Moenie die bobbejaan agter die bult gaan haal
Moenie die bobbejaan agter die bult gaan haal

Moenie die bobbejaan agter die bult gaan haal

Francoise Steynberg
Francoise sê maar net

Bobbejaan klim die berg, so haastig en so lastig - ook op Kameeldoringspruit.

Die bobbejane van Kameeldoringspruit raak nou erg lastig. Nie net hulle nie, die meerkatte ook.

'n Trop bobbejane kom gereeld in die riviertjie by Kameeldoringspruit kuier, maar dan sit hulle rustig onder die kameeldoringbome en eet peule. Tog te pragtig, veral die kleintjies wat aan hul ma's vasklou.

Die meerkatte kom ten minste twee keer, soms drie keer per dag kuier. Lekker mak en gans te hans geword. Klim nou al die trappies tot op die stoep, gooi die asdrom om, klouter in die asdrom en oor die stoepbanke en lê met plat mae op die warmgebakte klipplaveisel.

As jy weer sien, stap hulle rustig die huis in en maak hulle tuis binne. Arme Jappie rooihond is al aan sy tone gebyt.

Terroris Lientjie Pienkie Ponkie-kat, oorspronklik van Otjomuise in Katutura, wat ook al hoe meer na 'n meerkat met haar spitsgesiggie lyk, lê net doodstil en pofstert. Al wanneer sy nie stout is nie, is as sy slaap of as die meerkatte (eintlik bandmuishonde) kom kuier.

Grietjie kom een aand laat by die huis en haar moederlief is histeries. "Daar was 'n groot bobbejaanmannetjie op die stoep!" vertel sy uitasem. Omtrent amok gemaak. Asdrom en stoele omgekeer en met die sak voëltjiekos vir die fisante laat spaander.

Grietjie kry 'n brief van Kameeldoringspruit se base wat sê ons moet asseblief 'n versoekskrif aan die departement natuurbewaring in die ministerie van die omgewing en toerisme skryf indien die bobbejane probleemdiere word.

"Die natuurbewaarder is baie versigtig oor die oproer as hulle die alfamannetjie moet van kant maak. Ons moet baie versigtig wees vir diere-aktiviste wat die lewe baie moeilik vir ons kan maak," lui die brief.

Inderdaad, mnr. Natuurbewaarder. Grietjie gaan beslis amok maak as julle bobbejane op Kameeldoringspruit skiet. Grietjie is een van daai diere-aktiviste wat die lewe baie moeilik vir jou gaan maak.

Grietjie weet hoe maklik julle diere as probleemdiere verklaar. Dis soos om vir bobbejaan oppasser van die vyeboom te maak.

As die woestynaangepaste leeus nie vergiftig word nie, word hulle doodgeskiet. Kyk hoe is ons Vyf Musketiers van Vanishing Kings almal uitgewis.

Kyk wat het 'n maand gelede met die woestynaangepaste olifant Voortrekker gebeur.

Oeps, ons mag mos nie wilde diere name gee nie. Mnr. Natuurbewaarder, self Grietjie se kar het 'n naam. Haar naam is Saartjie.

Maar laat Grietjie liewer nie die bobbejaan agter die bult gaan haal nie.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!