Moderne forensiese fasiliteit ingewy
Moderne forensiese fasiliteit ingewy

Moderne forensiese fasiliteit ingewy

Tanja Bause
Tanja Bause

Die nuwe gebou waar die Namibiese polisie se Instituut vir Forensiese Wetenskap (NPFSI) gehuisves word, is gisteroggend amptelik deur pres. Hage Gein­gob in ­Wind­hoek geopen. Die ge­bou wat teen 'n koste van sowat N$347 mil­joen – insluitend die meubels – gebou is, is op 16 Oktober vanjaar voltooi nadat konstruksie in Mei 2016 reeds begin het.

Geingob het tydens die geleentheid sy kommer uitgespreek oor die toenemende grumoorde en verkragtings van weerlose vroue en kinders.

“Die regering sal alles in sy vermoë doen om die oortreders van dié gruweldade te vervolg.

“Forensiese wetenskap is nood­saaklik om hierdie misdade te voorkom en op te los. Die polisie moet hul pogings verskerp om misdade spoediger op te los. Dit is onaanvaarbaar dat ons situasies het waar sake jare onopgelos bly. Geen verskoning kan dit regverdig nie.

“Ons sal daaraan werk om strenger strawwe in te stel wat sal sorg dat 'n persoon wat 'n ernstige misdaad gepleeg het, onbepaald uit die samelewing verwyder word.”

Die hoof van die Namibiese polisie, lt.genl. Sebastian Ndeitunga, het regters en landdroste om verskoning en vir geduld gevra.

“Ek weet ons het tans 'n agterstand van sowat 2 000 sake, maar met die inwyding van dié moderne fasiliteit vandag sal ons die situasie so spoedig moontlik aanspreek,” het hy gesê.

GESKIEDENIS

Die Nasionale Forensiese Weten­skap Instituut (NFSI) is in 1993 onder die destydse ministerie van binnelandse sake begin. Dit is in 2010 aan die Namibiese polisie en die ministerie van veiligheid en sekuriteit oorhandig en is nou bekend as die Namibiese polisie se Instituut vir Forensiese Wetenskap.

Hul eerste kantore was vanaf 1993 tot 2010 in die kelder van Bastion 2 van die ministerie van verdediging geleë. Die toenemende aanvraag vir dié dienste het vereis dat die kantore na die ou hoofkantoor van die ­Paaiekontrakteursmaatskappy (RCC) by Ausspannplatz verskuif word. Die NPFSI was hier geleë tot en met die opening van die nuwe gebou gister.

Die NPFSI kan 115 personeellede akkommodeer en tans is 73 poste gevul. Slegs tien werkers beman die vier hooflaboratoriums van die instituut, naamlik fisika, genetika (DNS), chemie en betwisbare dokumente. Ander noodsaaklike posisies, insluitend die van 'n gehaltebeheerbestuurder kon nog nie – weens 'n tekort aan finansiering – gevul word nie.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!