Misnewels oor lugvaartdebakel
Misnewels oor lugvaartdebakel

Misnewels oor lugvaartdebakel

Dani Booysen
Die gevolge van die skielike opheffing van twee stelsels vir instrumentlandings by die lughawens buite Windhoek en Walvisbaai is ‘n verleentheid vir Namibië.

Een wat die land se beeld en toerisme skade berokken.

Hoewel ‘n mens kan insien dat reëls en regulasies geen ander keuse gelaat het nie, verdien die publiek die harde feite eerder as die vae redes wat vir ons opgedis word.

Weersomstandighede wat ongunstig vir landings is, kom dikwels aan die kus voor. Verskeie vlugte op die Walvisbaai-roete is die afgelope twee weke geraak. Die naweek kon die staatshoof se straler ook nie by die lughawe neerstryk nie.

Rederye word deur fynskrif beskerm, maar is beslis nie ingenome met die situasie nie. Kwaai passasiers is ‘n slegte advertensie vir almal.

Van meet aan is die kwessie in sagte woorde toegedraai. Vernaam opleidingsvlugte sou glo geraak word. Die werklike gevolge was veel meer ontwrigtend.

Duidelik is groot onraad bemerk voordat die stelsels aanstaande jaar hersien moes word.

Die publiek moet nie verkwalik word dat hulle opnuut ‘n groot bestuursblaps vermoed nie. Beskikbare feite mag glo nie uit nie weens regsimplikasies en die sub judice-beginsel – redes wat Jan en San Alleman ongelukkig dikwels wantrou.

Was daar dalk nie geld om sagteware te hernu nie of is iemand betaal vir ‘n diens wat nie gelewer is nie? Klaar die misnewels vir die publiek op.

Nuwe tenders beteken twee dinge: tydsverloop en bykomende uitgawes.

So sê ander

5 Augustus 2019

Beeld, Die Burger en Volksblad sê

Met die verval van die INF-verdrag – wat missiele met ’n reikafstand tussen 500 en 3 500 km verbied – is ’n verdere stap gedoen in die afbreek van die Koue-Oorlogse internasionale politieke stelsel wat so lank vir stabiliteit gesorg het.

Verskeie ander dergelike verdrae het reeds verval sonder dat hulle hernu is, en luidens berigte is dit nie die einde van die storie nie.

Die internasionale politiek berus oorkoepelend op ’n enkele sentrale pilaar: stabiliteit. Sonder stabiliteit ly internasionale handel en beleggings, en groei die moontlikheid van oorlog.

Dit het eeue lank geduur tot dié waarheid min of meer tot die mensdom deurgedring het.

Die geslag staatsmanne wat deur die twee wêreldoorloë gevorm is, het in die Koue Oorlog hul gesonde verstand gebruik.

Helaas is die leiers wat deesdae in Washington en Moskou (en ook Beijing) aan die stuur van sake is, minder rasioneel. Dis nie dat hulle bewustelik op oorlog afstuur nie. Maar hulle meen elkeen hulle kan hul eie lande se invloed slegs verhoog deur die ander te benadeel.

Dís waarom pres. Donald Trump handelsoorloë links en regs begin. Dis hoekom pres. Wladimir Poetin die Krim onwettig geannekseer het en Oekraïne en die Baltiese state ondermyn. Dis die rede waarom pres. Xi Jinping die grootste deel van die Suid-Chinese See eenvoudig annekseer.

Dis hoog tyd dat rasionele denke weer seëvier.

• NETWERK24

Kommentaar

Republikein 2024-12-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 19° | 36° Rundu: 20° | 32° Eenhana: 19° | 27° Oshakati: 21° | 27° Ruacana: 20° | 25° Tsumeb: 19° | 27° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 21° | 33° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 18° | 28° Henties Bay: 16° | 21° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 16° | 21° Rehoboth: 21° | 32° Mariental: 22° | 36° Keetmanshoop: 20° | 36° Aranos: 20° | 35° Lüderitz: 15° | 29° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 14° | 23° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 20° | 24° Lubumbashi: 17° | 31° Mbabane: 16° | 19° Maseru: 15° | 31° Antananarivo: 15° | 34° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 26° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 17° | 25° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 17° | 21° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 21° | 34° Harare: 19° | 31° #REF! #REF!