Modder en Bloed is hier!

Jacqueline Louw
Jacqueline Louw - Danksy Modder en Bloed gaan die ontbering, uithouvermoë, dapperheid en trots van ’n nasie eersdaags op die groot skerm te sien wees. Die langverwagte historiese rolprent oor die Anglo-Boereoorlog begin in April in Windhoek draai.
Dit is 1901 en terwyl die Anglo-Boereoorlog in Suid-Afrika woed, vermoor Britse soldate die Boerekryger Willem Morkel se vrou en enigste kind.
Willem word gevange geneem en na St. Helena verban, waar ander Boere ook as krygsgevangenes aangehou word. Weens die ontberinge op die eiland is elke dag ’n stryd om oorlewing, maar dit kweek kameraderie onder die mans.
Kol. Swannell (Grant Swanby), wat in beheer is van die konsentrasiekamp, haat Afrikaners en maak hul lewens so moeilik moontlik. Willem aanvaar ’n aanbod wat sal lei tot die belangrikste stryd in die Boere se lewens . . .
Om die uitreiking van Modder en Bloed te vier, het Kollig ’n paar vrae gevra aan Stian Bam wat die rol van Willem Morkel vertolk. Stian is die gewilde ster van televisiereekse soos Die Boland Moorde, Vallei van Sluiers en is ook as verhoogakteur bekend.


Vertel ons van jou kinder- en jeugjare – en ook van jou Namibiese agtergrond
Ek is op Walvisbaai gebore en het daar grootgeword. Ons het eers in 1993 na Suid Afrika verhuis. My jeug het ek in die 1980’s en 1990's in Walvisbaai beleef. Ek onthou die bosoorlog en Casspirs wat met ligte aan ry op die teerpad tussen Walvisbaai en Swakopmund met die sand wat see toe waai. Valskermspringers wat soos spikkels teen die blou hemel afsak grond toe. Die bom wat in die poskantoor ontplof het. En die een by die slaghuis oorkant Laerskool Hoogenhout een Saterdagoggend toe ons 'n atletiekbyeenkoms gehad het, Laerskool Hoogenhout waar ek myself gevind het. Die vierkant binne waar ek my eerste soen gehad het. Hoërskool op Walvisbaai, kadette op Woensdae en kadetkampe in die woestyn. Toneel. Koor. Rugby. Krieket. Tennis. Atletiek. Busry binneland toe vir byeenkomste. Sport en kultuur, altyd in die regte hoeveelhede gemeng. My maats. Sommige wat nie meer met ons is nie. Somervakansies by die see. Kabeljou en galjoen braai op die strand. Winter op Spitskoppe naby Keetmanshoop. My wonderlike familie wat my gelei het deur die lewe en aan wie ek baie verskuldig is. Die son, sand en see vloei nog deur my are. Jy sal dit nie kan uitwis nie.


Hoe sou jy die karakter van Willem in Modder en Bloed beskryf?
Met die gegewe van die Anglo-Boereoorlog as agtergrond is Willem ’n doodgewone man. Hy is ’n boer wat as rebel deel word van die oorlog. Soos baie ander moes hy sy vrou en kind op sy plaas agterlaat om te gaan veg in ’n oorlog waaraan hy sterk geglo het. Maar soos baie ander het hy ook alles verloor. En deur dit kom Willlem dan tot sy reg as ’n gebore leier, as mens en as Afrikaner. Dis ’n universele ding dié. Om alles te verloor en dan jou ware self te vind. Dus sien ek Willem as ’n metafoor vir die Afrikaner in daardie tyd van die geskiedenis. ’n Elkeman wat tot almal kan spreek.


Is dié karakter iemand van wie ons kan leer?
Regisseur en skrywer Sean Else het dit reggekry om ’n baie sterk epiese verhaal te skryf van ’n man se stryd met verlies en hoe hy daarmee omgaan en sy gevolglike ontdekking van homself en die lewe om hom. En terselfdertyd is dit ’n verhaal van ’n volk wat uit onderdrukking en oorlog nie net hul krag vind nie, maar ook hul medemenslikheid teenoor hulle onderdrukkers toon. Dis ’n verhaal wat vertel moet word en dis noodsaaklik dat dit nou vertel moet word. Willem is ’n gewone mens wat ander kan inspireer om groot dinge te doen. Ek dink mense sal sekere universele waardes kan raaksien en dalk sommige saam met hulle terugneem huis toe. Ek glo dit is ’n persoonlike ervaring om na ’n rolprent of teaterstuk te gaan kyk. Dis soos geloof. Elkeen sal daaruit neem wat hy nodig ag.


Was jy bekend met die geskiedenis van die Anglo-Boereoorlog toe jy by die rolprent betrokke geraak het?
Ek was bevoorreg om betrokke te gewees het by twee ander projekte wat afspeel in die Anglo-Boereoorlog: Katinka Heyns se dokumentêre drama, Feast of the Uninvited en die rolprent, Veraaiers. Ek het dus alreeds baie opgelees. Ek dra kennis van die oorlog, maar is geen ekspert nie. Mens lees wat jy kan om jouself 'n breër kennis van sekere goed te gee, maar elke rol vereis iets anders. Die oorlog is slegs die agtergrond waarteen die rolprent afspeel.


