Möller-voorverhoor uitgestel
Die oorledene se vrou en ander familielede sê hulle is van plan om by elke hofverskyning te wees.
Elvira Hattingh
Die saak waarin vyf mans teregstaan op die moord op die bekende Walvisbaaise sakeman, mnr. Hans-Jörg Möller in Junie 2016, is gister in die hoërhof in Windhoek vir 'n verdere voorverhoor tot 15 Februarie uitgestel.
Mnre. Panduleni Gotlieb (31), David Tashiya (30), David Shekudja (36), Elly Hinaivali (30) en Malakia Shiweda (29) is van onder meer moord, poging tot moord en sameswering om huisbraak te pleeg met die doel om te roof, of roof met verswarende omstandighede aangekla.
Möller se vrou, Carol-Ann, het gister saam met familielede by die hof opgedaag met plakkate waarop gevra word dat geen borgtog aan die beskuldigdes toegestaan moet word nie.
Sy het aan Republikein gesê haar man se dood is steeds 'n baie emosionele saak vir haar gesin en dat sy en ondersteunende familielede van plan is om by elke hofverskyning van die beskuldigdes teenwoordig te wees.
“Ons sal daar wees al is ek nie op die oomblik geroep om te getuig nie. Ek wil hê hulle moet sien ek staan by my man en hulle is skuldig – al praat hulle terug met my en wys vir my allerhande tekens met hul vingers,” het sy gesê.
Carol-Ann sê die skrikwekkende gebeure op die nag van 16 Junie bly in haar kop maal.
“Hy was my man, hy was 'n awesome dad en 'n sakeman wat baie vir die gemeenskap gedoen het.
“Hy het vir ons baie mooi herinneringe gelos. .
“'n Mens oorleef deur na grashalms te gryp – dit help my kinders. Hul pa was hul held, want hy het 'n koeël gevat om ons te beskerm. Jy kry geen groter liefde as dit in die wêreld nie.”
Carol-Ann sê Namibiërs moet versigtig wees om nie aan te neem Namibië is 'n veilige land nie.
“Die sekuriteit binne jou huis is van uiterste belang.
“Mense moet 'n veiligheidsdeur tussen die res van die huis en hul slaapkamers aanbring.
“As ons so 'n deur gehad het, sou ons dalk 'n paar minute meer gehad het om die paniekknoppie te druk of om iets te doen wat my man se lewe kon red.”
REGSTELSEL LAAT
NAMIBIËRS IN DIE STEEK
Carol-Ann se ma, me. Rita Sowden, is van mening die plaaslike regstelsel laat Namibiërs in die steek - veral aangesien Hans-Jörg se beweerde skieter glo met verskeie ander moorde verbind word en telkemale weer op borgtog vrygelaat is.
Sy sê ook die wet behoort verander te word soos in Botswana, waar dié tipe misdade nie geduld word nie.
“Ons is nie die enigstes wat hieronder ly nie en kan nie die wa alleen deur die drif trek nie.
“Ons het die ondersteuning van ander Namibiërs nodig. Dit sal help om dit vir ons almal veiliger in Namibië te maak.”
Volgens die klagstaat het die mans die nag van 16 Junie 2016 by die Möllers se huis ingebreek en geld, asook ander waardevolle items, van Carol-Ann geëis.
Hulle het haar glo met 'n pistool, messe, 'n bandhefboom en 'n skroewedraaier gedreig.
Toe haar man tot haar redding wou kom, is 'n skoot afgevuur en is Hans-Jörg in die maag getref.
Die beskuldigdes het glo voortgegaan om vir Carol-Ann aan te rand en het haar vasgebind voor hulle die huis, op soek na geld en ander waardevolle items, geplunder het.
Hulle het daarna met kontant en gesteelde items ter waarde van sowat N$174 000 op die vlug geslaan.
Hans-Jörg het op 18 Junie in die hospitaal gesterf as gevolg van die beserings wat hy opgedoen het.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie