Moenie vir dié foefies val op Swart Vrydag

Kopers moet veral in hul pasoppens wees vir phising, word gewaarsku.
Petrus Malherbe – Swart Vrydag is op hande en kenners waarsku winskopiejagters om op die uitkyk te wees vir slenters.

Kopers moet veral in hul pasoppens wees vir sogenaamde uitvissings-e-posse, oftewel phising.

“Dit is uiters belangrik dat jy nooit op ’n skakel in ’n e-pos klik nie, al vertrou jy die handelaar,” sê Thomas van der Spuy, mede-stigter van EFTSecure, ’n plaaslike maatskappy wat aanlyn transaksies beveilig.

Van der Spuy sê boosdoeners stuur op belangrike inkopiedae soos Swart Vrydag vals e-posse, kwansuis van bekende handelaars, met ongelooflike aanbiedinge.

Boonop herlei die skakels in hierdie e-posse jou na webwerwe wat op ’n haar na soos die ware Jacob lyk, maar in werklikheid ’n vervalsing is.

Sy raad?

“Tik altyd self die adres vir die webwerf in. Dan weet jy mos jy is op die regte plek.”

Van der Spuy, wat saam met sy broer JP ook die betalingsplatform CallPay vir betalings per telefoon bedryf, het ’n paar wenke wat kan help om skelms hierdie Swart Vrydag in hul spore te stuit.

1. Doen jou aankope net op jou eie Wi-Fi-netwerk. Moet nooit jou kaartbesonderhede invul terwyl jy aan ’n openbare netwerk soos by ’n restaurant of selfs jou werk verbind is nie.

2. Maak seker jou webblaaier is opgedateer tot by die jongste weergawe. Webblaaiers soos Chrome en Mozilla werk dikwels hul veiligheidsprotokols by, wat jou teen kuberkrakers beskerm.

3. Maak seker die handelaar se webadres word vergesel van ’n ikoon van ’n klein, groen slot. Dit beteken dié blad is veilig en dat jou data gekodeer word voordat dit oor die internet gestuur word.

4. Gaan gereeld jou bankstate na en maak seker boosdoeners gaps nie klein bedrae nie.

“Baie mense ontvang geen SMS vir transaksies van minder as R100 nie,” sê hy.

Hoe veilig is dit om aanlyn betalings te doen?

’n Kwelvraag vir baie kopers is of dit enigsins veilig is om hul kredietkaartbesonderhede aanlyn te gebruik.

Van der Spuy verseker dit is wel veilig. Groot e-handelaars, soos Takealot en Superbalist, voldoen aan ’n internasionale lys standaarde waarvolgens kredietkaartbetalings plaasvind.

Hiervolgens geskied betalings via ’n tussenganger soos PayGate of PayU wat die transaksie met Bankserv bevestig.

Bankserv is die tussenganger tussen Suid-Afrikaanse banke en ook die diens wat ’n boodskap van jou bank aan jou gekoppelde selfoonnommer stuur om te bevestig dat dit jy is wat ’n transaksie wil doen.

Kleiner e-handelaars sal jou herlei na ’n PayGate- of PayU-platform om jou kredietkaartbesonderhede te verskaf. Dit is geen rede tot kommer nie, want dit wys juis die transaksie is veilig en boonop ook dat die e-handelaar geen van jou kredietkaartbesonderhede op sy bedieners stoor nie.

Van der Spuy is egter ’n voorstander van kits- elektroniese geldoordrag, oftewel instant EFT, as veilige betaalmetode.

Daarvolgens word die koper herlei na sy internetbankdienste, waarvandaan die betaling geskied.

“Dit is baie veiliger, want net jy kan ’n nuwe begunstigde toevoeg en derhalwe sal elke transaksie deur jou goedgekeur word,” sê hy.

Tans is kredietkaarte steeds die voorkeur-betaalmetode aanlyn. Tot 30% van betalings geskied met elektroniese geldoordrag terwyl die meerderheid kredietkaartbetalings is. ’n Klein hoeveelheid betalings geskied met ander metodes soos kontant by aflewering of lojaliteitsprogramme soos eBucks of Discovery Miles.

Hoewel kredietkaartbetalings ook voordele bied, is elektroniese oorbetalings in die algemeen veiliger en boonop geriefliker aangesien jy net jou aanmeldbesonderhede vir jou internetbankdienste hoef te onthou.

Maar die voordeel van kredietkaartbetalings is dat jy ses maande het om dit om te keer as jy nie tevrede is met die produk wat jy ontvang het nie, of as jy ingedoen is deur ’n maatskappy wat eintlik nie bestaan nie en ’n produk of diens aan jou “belowe” het.

“So selfs al word jou kredietkaart misbruik, sal jy steeds nie geld verloor nie,” sê Van der Spuy.

Moet ook nie hiervoor val nie:

Thomas van der Spuy, ’n kenner van veilige aanlyn betalings, waarsku dat maatskappye oorgehaal is om kopers op Swart Vrydag met ’n slap riem te probeer uitvang.

Hy waarsku:

Moenie halsoorkop iets koop nie, want handelaars smous gewoonlik ou voorraad op Swart Vrydag waarvan hulle net ontslae wil raak.

Wees op die uitkyk vir versteekte koste, soos uitspattig hoë verskepingstariewe of ’n “verpligte” versekering wat uitgeneem moet word.

Maak seker die prys van die item bly dieselfde van die oomblik dat jy dit in jou koopmandjie plaas totdat jy by die betaalpunt kom. Dit geld aanlyn sowel as aankope in winkels.

Pasop vir vals promosies waar geweldige afslag op ’n spesifieke produk geadverteer word, maar die promosie bestaan nie werklik nie. Dis eenvoudig ’n manier om voete oor die drumpel te kry.

Moet ook nie die “afslag” wat die handelaar bied vir soetkoek opeet nie. Doen navorsing oor wat die produk eintlik kos en vergelyk dit met die afslagprys en kyk of dit regtig soveel afgemerk is as wat die handelaar spog. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!