Moenie halsoorkop landuit met geld
Moenie halsoorkop landuit met geld

Moenie halsoorkop landuit met geld

Die buurland is ’n land met aantreklike beleggingsgeleenthede en hoë opbrengste, wat terselfdertyd met hoë risiko gepaardgaan.
Dawie Roodt – Ongekende ekonomiese en ander probleme staar Suid-Afrika in die gesig, hoofsaaklik weens ’n destruktiewe regering. Daarom wil baie mense halsoorkop alles oppak en padgee.

Maar voordat jy die verkeerde besluit neem, sit vir ’n oomblik terug en dink mooi . . .

Almal se omstandighede is anders en ’n goeie finansiële adviseur sal vir jou nommerpas-raad gee. Die volgende is wat ek aan my kliënte vertel: Onsekerheid sowel as werklike risiko’s en persepsies oor risiko’s is die hoofredes waarom almal in sak en as sit. Dit is ook die redes waarom die rand so swak is en waarom kapitaalmark-opbrengskoerse relatief hoog is – maar dit dui ook op die geleenthede wat daar is!

Suid-Afrika is ongetwyfeld ’n land met baie aantreklike beleggingsgeleenthede en hoë opbrengste, wat terselfdertyd met hoë risiko gepaardgaan. Daarom is die uitgeslape entrepreneur die persoon wat die voordele van die land se omgewing benut maar terselfdertyd sover moontlik die gevare probeer vermy.

Om suksesvol te wees, sal die uitgeslape entrepreneur in die eerste plek die risiko’s in sy bedryf en onderneming identifiseer en bestuur. As jy dit kan regkry, is winsgewendheid amper ’n uitgemaakte saak.

Risiko’s sluit goed soos arbeidskwessies, beleidsonsekerheid, die verval van dienste wat deur die staat verskaf word, die moontlikheid dat die staat jou eiendom gaan steel, ’n tekort aan elektrisiteit, oordadige belastings en misdaad in.

Maak plan met die risiko’s

’n Mens kan van dié risiko’s beperk deur byvoorbeeld so min moontlik mense in diens te neem, geld teen jou bates te leen sodat die bank die risiko saam met jou dra, buitelandse beleggers vir jou onderneming te kry, of strukture soos maatskappye en trusts te gebruik om jou eiendomsreg te beskerm.

Jou strategie moet natuurlik sin maak; moenie byvoorbeeld geld leen wat jy nie kan terugbetaal nie.

Die punt is, voordat jy die land halsoorkop verlaat, probeer eers jou risiko’s sover moontlik beperk.

Maak jou geld hier, maar vat dit dan landuit voordat moontlike valutabeheer-regulasies dit in die toekoms nog moeiliker gaan maak.

Een manier is om nie al jou wins terug te ploeg in Suid Afrika nie, maar om ’n groot gedeelte daarvan na ’n ander jurisdiksie te skuif – dus na die buiteland. Met ander woorde, maak jou geld hier, maar vat dit dan landuit voordat moontlike valutabeheerregulasies dit in die toekoms nog moeiliker gaan maak.

Die buiteland is nie net maanskyn en rose

Ongelukkig is hier ook baie slaggate. Die eerste en grootste slaggat is om seker te maak dat jy by die regte persone uitkom wat jy kan vertrou en wat vir jou die korrekte finansiële advies kan gee. Dít is jou verantwoordelikheid!

Daarna volg ’n hele aantal ander risiko’s en slaggate. Onthou dat ’n buitelandse belegging nie noodwendig dieselfde hoë opbrengste as plaaslike beleggings sal verdien nie, want die risiko is gewoonlik laer.

Verder moet jy ook onthou dat indien jy ’n buitelandse belegging maak, die belegging nie in rand gemeet moet word nie, maar die geldeenheid waarin jy belê het, tipies Amerikaanse dollar.

Dit beteken dat jou buitelandse belegging in randwaarde kan daal indien die rand verstewig – maak vrede daarmee!

Ek dink in elk geval dit is ’n redelike aanname dat die rand oor medium- en langer termyn sal verswak.

Verder moet jy ook onthou dat buitelandse beleggings ook wisselvallig kan wees. Daaraan moet jy ook gewoond raak.

Kies die regte struktuur

Probeer om nie van bateruil gebruik te maak as jy in die buiteland belê nie; hierdie geld is nie werklik “uit” nie. Kry eerder die nodige klaring en doen ’n regstreekse belegging in die buiteland.

Onthou ook die proses om geld in die naam van ’n maatskappy of trust uit die land te neem, is onwettig of baie moeiliker. Daarom moet jy die regte advies kry wanneer jy van sulke strukture gebruik maak. Daar is wel plek vir maatskappye en trusts, ook in die buiteland, maar maak seker voordat jy jou strukture verander.

Dit is ook van uiterste belang om jou buitelandse beleggingstruktuur reg te kry. Indien jy geld of beleggings in jou eie naam in die buiteland hou en jy kom te sterwe, is dit omtrent ’n nagmerrie om hierdie geld terug in jou boedel te kry, om nie eens van die buitelandse belastings te praat nie.

Daarom is ’n buitelandse polisstruktuur gewild. Jy kan enigiemand as die begunstigde(s) registreer en die geld kan, as jy dit reg struktureer, vir alle praktiese doeleindes steeds beskikbaar bly.

So ’n produk kan ook handig te pas kom by belastings en erfopvolging. Verder kan jy ook van lenings gebruik maak sodat jy geleidelik jou bates in die buiteland kry en terselfdertyd jou persoonlike boedel verklein om boedelbelasting te “bestuur”.

Verskeie tipe beleggings kan op hierdie wyse na die buiteland geskuif word. Selfs jou pensioengeld, afhangende van omstandighede, kan daarin belê word.

Nog ’n voordeel van so ’n struktuur is dat die onderliggende bates in onder meer ’n tipiese aandeleportefeulje bestuur kan word wat gewoonlik ’n beter opbrengs as bankrente verseker.

Die struktuur wat ek hier bespreek, is ’n redelik goedkoop variasie van wat ryk mense gewoonlik met hul geld doen. Maar dit kos steeds geld en ’n sekere minimum bedrag is gewoonlik nodig voordat dit sinvol is uit ’n koste-oogpunt. Die bedrae is nie só hoog nie; selfs so min soos R1 miljoen kan werk.

Soos ander ontleders is ek ook maar droewig oor die land se toekoms. Maar dit bly ’n lekker plek. Nêrens in die wêreld kan jy ’n soortgelyke lewenspeil handhaaf nie, en ons is die Wêreldbeker-rugbykampioene!

So, in plaas daarvan om weg te hol, sorg dat jy en jou gesin veilig is, bly op hoogte van sake, identifiseer die risiko’s wat op jou van toepassing is, maak seker jy kan daardie risiko’s bestuur, betaal so min moontlik belastings binne die wet en vat van jou geld uit die land.

Dit kan jou ’n tweede kans gee indien alles plaaslik skeefloop . . .

· Dawie Roodt is die hoofekonoom van Efficient Group en vorige wenner van Sake se Ekonoom van die Jaar-wedstryd. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!