Modder en Bloed in 2016 vrygestel

Jacqueline Louw
Die verfilming van Modder en Bloed, ’n fliek wat die ontberings, uithouvermoë, die dapper aanvaarding van ’n uitdaging en die trots van ’n nasie weerspieël, is pas voltooi.
Besonderhede rakende die vervaardiging en rolverdeling was vir ’n geruime tyd in ’n kleed van geheimhouding gehul, maar die eerste reklamefoto’s is pas uitgereik.
Modder en Bloed vertel die verhaal van Willem Morkel (vertolk deur Stian Bam), ’n Boerekryger en gesinsman, wie se vrou en enigste kind gedurende die Anglo-Boere­oorlog (1899-1902) deur Britse soldate vermoor word. Willem word saam met ander Boere-krygsgevangenes op St. Helena-eiland in die Atlantiese Oseaan aangehou. Die Engelse konsentrasiekamp staan onder die tirannieke beheer van Kolonel Swannell (Grant Swanby), ’n vuurvreter-imperialis met ’n onblusbare haat jeens die ­Afrikaner.
Boere-krygsgevangenes word aan erge geweld en onderdrukking onderwerp. Hulle word voortdurend deur die Britse bevelvoerder en sy soldate verneder in pogings om hulle emosioneel te knak en fisiek af te takel. Maar, ten spyte van die ongekende marteling wat hulle moet verduur en die onmenslike ontberings wat hulle moet trotseer, word hul weerstand en soeke na vergelding, op watter manier ook al, elke dag sterker. Met die bystand van sy medegevangenes aanvaar Willem ’n uitdaging wat uiteindelik sou lei tot soete wraak in die belangrikste rugbywed­stryd van hul lewens.
Die fliek spog met ’n indrukwekkende rolverdeling wat beide Suid-­Afrikaanse en Britse akteurs insluit. Van die bekende plaaslike sterre wat te siene sal wees, is Bok van Blerk, Albert Maritz, Michael Richard, Edwin van der Walt, Jacques Bessenger, Altus Theart, Albert Pretorius en Deon Lotz. Die Britse rolverdeling sluit Charlotte Salt (Beowulf/The Tudors), Patrick Connolly (Inferno/Crushed), Nick Cornwall (Blood Loyal/Retribution) en Josh Myers (The Sweeney/Anti-Social) in.
Die volledige rolverdeling is op www.modderenbloedmovie.com.

Regisseur Sean Else vertel
“Handré Griessel (van Aan de Doorns Wynkelder) het my gewaarsku: ‘Sean, Worcester-­winters is rof. Die wind waai woes, dis yskoud en dit reën aanhoudend.’
Maar ek wou nie luister nie; inteendeel, ek het gevoel sulke weer sou perfek wees vir ’n epiese periode-rolprent wat op die krygsgevangene-­eiland St. Helena gedurende die Anglo-Boereoorlog in 1901 afspeel.
“En dit wás ook so: Die wind, die sand, die reën, die mis en die koue gedurende die lang, storm­agtige aande het ’n getrouheid en werklikheid aan die film verleen wat geld nie sou kon koop nie - dit wás rof, baie rof!
“Maar dit was ’n ondervinding wat ’n ongelooflike span mense van oor die wêreld, voor en agter die kamera, met elke uitdaging net nader aan mekaar en die projek gebring het.
“Daarbenewens het Handré, sy vrou Esther, hul ouers en kinders, en inderdaad elkeen in die Worcester-gemeen­skap agteroor gebuig om die onmoontlike moontlik te maak. Ek weet nie waar begin ’n mens om dankie te sê vir alles en almal wat deurgedruk het tot met die laaste kamera­skoot nie. Ek kan net sê dat ek ontsettend trots is op die hele span en die rolprent wat ons almal saam geskep en ’n werklikheid laat word het. Ek kan nie wag om hierdie storie met die hele wêreld te deel nie.”
Die rolprent is in die Worcester-omgewing en dele van Kaapstad geskiet en sal vanaf April 2016 vrygestel word. Modder en Bloed word uitgereik in samewerking met kykNET Films en die DTI en word deur Ster Kinekor Entertainment versprei.
• Sosiale media-skakels: www.facebook.com/Blood­AndGloryMovie­?fref=ts; @bloodglorymovie; Instagram: bloodglorymovie, #ModderEnBloedMovie, #OpgeeNooit

Kommentaar

Republikein 2024-11-16

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 35° Rundu: 19° | 35° Eenhana: 20° | 36° Oshakati: 23° | 35° Ruacana: 22° | 35° Tsumeb: 22° | 34° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 20° | 33° Gobabis: 21° | 33° Henties Bay: 16° | 24° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 15° | 23° Rehoboth: 21° | 33° Mariental: 21° | 37° Keetmanshoop: 21° | 38° Aranos: 22° | 37° Lüderitz: 14° | 25° Ariamsvlei: 20° | 39° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 35° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 17° | 29° Maseru: 16° | 31° Antananarivo: 16° | 32° Lilongwe: 21° | 33° Maputo: 21° | 32° Windhoek: 20° | 33° Cape Town: 16° | 25° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 16° | 31° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 20° | 32° Harare: 18° | 28° #REF! #REF!