Moerat in binnebaan vir ‘Bomb Squad’

Rugby
Stephen Nell – Salmaan Moerat staan waarskynlik voor in die tou om hom by die Springbokke se “Bomb Squad” aan te sluit nadat Munster Dinsdag die erns van RG Snyman se kniebesering bevestig het.
Volgens munsterrugby.ie het ’n skandering gewys dat Snyman ’n kruisligament in sy linkerknie geskeur het en gaan hy nou ’n spesialis oor ’n operasie en die bestuur van die besering spreek.
Munster se bevestiging van die omvang van die 25-jarige Snyman se besering is ook ’n terugslag vir die Bokke se ambisies indien hulle wel later vanjaar in die Rugbykampioenskap sou speel.
Soos sake tans staan, is daar nog nie eens formeel bevestiging van wanneer weer plaaslik gespeel gaan word nie, terwyl die coronavirus weer kop uitgesteek het in Nieu-Seeland, waar die Rugbykampioenskap waarskynlik gespeel gaan word. Tans is daar egter net 129 bevestigde gevalle by die Kiwi’s en lyk dit asof dit onder bedwang is.
Behalwe vir Moerat, kan Marvin Orie (Leeus), asook die Bulle se Sintu Manjezi en Jason Jenkins, ook aanspraakmakers wees op ’n plek in die Bok-groep.
Orie was verlede jaar twee keer ’n plaasvervanger vir die Bokke (teen Australië in Johannesburg) en Argentinië (in Pretoria), terwyl hy ook op die bank was in Rassie Erasmus se eerste toets as Bok-afrigter teen Wallis in Washington in 2018.
Manjezi het op sy beurt al ’n barshou vir die Cheetahs gespeel, terwyl Jenkins ook in die span was wat in 2018 teen Wallis in Amerika gespeel het. Hy het ’n korttermyn-kontrak met die Bulle gesluit om in die Curriebeker-reeks te speel.
JD Schickerling, ’n spanmaat van Moerat by die Stormers, sou twee seisoene gelede straks sterk in die prentjie gewees het, maar sy aanspraak is waarskynlik ’n knou toegedien nadat hy in verlede jaar se Curriebeker-reeks sonder sukses as ’n flank ingespan is.
Dit sal sin maak indien Moerat deur die Bok-afrigter, Jacques Nienaber, nader getrek word. Moerat was immers in 2018 die kaptein van die SA o.20-span en het ook al gereelde blootstelling aan Superrugby gehad.
Ongeag wie die tree na bo neem, sal dit bitter moeilik wees om ’n taai kalant en vaardige baldraer soos Snyman te vervang.
Hy was ’n integrale deel van die Bokke se sogenaamde Bomb Squad – die sterk groep plaasvervangers wat in die tweede helfte van wedstryde by die 2019 Wêreldbeker-toernooi in Japan met groot sukses opgestuur is.
’n Ander opsie – indien plaaslike rugby nie binnekort gespeel word nie – kan wees om oorsee te soek vir Suid-Afrikaners wat daar stempel afdruk.
Dit ly egter min twyfel dat daar plaaslik goeie opsies is en veral Moerat word sedert ’n jong ouderdom al gebrei om die Groen-en-goud te dra.
Maar vertonings in die CB-reeks vanjaar – indien dit ooit vanjaar gespeel word – kan uiteindelik bepalend wees. – Netwerk24

FOTOS

RG Snyman se skoene sal baie moeilik wees om vol te staan in die Springbokke se 23-tal. Foto Getty Images

Salmaan Moerat, kaptein van die SA o.20-span in 2018, kan straks vanjaar deur die Bok-afrigter, Jacques Nienaber, betrek word. Foto Getty Images

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!