Möller-saak: Beloning van N$150 000 uitgereik

Moordverdagtes sê hulle word sleg behandel
Francoise Steynberg
Otis Finck op Walvisbaai - Twee van die vyf beskuldigdes in die moord op mnr. Hans Möller beweer die reserwemagbeamptes verantwoordelik vir hul vervoer vanaf Windhoek na Walvisbaai, behandel hulle sleg.

Die beskuldigdes, mnre. Gotlieb Panduleni (30), David Tashiya (29), David Shekundja (35), Elly Hinaivali (29) en Malakia Shiweda (28) het gister voor landdros John Sindano op klagte van moord, inbraak met die opset om te roof, roof en poging tot moord verskyn.

Die landdros het borgtog geweier en die saak is vir verdere ondersoek tot 28 Februarie uitgestel.

Tashiya en Shekundja se regsverteenwoordiger, mnr. Mpokiseng Dube, het die hof ingelig dat sy kliënte nie gelukkig is met die manier waar op hulle vir hul hofverskynings vanaf Windhoek na Walvisbaai vervoer word nie.



BEAMPTES RY GLO ROF

“Die beskuldigdes se hande word agter hul rûe geboei. Tashiya het geval, sy kop gestamp en gevra dat hy hospitaal toe geneem word sodat sy beserings ondersoek kan word,” het Dube gesê.

Panduleni het aan die hof vertel hy het vir twee dae nie geëet nie, en hy beskuldig die beamptes wat hulle vervoer ook van roekeloosheid.

“Ek het my rug in die proses beseer. Ons hande word agter ons rûe geboei en ons val rond wanneer hulle vinnig ry," het hy gesê.

Sindano het gesê die beskuldigdes moet met respek behandel word. "Hulle is onskuldig tot hulle skuldig bevind word. Die beseerde beskuldigdes moet die polisie versoek om hulle hospitaal toe te neem,” het hy gesê.

Wyle Möller se vrou, me. Carol-Anne Möller, het gesê die beskuldigdes moes hul menseregte oorweeg het toe hulle die misdade, wat tot haar man se dood gelei het, op 17 Junie verlede jaar gepleeg het.

“Wat van my man, wat koelbloedig doodgeskiet is, se regte? Hulle het my vasgemaak en my verbied om 'n ambulans te bel en nou kla hulle oor hul regte wat geskend word.”



'AGT MENSE BETROKKE'

'n Klein groep mense met plakkate het gister die hofsaak bygewoon en geëis dat borgtog nie aan die beskuldigdes gegee word nie.

Die aanklaer, me. Tresia Hafeni, het voorheen weens die erns van die saak borgtog teengestaan. Sy het gesê dit sal nie in die belang van die gereg wees as hulle op borgtog vrygelaat word nie en dat hulle kan vlug.

Carol-Anne hou vol daar is agt mense betrokke by die moord op haar man. Sy het 'n beloning van N$50 000 per persoon (N$150 000 in totaal) uitgereik vir inligting wat kan lei tot die inhegtenisneming van die drie ander verdagtes wat steeds op vrye voet is.

“Die hek na ons erf is met 'n sleutel oopgesluit, so ek glo iemand in die binnekring was betrokke. Ek het vier van die beskuldigdes positief geïdentifiseer. Een het 'n mes teen my nek gedruk en my gesny terwyl hy geld geëis het.

“'n Ander een het my vasgemaak nadat my man geskiet is. My dogter is steeds getraumatiseer,” het sy gesê.

Tashiya en Shekundja is op 18 Junie 2016 in hegtenis geneem en Gotlieb die dag daarna. Hinaivali en Shiweda is op 22 June in hegtenis geneem.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!