Möllermoord: Nóg twee voor die hof
Jessica Botes
Betogers het gister voor die landdroshof op Walvisbaai bymekaargekom om die toekenning van borgtog aan die vermeende moordenaars van ’n bekende sakeman op die dorp teen te staan.
’n Sosiale mediaveldtog, No Bail 4 Murderers in Namibia, is intussen deur Walvisbaaiers begin om deur middel van handtekeninge op ’n versoekskrif druk op die howe uit te oefen om nie borgtog toe te staan aan verdagtes wat teregstaan op moordklagte nie.
Die betogers, waarvan sommige T-hemde met hierdie slagspreuk daarop gedra het, het verdaag kort nadat twee beskuldigdes, mnre. David Shekudja en David Tashiya, hul eerste verskyning in die hof gemaak het. Die twee mans is onder swaar polisiebewaking na die stampvol hofsaal begelei waar hulle voor landdros Liwayo Sindano verskyn het.
Shekudja en Tashiya staan op klagte van moord, huisbraak met die doel om te roof, gewapende roof en poging tot moord tereg.
Nadat dié klagte deur die landdros aan hulle in die hof voorgelees is, het Shekudja gesê hy sal om regshulp aansoek doen terwyl Tashiya gesê het hy sal homself tydens die verhoor verteenwoordig.
Staatsaanklaer Tresia Hafeni het gesê die staat is sterk gekant teen die toekenning van borgtog aan die beskuldigdes, omdat hulle baie ernstige klagte in die gesig staar en dit nie in die beste belang van die administrasie van die gereg sou wees nie.
Hoewel borgtog nie aan die twee mans toegestaan is nie, het Sindano vir hulle gesê hulle mag ’n formele aansoek om borgtog by die hof indien.
Sindano het die twee beskuldigdes se saak met dié van nog ’n beskuldigde, mnr. Panduleni Gotlieb, bymekaargevoeg. Gotlieb het gister sy eerste verskyning op klagte van moord, huisbraak met die doel om te roof en poging tot moord in die landdroshof gemaak.
Die klagte teen die beskuldigdes hou verband met ’n roof wat na bewering op 17 Junie op Walvisbaai plaasgevind het. Tydens die voorval het die drie beskuldigdes en nog drie vermeende rowers glo by die oorledene, mnr. Hans-Jörg Möller, se huis ingebreek. Hulle het na bewering tydens die roof vir Hans-Jörg in die maag geskiet en sy vrou, Carol-Ann, ernstig aangerand. Hans-Jörg is ’n dag ná die voorval in ’n hospitaal op Swakopmund dood.
Die polisie het flink opgetree en kort ná die voorval twee foto’s aan die publiek vrygestel van die verdagtes wat moontlik by die aanval op die Möller-gesin betrokke was. Dit het bygedra tot Gotlieb se inhegtenisneming Vrydagaand in ’n minibus-taxi op pad na die Noorde tussen Ondangwa en Omuthiya.
Shekudja en Tashiya is in Windhoek deur die polisie in hegtenis geneem en het Maandagmiddag in ’n uitkenningsparade op Walvisbaai verskyn.
Carol-Ann was ook gister by die hof en het nadat Shekudja en Tashiya se saak afgehandel is, hulle buite die hof aangegluur terwyl lede van die publiek die twee mans oor die moord op Hans-Jörg ondervra het. Haar oë is nog blou van die beserings wat sy tydens die aanranding op haar opgedoen het.
Die drie beskuldigdes se saak is tot 2 Augustus uitgestel sodat die polisie se ondersoek voltooi kan word.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie