Modelle ongelukkig oor wanbetaling
Modelle ongelukkig oor wanbetaling

Modelle ongelukkig oor wanbetaling

Organiseerder ervaar 'kontantvloeiprobleme'.­
Tanja Bause
Tanja Bause



Verskeie Namibiese modelle wat deel was van die Windhoek Fashion Week 2016 (WFW) is nog nie vir hul werk betaal nie.

WFW is van 2 tot 5 November verlede jaar vir die eerste keer in Windhoek gehou.

Volgens die modelle sou hulle aan die einde van November betaal word. Hulle is ingelig dat hulle binne 90 dae betaal sou word.

Dié tydperk is die internasionale standaardtydperk vir betaling vir modelwerk.

Hulle is egter nog nie betaal nie.

Volgens mnr. Luis Munana, die organiseerder van WFW, ondervind hy kontantvloeiprobleme en is hy voortdurend met die modelle in verbinding.

“Alle internasionale en Suid-Afrikaanse modelle is vir hul werk betaal. Ons het gevoel dat ons hulle eerste wil betaal sodat hulle nie 'n negatiewe prentjie van Namibië daar buite gaan verf nie. Van die 60 Namibiese modelle wat ons gebruik het is 20 reeds betaal en die res gaan betaal word soos ek geld beskikbaar het,” het Munana gesê.

Volgens Munana het hy en sy vennote al die onkostes van die WFW uit hul eie sakke betaal.

Hulle het strukture en 'n loopplank in die parkeerterrein van 'n inkopiesentrum opgerig, maar dit het gereën en alles moes binne­toe geskuif word.

“Dit was 'n kwessie van óf ons kanselleer alles, óf ons gaan groter onkostes aan en skuif alles onderdak. Ons het besluit om die ekstra onkostes aan te gaan, hoewel ons reeds nie geld gehad het nie,” het hy gesê.

Munana het gesê omtrent 105 mense was by die WFW betrokke en almal moes betaal word. Ook DB Audio, wat verantwoorderlik vir die loopplank en klanktoerusting was, moes betaal word.

“Ons betaal almal stuk-stuk soos ons geld inkry. As die modelle nie kan wag nie, kan ek dit nie help nie,” het hy gesê.

Volgens hom het hy en sy vennote 'n borgskap van N$20 000 gehad en moes hulle die res self betaal.

Die modelle kla dat hulle van 'n WhatsApp-groep verwyder is waar hulle in kontak met Munana was sodra hulle vrae oor betaling gevra het.

“Dit is nie waar nie, ek is gereeld in kontak met hulle. Ek het die hele groep toe gemaak omdat daar modelle was wat gesê het hulle is al betaal en dan het die ander begin vra: Hoekom is sy betaal en ek nie? Ek het vir die modelle gesê hulle kan my direk kontak.”

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer