Moenie die Woord geweld aandoen
DR. ELRITIA LE ROUX SKRYF:
Repliek op die brief "Noorde-predikante kap SA kerk oor gay dominee" (8 Maart 2019).
Geagte leraars van die NG Gemeentes Otjiwarongo en Tsumeb
Ek is nie lidmaat van die NG Kerk nie en ek is ook nie meer woonagtig in Namibië nie. Ek was vroeër leraar van die Nederduitsch Hervormde gemeente in Otjiwarongo en tans is ek leraar van die Nederduitsch Hervormde gemeente in Middelburg Mpumalanga.
Dalk is u bewus daarvan dat die Nederduitsch Hervormde Kerk tydens die laaste Algemene Kerkvergadering van 2016 met ‘n oorweldigende meerderheid aanvaar het dat persone uit selfdegeslagverhoudings wel in enige amp in die kerk mag dien mits die leraar en die kerkraad van die betrokke gemeente met die leer en lewe van die persoon tevrede is. Ten grondslag van hierdie besluit lê natuurlik die groot verskille wat daar tussen die NHK en die NGK bestaan ten opsigte van Skrifverstaan en Skrifuitleg. In die NHK het ons nog altyd die standpunt gehuldig dat nederigheid en voorlopigheid ons omgang met die Skrif behoort te definieer.
NEDERIGHEID
In die afgelope Sondag se erediens was die Skriflesing en prediking uit Romeine 11:33-36.
"O diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God! Hoe ondeurgrondelik is sy oordele, hoe onnaspeurlik sy weë! 'Wie ken die bedoeling van die Here? Wie gee Hom raad? Wie bewys Hom ’n guns, sodat Hy verplig is om iets terug te doen?' Uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Aan Hom behoort die heerlikheid tot in ewigheid! Amen."
Vir my blyk dit hieruit dat nederigheid en voorlopigheid by gelowiges pas as respons op die ondeurgrondelikheid van die Here. Ons as mense ken nie sy bedoeling nie. Die Here God is so gans anders as ons en daarbenewens kan ons ook nie aan Hom eise stel nie. God bewys sy barmhartigheid en genade aan wie Hy wil en Hy gaan nie die mens se toestemming daarvoor vra nie.
Wat ookal u standpunt oor homoseksualiteit as sodanig aanvaar ek dat ons van mekaar sal verskil en dit is orde so. Wat vir my van groter bekommernis is, is u Skrifhantering. In sommige van die tekste wat die afgelope weke deur u in die Republikein geplaas is, blyk dit dat u aanvaar dat u interpretasie van die Heilige Skrif gelykstaande is aan die Heilige Skrif self en dit kan tog nie. Daar is geen manier wat enige van ons kan weet wat die bedoeling van die Here God is nie.
Ons kan maar net nederig, biddend en in diepe afhanklikheid bid om sy leiding en dat Hy Homself meer en meer aan ons sal openbaar. Maar ons kan hoegenaamd nie voorgee om finaal en klinkklaar te sê dat hoe ons die Bybel lees en verklaar die een en al is nie. Dit is nie billik nie en dit is ook nie eerlik nie en dit doen na my mening die teks geweld aan.
Ons weet almal dat die ontstaan van die Bybel ‘n proses is wat oor millennia heen tot stand gekom het: vanuit die mondelinge oorlewering tot die totstandkoming van die eerste tekste tot die eind-redaksie en hierdie tekste was in Hebreeus, Aramees en Grieks en dit is nie een van ons se moedertaal nie en daarom moet ons die grondtale lees om die betekenis van die woorde wat uit ‘n wêreld en ‘n konteks kom wat vir ons so vreemd is, te kan probeer verklaar.
