Moenie nou dié tyd mors nie, Brittanje
En nog is het einde niet. Die Brexit-tragedie (of is dit ’n komiese opera in tien bedrywe?) duur voort.
Leopold Scholtz - Verlede week het die regeringsleiers van die Europese Unie (EU) op ’n spesiale spitsberaad in Brussel besluit op ’n buigsame uitstel van Brexit, met 31 Oktober as die laaste datum.
Indien die Britte hulle voor die tyd sover kan kry om op ’n koers te besluit, kan uittrede op eie versoek vervroeg word.
Die EU se opperste frustrasie met wat as Britse besluiteloosheid en onbekwaamheid gesien word, het geblyk uit die enigsins meewarige manier waarop Donald Tusk, president van die Europese Raad (die regeringsleiers), ’n beroep op die Britte gedoen het: “Moenie die tyd mors nie.”
Daar was ook ander verwikkelinge. Die eerste is dat die verenigde granietmuur waarmee die oorblywende 27 EU-lidlande teenoor die Britte gestaan het, vir die eerste keer ’n bars getoon het.
Pres. Emmanuel Macron van Frankryk het hom kwaai teen die verlening van die uitstel aan Brittanje verset, want hy sit met ’n groep wat ook uit die EU wil tree.
Ofskoon dié groep tans geen werklike politieke bedreiging vir hom inhou nie, wil hy euroskeptici wys wat die nadele van ’n Frexit is. Vandaar sy gebrek aan genade vir die Britte – hy wil ’n voorbeeld van hulle maak.
WESTMINISTER KOOK EN BORREL
Die res van die leiers, met bondskanselier Angela Merkel van Duitsland aan die voorpunt, het anders gedink. Merkel is altyd die een wat dinge nie op die spits wil dryf nie, wat wil bly praat – of dit nou met die Britte, die Russe of selfs die Amerikaners is.
Sy vrees ’n alte onversetlike houding teenoor die Britte kan dinge in Londen net verder beduiwel. Wees nou rustig; gee die mense kans om uit die gemors te kom wat hulle self geskep het, is haar houding.
Miskien lees ’n mens te veel in die verskil. Miskien is dit bloot ’n afgesproke strategie van good cop, bad cop.
Die punt is wel dat, tipies van die EU, ’n kompromis uiteindelik getref is. Nou is die stokkie weer in die hande van Westminster. En daar kook en borrel dit.
Theresa May, Britse premier, probeer wanhopig om die Arbeiders se steun vir haar Brexit-ooreenkoms te kry, maar dié se leier, Jeremy Corbyn, eis ’n groot prys daarvoor.
En in die Tories se agterbanke sit enkele tientalle hardekwas-LP’s gereed om die sinkende skip te verlaat en selfs die regering te laat val. Dis mense wat Brexit uit ’n rigiede ideologiese standpunt beskou. Hulle meen die EU is ’n internasionalistiese onding wat die “Groot” uit “Groot-Brittanje” gehaal het.
Die ironie is dat húl soort Brexit die land geweldige skade gaan berokken. Maar probeer nou om met ’n harde ideoloog te redeneer.
Die feit is dat die “Groot” al lankal weg en begrawe is. Dit is toenemend “Klein-Brittanje”.
– Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie