n sleepwaentjie raakgesien.

Hy het glo nie gereageer op motoriste se versoek dat die twee perde wat lê, opgehelp moet word nie.

Intussen het Janbey probeer om die padblokkade tussen Okahandja en Windhoek van die perde te vertel, maar sy kon glo nie hul samewerking kry nie.

“Die beskuldigde is dus deur twee padblokkades – ook die een tussen Rehoboth en Windhoek,” het sy aan Republikein gesê.

Janbey het toe met die relevante owerhede op Otjiwarongo in verbinding getree wat ‘n padblokkade by die ingang van die dorp opgestel het.

Sy sê die vul kon aanvanklik nie opstaan nie en het vir twee ure in haar arms gelê.

“Die veearts het hom op ’n drup gesit en pynmedikasie gegee. Die perde het snymerke aan hul bene en ander wonde gehad. Die merrie wat gestaan het, het op hulle getrap. Dis tyd dat ons vir diere in Namibië begin opstaan. Hulle kan nie namens hulself praat nie,” het Janbey gesê.

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer