Model gee terug aan die gemeenskap

Vasbeslote om ’n verskil te maak
Mariselle Stofberg
Mariselle Stofberg – Die passievolle 21-jarige Evany van Wyk is vasbeslote om ’n verskil in haar gemeenskap te maak. Hierdie model, skrywer en toekomstige regisseur het onlangs besluit om ’n sopkombuis in haar dorp te begin.

“Ek is die jongste van vier kinders wat grootgeword het met ’n enkelma wat alles in haar vermoë gedoen het vir haar kinders. Ek ken van moeilike tye en van honger gaan slaap; van eksamen gaan skryf op ’n honger maag wetend dat wanneer ek huis toe gaan daar dalk steeds geen plan sou vir kos wees nie,” sê sy.

“My ma het my altyd geleer dat ek nie moet toelaat dat omstandighede my terughou nie. Hierdie winter het ek en my ma weer finansieel deur ’n moeilike tyd gegaan en moes dikwels sonder maaltye en sonder elektrisiteit oor die weg kom. Maar iets het my laat besef ek moet my seëninge tel. Daar is so baie mense wat in veel erger situasies as ek sit.”

Evany het toe van haar vriende genader en gevra om te help sodat hulle hulpbronne en idees bymekaar kon sit en eendag vir die kinders in die minderbevoorregte gebiede iets gaan gee om te eet.

“Ek, my ma en my geliefde het sop en brötchens gemaak om uit te deel. Ek kan nie beskryf hoe ek gevoel het toe die kos klaar word en ek sien daar is steeds kinders wat nie gekry het nie. Dit was hartverskeurend. Ek moes die idee eenvoudig verder vat.”

Die span het onlangs weer vir ’n tweede maal uitgegaan en kon vir 100 kinders ’n broodjie en ’n beker sop gee. “Die weerloosheid en dankbaarheid van daardie kinders is iets wat daagliks in my gedagtes is.

“Ek het toe besluit om op Facebook te vra vir hulp en ’n hele paar mense het my gekontak om te help. Dit voel steeds vir my of dit nie genoeg is nie, maar ek weet mettertyd sal die Here my in staat stel om meer te kan doen. Ek wil ook net dankie se vir elkeen wat hand bygesit en dalk nog sal. Ek is so ontsettend dankbaar.”

Tussendeur is sy ook besig met haar eerste jaar afstandstudies in kommunikasie aan die Namibië Universiteit vir Wetenskap en Tegnologie (Nust).

Hoewel sy passievol is oor mense, is sy ’n kombinasie van ’n ekstrovert en ’n introvert.

Haar stokperdjies sluit in om gereeld fotosessies te doen saam met vriende wat passievol oor fotografie is – terwyl sy daarvan hou om voor die kamera te wees.

Sy hou van unieke, interessante idees vir foto’s en sy sal doen wat sy moet om die perfekte foto vas te vang.

“Andersins is ek maar ’n vervelige aster wat hou van my eie geselskap. Ek was maar die tipiese bleeksiel op skool en my aandag was net daarop gevestig. Ná skool het ek besluit om ’n gapjaar te neem en die water te toets met ’n joernalistieke internskap by Republikein. Dit het my baie uit my gemaksone gebring en só het my bleeksieldae stadig begin ophelder.”

In 2020 het Evany besluit om vir die Mnr. en Mej. Miedoso Inc.-skoonheidskompetisie in te skryf. “Dis hier waar ek my passie vir modelwerk ontdek het. Hoewel ek nie met die kroon weggestap het nie, het ek wel die titel van Miss Top Model gewen. Ek het dit beskou as ’n teken dat ek op die regte spoor is.”

Sy het besluit dit moenie daar stop nie en het ’n kans gewaag om vir die MTC Windhoek Modeweek ’n oudisie af te lê. “Ek was só opgewonde toe ek die groen lig kry dat ek deel was van die 2020-modeweek. Dit was die ongelooflikste gevoel om op die loopplank te wees, en ek gaan vanjaar weer deel wees daarvan. Ek voel baie geseënd en bly dat ek die selfvertroue gekry het wat my toelaat om my drome na te streef.”

Van Wyk het ook haar passie vir skryf aangewend om haar eie kortverhaal te skryf wat vir ’n YouTube-reeks verfilm word.

“SlaughterHouse Pinata is die naam van ’n kortverhaal wat ek in 2019 geskryf het. Die stigter van Mr. en Miss. Miedoso, Jason Isaaks, het dit toevallig raakgelees op die Wattpad-platform en het my genader met die idee om dit in ’n agt episode-minireeks te omskep.”

Van Wyk het dadelik ja gesê en hulle het daaraan begin skryf saam met ’n vriend, Brandon Goagoseb, wat ook vernuf op dié gebied het.

“Ons het selfs plaaslike akteurs gekry wat ingestem het om die projek saam met ons aan te pak. Die pandemie en natuurlik die finansiële effek op die produksie het ons ’n bietjie laat sloer. Ons hoop is om die eerste episode te verfilm en dit te gebruik om beleggers of borge te kan kry.”

Die reeks gaan oor ’n joernalis met ’n donker geheim: Sy is ’n reeksmoordenaar, wat later ook vermoor word op dieselfde manier waarop sy haar slagoffers vermoor het.

“Ons teikenmark is die jonger mense en ons gaan dit dus op YouTube bekendstel, as dit die Here se wil is en ons die produksie daarvan kan bekostig. Dis vir my belangrik dat jong mense in Rehoboth groter moet droom as hulle voorstoep. Enige iets is moontlik as jy net in jouself en jou drome glo.”

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-16

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 31° Rundu: 20° | 34° Eenhana: 21° | 34° Oshakati: 23° | 33° Ruacana: 20° | 30° Tsumeb: 21° | 33° Otjiwarongo: 20° | 31° Omaruru: 25° | 34° Windhoek: 20° | 31° Gobabis: 21° | 33° Henties Bay: 16° | 24° Swakopmund: 16° | 17° Walvis Bay: 16° | 23° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 22° | 38° Aranos: 23° | 36° Lüderitz: 16° | 28° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 20° | 34° Lubumbashi: 18° | 33° Mbabane: 16° | 31° Maseru: 14° | 30° Antananarivo: 13° | 32° Lilongwe: 19° | 32° Maputo: 19° | 33° Windhoek: 20° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 18° | 27° Johannesburg: 16° | 29° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 19° | 29° Harare: 16° | 26° #REF! #REF!