Was daar enige spesiale uitdagings met die maak van die rolprent?
Vir my was dit ’n uitdaging omdat dit besonder moeilik was om die regte nuanse oor te dra van 'n man wat nie ’n stereotipe is nie, maar ’n gewone mens, maar met besondere kwaliteite wat ander kan inspireer om groot dinge te doen. Gelukkig was ek in veilige hande met Sean Else en die ander spelers wat ek as vangnet kon gebruik. Fisies was die weer 'n uitdaging, maar niemand het ooit gekla nie omdat almal so sterk in die projek geglo het.


’n Groot deel van die aksie in die rolprent speel rondom die rugbywedstryd tussen die krysgevangenes en die Britse soldate op St. Helena af. Is jy lief vir rugby?
Ek het met rugby grootgeword en het dit op skool gespeel, maar ek het nie 'n natuurlike talent vir sport nie. My lewenstyl laat my ook nie toe om rugby of enige ander sport getrou te beoefen nie. Drama is 'n selfsugtige minnares en vereis jou volle aandag. My pa en vriende is daar om my op hoogte te hou van provinsiale rugby, maar ek doen gewoonlik moeite om internasionale wedstryde te kyk. Ek vermoed dit sal binnekort verander as my laaitie meer begin belangstel in sport as strokiesprente en super-helde. En die TV weer myne is.


Van al die rolle wat jy al vertolk het, het jy een wat jou besonder na aan die hart lê?
Ek is iemand wat waarde aan alles heg. Selfs die boggerops wat jy begaan. Dus elke rol is uniek op sy eie manier. Jy groei van rol tot rol en jou ambag baat daarby. Die ambag wat ek beoefen, lê my na aan die hart.


Waaraan skryf jy jou sukses toe?
Sjoe. Ek sukkel met die idee van sukses. Ek weet nie of ek regtig iets daaroor kan sê nie. Ek is bevoorreg en geseënd om die werk te doen wat ek doen. Ek is ook bewus dat ek baie gelukkig is met die werk wat ek al gekry het. Ek is suksesvol in die poging om 'n bestaan uit toneelspel te maak. Mens kan seker sê daar lê 'n mate van sukses in die feit dat ek gereeld werk en dat mense my gereeld gebruik, maar ek dink toneelspel is een van daardie dissiplines wat 'n leeftyd neem om te verstaan en te bemeester. Dalk eendag as ek 60 is, sal ek kan terugkyk en sê ja, jy het 'n mate van sukses gehad in jou ambag, of so hoop ek.


Hoe vergelyk Modder en Bloed met ’n fliek soos Die Kandidaat (1968)
Dis onmoontlik om die twee met mekaar te vergelyk. Hulle is in verskillende genres. Modder en Bloed is epies in skaal en groot in omvang. Sean gee ’n blik op die geskiedenis waar hy feitelike inligting gevat het omdat hy so lief is vir daardie geskiedenis en hy gebruik iets soos rugby en die Anglo-Boereoorlog om hierdie verhaal te skep van mense wat uit onderdrukking opstaan en ’n gesamentlike doel het. Dit is ’n “feel good”- rolprent. Die Kandidaat is ikonies. En dit is klassiek omdat dit in daardie tyd, in 1968, baie pertinent teen apartheid is. Dit maak daardie stelling. Dit krap wonde oop oor die Broederbond, maar dit is ook een van daardie rolprente waar ’n regisseur en die akteurs die hoogtepunt bereik. Dit is een van Kobus Rossouw se beste rolle wat hy nog ooit vertolk het en dit is regtig, volgens my, Jans Rautenbach se beste rolprent produksiegewys, en dis ook die heel eerste Afrikaanse politieke riller. Dit is ongeëwenaar. Jy gaan nie in Suid-Afrika weer so tipe rolprent kry nie. Ook omdat die tyd waarin daardie rolprent gemaak is, gaan jy nooit weer kry nie. Ons kyk nou met ’n geskiedkundige blik terug na goed, maar ek dink nie dis moontlik vir ons om iets op daardie skaal weer reg te kry nie. Dit is ’n baie goed geskrewe en fyn deurdagte draaiboek en dit is hoekom dit bekend staan as een van Suid-Afrika se beste rolprente ooit.
Enige laaste gedagtes?
Modder en Bloed open in teaters landswyd op 1 April. Ondersteun asseblief Suid-Afrikaanse rolprente.
Amptelike lokprent skakel: https://youtu.be/Vxw8IeqY3IM

Kommentaar

Republikein 2024-12-25

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 19° | 32° Eenhana: 21° | 33° Oshakati: 21° | 32° Ruacana: 22° | 29° Tsumeb: 20° | 27° Otjiwarongo: 20° | 29° Omaruru: 24° | 33° Windhoek: 21° | 30° Gobabis: 19° | 31° Henties Bay: 17° | 23° Swakopmund: 17° | 18° Walvis Bay: 18° | 23° Rehoboth: 24° | 33° Mariental: 22° | 36° Keetmanshoop: 25° | 37° Aranos: 20° | 35° Lüderitz: 16° | 26° Ariamsvlei: 26° | 38° Oranjemund: 16° | 25° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 20° | 29° Lubumbashi: 17° | 31° Mbabane: 16° | 30° Maseru: 16° | 31° Antananarivo: 16° | 31° Lilongwe: 20° | 33° Maputo: 21° | 32° Windhoek: 21° | 30° Cape Town: 20° | 30° Durban: 19° | 27° Johannesburg: 16° | 25° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 30° Harare: 18° | 27° #REF! #REF!