Mmusi su00ea hy sal saam met enigeen werk
Mmusi su00ea hy sal saam met enigeen werk

Mmusi sê hy sal saam met enigeen werk

Zille het Vrydag verras met die besluit om haar beskikbaar te stel vir die pos wat James Selfe 19 jaar lank beklee het.
Jacob Rooi



'n Uiters diploma­tiese Mmusi Mai­mane sê hy en Helen Zille het in die ver­lede 'n “moeilike verhouding” gehad, maar as afgevaardigdes na die party se federale raadsvergadering op 19 en 20 Oktober haar as voorsitter kies, sal hy saam met haar moet werk om sy visie vir die party in werking te stel.

As sy visie teengestaan word, moet die party 'n kongres daaroor hou, het Maimane in 'n onderhoud aan Rapport gesê.

Zille het Vrydag verras met die besluit om haar beskikbaar te stel vir die pos wat James Selfe 19 jaar lank beklee het.

Die ander kandidate is Mike Waters, Thomas Walters en Athol Trollip.

Maimane sê dit is Zille se volste reg om vir die posisie te staan, maar afgevaardigdes sal bepaal of sy suksesvol is.

“Dit is belangrik om kennis te neem van die rigting waarin ons die party neem. Ons wil 'n party vir alle burgers bou, wat teenwoordig is op die grond en wat ons historiese ongeregtigheid aanspreek en geregtigheid bring. Ek sal saam met mense werk wat verbind is tot daardie visie. Dit is dus nie vir my om te besluit oor enige spesifieke kandidaat nie,” het hy gesê.

Die verhouding tussen Maimane en Zille het in 2017 'n laagtepunt bereik nadat Maimane Zille gerepudieer het weens 'n reeks twiets oor die nalatenskap van kolonialisme.

Maimane het in Junie 2018 aan die Sunday Times gesê dit was 'n fout om Zille, wat steeds Wes-Kaapse premier was, in besluitnemingstrukture te behou nadat sy in 2015 as partyleier uitgetree het. Hy het gesê dis onhoudbaar om die voormalige en huidige leier in dieselfde strukture te hou.

Gister sê hy: “Sy het na die Instituut vir Rasseverhoudinge gegaan en ek het geen kontak met haar gehad nie. So dis nie vir my om te sê as sy wen gaan ek bedank nie.

“Ons het 'n moeilike verhouding in die verlede gehad. Maar die party moet op die toekoms fokus. Laat die afgevaardigdes oor die toekoms van die DA besluit. Die posisie is 'n baie belangrike pos in die DA. Dis nie vir my 'n persoonlike kwessie nie. Of ek bly of nie, dis belangrik vir die DA om op die toekoms te fokus. Ons kan nie die DA 'n eng minderheidsparty maak nie.”

Maimane het sy uitnodiging aan kritici herhaal dat as daar 'n begeerte is om hom voor 2021 se partykongres as leier te vervang, 'n vervroegde kongres belê moet word.

“Ek het nooit daarvan weggeskram nie. Ek het trouens daarvoor gevra.”

Hy is bewus van enkeles se teenstand teen hom, maar hy gaan nie “apologeties” word oor wat hy vir die party beplan nie.

“My taak is ook om mense te verenig. Ek het nooit probeer om op grond van ras te mobiliseer nie. Ek het 'n inklusiewe benadering en werk saam met swart mense en wit mense. Die moeilikheid is daar is mense wat dit eenvoudig teenstaan.”

Dit gaan ook nie oor sy pos nie. “Ek is meer gefokus op die politieke rigting (van die party). En ek sal daardie doelwit en rigting dien. Of dit binne of buite die DA is, dit bly my missie. Ek klou nie vas aan 'n werk nie. Ek is bekommerd want hier is 'n visie wat ernstig bedreig word.”

Hy het Mike Waters, adjunk- federale voorsitter, by die naam genoem as iemand wat 'n veldtog teen hom voer.

Hy sê Waters en sy volgelinge “het hul eie kwessies”.

In 'n rubriek op News24 het John Moodey, DA-leier in Gauteng, die afgelope week geskryf Waters word gedryf deur “diep bitterheid” omdat hy sy pos as die party se adjunkhoofsweep verloor het aan Jacques Julius, 'n bruin DA-LP.

Maimane sê hy is nie bekommerd oor 'n smeerveldtog teen hom nie. “Vals aantygings is teen my gemaak. Ek het die feite voor die organisasie geplaas; my aan ondersoek onderwerp. Maar as my visie beveg word, moet hul beskouings by 'n kongres op die tafel geplaas word eerder as om 'n smeerveldtog in die openbaar te voer.”

– Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!