Die grootsheid van die proses vervul my elke keer wanneer ek met die Bybel besig is met heilige ontsag. Vir meer as 2000 jaar word hierdie tekste deur gelowiges regoor die wêreld gelees en uitgelê onder die leiding van die Heilige Gees en telkens kom ek tot die besef hoe klein en nederig ek en my beperkte verstaan van God en my realiteit binne hierdie grootsheid is. Ek kan onmoontlik wil voorgee dat ek weet wat die bedoeling van die Here is. Ek dink dit is uiters verwaand en aanmatigend.
Wanneer God Homself immers aan mense geopenbaar het, reageer mense met gebed en stilte. Hulle buig voor die aangesig van die Here met hulle gesigte plat teen die grond, want hulle besef hoe groot God is en hoe klein hulle is. En dan bly mense stil.
Mens kom nie in die teenwoordigheid van die Here in met groot bravade nie, maar met eerbied en ontsag. Ons bly stil en ons luister, want God moet praat en nie ons nie.
En ons moet bewus word van sy heerliheid en sy Goddelikheid. En dan besef ons hoe voorlopig ons verstaan van dinge is.
LIEFDE EN GENADE
Verder kan ‘n uitleg van die Skrif wat liefdeloosheid, haat, oordeel en verdoemenis in die hand werk tog nooit die bedoeling van die Barmhartige God van liefde en genade wees nie.
Wie stel ons in elk geval aan om te oordeel? Kom die oordeel nie maar God alleen toe nie?
So dikwels in die Nuwe Testament het Jesus Christus mense berispe wat die reg in eie hande wou neem en gesê dat die oordeel hulle nie toekom nie: die dissipels wat die kinders wou verhinder om na Hom toe te kom, die Fariseërs en die Skrifgeleerdes wat Jesus se liefde en deernis vir tollenaars en sondaars veroordeel het en Petrus wat sy swaard uitgepluk het en Malgus se oor afgekap het. Die oordeel kom ons nie toe nie.
Uiteindelik vra Gods Wet van ons alleen liefde – liefde is die vervulling van die Wet en dit doen die naaste geen kwaad aan nie. Dis wat God vra, nie om regter te speel nie.
Dit beteken dat ek ook mense moet lief hê wat anders as ek is en anders as ek dink. Natuurlik is dit menslik gesproke onmoontlik. Dit is iets wat alleenlik vir ons moontlik word omdat ons deur die liefde van Jesus Christus aangeraak is en daardeur gerig word. Wanneer ons in nederigheid bewus word van ons eie sonde en hoe groot die Here se genade vir ons is, dan behoort dit ons tog nederig te stem oor die “sonde” van ander?
Ek dink nie dat dit die kerk se werk is om te veroordeel en te verdoem nie. Die kerk is ‘n corpus permixtum en dis nie vir die arbeiders om die onkruid tussen die koring uit te haal nie. God sal regverdig oordeel.
Die kerk se taak is om God se liefde, barmhartigheid en genade in die wêreld sigbaar te maak.
In praktyk beteken dit dat ons die homoseksuele, ongeag ons standpunte oor hulle, pastoraal en liefdevol moet bystaan en ondersteun. Want wanneer die brood by die nagmaal gebreek word, sê ons tog: Die liggaam van Christus, vir u gebreek tot volkome verlossing van AL u sonde. Is daar dan sekere sondes wat nie deur God vergewe word nie? Of word die sondaar in totaliteit deur God aangeneem en nuutgemaak?
Die homoseksuele in ons samelewing het ons liefde, leiding en pastorale sorg nodig, allermins nog verdere oordeel en verdoemenis.
Ek doen ‘n dringende beroep op u om bogenoemde ernstig te oorweeg.
Ek wil hoegenaamd nie verdere argumente of gevegte uitlok nie. Ek pleit net vir nederigheid en voorlopigheid vir wanneer ons oor die Here God praat. Nie een van ons weet hoe groot sy genade werklik is nie en soos Moses, Jeremia en die dissipels sal ons dalk ook geskok en ontnugter wees oor wie almal deur Hom begenadig is, maar God kyk anders as ons na mense.
Ek bid u die Here se seën op u arbeid toe.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie